Dis moeilik om sexy te voel in ’n slaapkamer met waterskade teen die plafon, stukkende linne en ’n babawiegie in die hoek. Met dié twaalf wenke kan jy jou slaapkamer op ’n goedkoop en maklike manier meer sensueel maak.
Het jy en manlief al in ’n luukse hotel gebly? Met swaar gordyne, kristalglase, kandelare, weelderige beddegoed? Dit is genoeg om aan enigeen daardie Pretty Woman-gevoel te gee! En dit is baie makliker om in só ’n kamer jou klere sensueel uit te trek, sommer net daar op die dik mat te los en die res aan die verbeelding oor te laat. Só ’n slaapkamer pas nie in enigeen se begroting nie, en ook nie om elke nou en dan ’n duur hotelkamer te bespreek vir goeie seks nie. Dit is egter moontlik om jou eie slaapkamer met ’n paar slim wenke te verander . . .
- Maak aan die kant! Hiermee bedoel ons dat julle alles wat nié in ’n slaapkamer hoort nie, daar uithaal. Daardie lelike groot flitslig moet in ’n laai gebêre word. Die ou, maar gemaklike, japon wat ’n permanente lêplek oor ’n stoel gekry het, moet kas toe. En die boublokkies moet ’n tuiste in die speelkamer vind.
- Verf die mure (nie rooi nie). ’n Nuwe laag verf is die goedkoopste manier waarop jy nuwe lewe aan ’n saai slaapkamer kan gee! Dink aan donker, diep kleure en watter atmosfeer jy hiermee wil skep. Spierwit kan vars wees, maar ook klinies voel. Hou dus eerder by ryk, warm, diep kleure.
- Moenie die waarde van muurversierings onderskat nie. Kuns teen die muur is belangrik. Dit laat ’n kamer afgerond en ingeleef voel. As jy nie goeie kuns kan bekostig nie, het Pinterest allerhande oulike idees vir hoe om jou eie romantiese kuns te skep. Onthou, kuns kan enigiets wees – van mooi foto’s (van jul troue of wittebrood) tot woordkuns, tot ’n dekoratiewe voëlkou wat iewers in ’n hoek hang.
- Bring geur in jou slaapkamer in. Gebruik kaneelstokkies, naeltjies, sitrus, laventel, roosmaryn of vars blomme om jou kamer lekker te laat ruik. Dit sal bydra tot ’n sensuele atmosfeer.
- Teksture, teksture . . . Om jouself met verskillende teksture te omring, kan ’n groot verskil maak. Dink aan satynlakens, ’n dryfhout-kandelaar, deursigtige gordyne, faux fur oorgooi-dekens . . . Dis ’n truuk wat talle binnenshuise versierders al bemeester het. Hou dit klassiek deur aardse kleure te gebruik – bêre dus maar die rooi en die diermotiewe!
- Oorweeg ’n dramatiese aksent. ’n Glaskandelaar of ’n treffende kopstuk kan die wêreld se verskil maak. Doen dit egter subtiel en balanseer dit uit met ’n meer minimalistiese gevoel in die res van die vertrek.
- Onthou die natuurelemente. Laat wind in deur die vensters oop te maak sodat die bries met die gordyne speel. Bring water in deur ’n groot glasvaas met blomme. En oorweeg dit om ’n kaggel in jul slaapkamer in te bring (lees ons artikel oor kaggel-seks en jy sal verstaan hoekom!). As dit te veel vir jul begroting, spasie of senuweevlakke is, gebruik kerse. Oorweeg dit om verskillende wit kerse in verskillende groottes en hoogtes saam te groepeer.
- Vervang jul gloeilampe. ’n Slaapkamer is nie ’n plek vir helder beligting nie. Die bedlampies moet wel sterk genoeg wees sodat julle in die lig daarvan kan lees, maar hou dit so sag as moontlik. Oorweeg dit ook om ’n verdofskakelaar vir jul hoofligte te laat installeer.
- Kry groot spieëls. Nie net laat dit jul slaapkamer groter vertoon nie, dit skep ook ’n speelse element in ’n slaapkamer waar julle mekaar in aksie kan aanskou!
- Inkorporeer draperings en maak vir julle ’n hemelbed. ’n Nuwe hemelbed is duur, maar jy kan jul eie bed ’n romantiese oormaaksessie gee met gordyne wat romanties rondom dit hang. Besoek gerus dié skakel om te sien hoe jy dit doen: http://www.apartmenttherapy.com/diy-cheap-canopy-bed-168372.
- Laat jou gordyne se some uit. Kry iemand om dan weer ’n klein soom in te werk. Luukse gordyne hang nie, maar “sit” op die vloer. Dit gee ’n gevoel van weelde en oordadigheid.
- Skuif die meubels rond. Soms is daar bloot nie genoeg geld nie, maar jy voel vasgevang in jou trae slaapkamer. Deur net stap een te volg en dan die meubels effens rond te skuif, kan jy jou slaapkamer ’n nuwe voorkoms gee sonder om ’n sent uit te gee!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.yahoo.com, the budgetdecorator.com.