Die ouderdom tussen kindwees en tienerwees is uitdagend. Nóg vis, nóg vlees. Binnekort gaan jou kind groot liggaamlike en emosionele veranderinge beleef – hoe berei jy haar hierop voor?

Promosie

Ouerskap! Hierdie taak is verseker nie vir sissies nie. Al is ouerwees seker dié grootste seëning op aarde, is dit ook belaai met ontsaglike uitdagings. Ongelukkig lewe ons in ’n wêreld waar ons en ons kinders op ’n daaglikse basis gebombardeer word met dinge van ’n seksuele aard. Ons moet seker maak dat ons stem, ons waardes en ons lewenslesse harder praat as die wêreld se boodskappe deur ouderdomsgepaste inligting te verskaf, al hul vrae so eerlik as moontlik te beantwoord, uit te kyk vir leer-oomblikke en ’n sterk verhouding met ons kinders te bou.

Hoe berei jy jou tween voor op puberteit?

Eerstens kan jy maar onmiddellik aanvaar dat jou tween meer weet as wat jy dink. Die probleem is dat die inligting wat hulle by maatjies, op die Internet of op televisie kry beperk is en nie korrek nie! Seksvoorligting behels ’n kombinasie van biologie, emosies en waardes.

Promosie

Die inligting wat kinders so toevallig en stuk-stuk bymekaar maak, val grotendeels in die biologie-kategorie – die idee van stabiele, gelukkige, gesonde verhoudings vorm nie regtig deel van die sensasionele inligting wat gedeel word nie. Die inligting wat hulle wel bymekaar maak, fokus ook primêr op die seksdaad en baie kinders is totaal onvoorbereid vir die fisiese en emosionele veranderinge wat hulle self in hul lyfies ervaar tydens hierdie fase.

Puberteit begin lank voor menstruasie en wet dreams hul verskyning maak. Hormone word deur die hipofise afgeskei, wat op hul beurt lei tot die produksie van estrogeen en progesteroon, wat in meisies afgeskei word, en testosteroon, wat in seuns afgeskei word. Meisies bereik gewoonlik puberteit op die ouderdom van tussen 9 en 12, en seuns tussen 11 en 14.

Wat moet jy jou tween leer wat hy/sy nie alreeds weet nie?

Hoe babatjies gemaak word. Jy kan dit só verduidelik: ’n Spermselletjie en ’n eierselletjie kom bymekaar uit en vorm dan ’n babatjie, wat in ’n baie spesiale plekkie binne-in die mamma se lyf veilig bly en ontwikkel tot die babatjie reg is om gebore te word. Die spermselletjie kom van die pappa af en die eierselletjie van die mamma af (biologie), daarom is dit baie belangrik dat die twee mense wat saam ’n babatjie maak, baie lief is vir mekaar en getroud is (waardes).

Soos jou tween ouer word, fisiek en emosioneel ontwikkel en meer begin vra oor hierdie inligting, brei jy eerlik uit. Dis uiters belangrik om ook net hier te noem dat hoe jou kind oor seks en seksualiteit gaan dink en voel as volwassene, grotendeels deur jou as ouer beïnvloed word. Daarom moet jy seker maak dat jy die onderwerp gesond aanpak.

Hulle moet verstaan dat God ons so amazing gemaak het, dat ons lyfies sommer vanself begin verander en groei en dat sekere veranderinge of “groei” aan die buitekant raakgesien kan word (soos borste en hare) en dat ander veranderinge of “groei” alles aan die binnekant plaasvind, dalk selfs sonder dat ons enige iets aan die buitekant agterkom.

Hulle moet voorbereid wees op menstruasie en wet dreams, en emosies en gedagtes rondom die teenoorgestelde geslag – alles normale ontwikkeling.

Die gevare waarvan jy jou tween bewus moet maak

Al is seks en seksualiteit ’n mooi, normale Godgegewe deel van ons lewens, is daar wel gevare waarvan ons ons kinders bewus moet maak:

Dis belangrik dat:

  • Kinders moet weet dat seks iets is wat gebeur wanneer albei partye gemaklik is daarmee en toestem daartoe. Dat persoonlike ruimte respekteer moet word en dat dit nooit okay is as jy nie iemand anders se ruimte respekteer of iemand nie jou persoonlike ruimte respekteer nie.
  • Hulle weet dat seks meer as net fisies is. Dat wanneer ons dit as bloot ’n fisiese aspek sien, ons eintlik baie skade aan verhoudings, aan onsself en die ander individu kan berokken.
  • Hulle weet dat daar seksueel-oordraagbare siektes is.
  • Hulle weet dat daar wel mense is vir wie seks nie ’n Godgegewe mooi is nie, maar wat seks bloot vir die fisiese plesier gebruik .
  • Hulle bewus gemaak word van die leuens wat die media en die wêreld oor kuisheid, seksualiteit en selfwaarde vertel.
  • Hulle uiters bewus gemaak moet word van die gevare wat die Internet/tegnologie inhou rondom alles wat seksueel is. Hulle moet weet dat daar mense is wat al sonder hul wete afgeneem is, dat video’s op die Internet soos veldbrande kan versprei en dat jy dit nooit kan afhaal nie.

Hoe berei jy hom/haar voor op dit wat met hul lywe gebeur en die versoekings wat voorlê sonder om spoke op te jaag?

Berei jou kind voor deur om aktief geleenthede te skep om hieroor te praat – moenie wegskram van die onderwerp of vrae probeer ontwyk nie. Verseker jou kind dat alles wat sy/hy gaan ervaar normaal is en deel van God se plan is – dis hoe Hy ons geskape het en daar is niks daarmee fout nie.

Vir meisies

Maak iets soos menstruasie iets om na uit te sien in jou dogter se lewe. Maak ’n mooi badkamersakkie op met ’n lekker sepie, reukwater, ’n spesiale armbandjie en ’n pakkie doekies. Wys dit vir haar en verduidelik dat jy nie kan wag om hierdie vir haar te gee nie. Bêre dit in jou kas en wanneer sy dit nodig het, is dit klaar reg. Julle twee, as ma en dogter, kan dan selfs die geleentheid alleen gaan vier met ’n melkskommel.

Maak ook seker dat sy tydens hierdie fase ’n klein houertjie of sakkie in haar tas saam met haar skool toe vat, vir ingeval sy vir die eerste keer by die skool begin menstrueer. Wys vir haar mooi hoe om die produkte te gebruik.

Vir seuns

Gee altyd ouderdomsgepaste inligting en bou daarop voort. In die puberteitsfase is hierdie “harde” penis dus ’n aanknopingspunt vir die volgende gesprek rakende wet dreams, wanneer jou seun in sy slaap ejakuleer. ’n Pappa kan hier ’n uiters waardevolle rol speel. Berei jou seun hierop voor sodat hy nie deurmekaar en onseker wakker word nie. Verduidelik ook hoe hy dit moet hanteer wanneer dit gebeur en dat hy enige tyd met jou kan kom gesels as hy verdere vrae het.

Moenie die waarde van jou voorbeeld onderskat nie. Ons kinders leer vreeslik baie by ons bloot deur te observeer. Maak dus seker dat jou voorbeeld rakende higiëne, verhoudings en selfbeeld die regte boodskappe oordra.

As jou kind weet hy kan met jou oor enige iets kom praat en as sy weet dat jy haar nie gaan veroordeel of verkleineer nie, as jy die gesprekke oop en eerlik benader, sal seksopvoeding vir jou tween kinderspeletjies wees.

 

Deur Anri van den Berg