Waar is die dae toe jy en jou maat ’n hele Saterdagoggend in die kooi kon deurbring? Die dae van lang, uitgerekte kersligetes en droomverlore window shopping? Jou tyd is waardevol en as mense of dinge dit nie kan kry nie, word dit summier gesteel. Ons wys jou hoe om dit terug te vat!

Promosie

Een van die voordele – én nadele – van ’n huwelik is dat ’n mens voel dat jou maat altyd daar sal wees. Wanneer die baas tevrede gestel is, die kinders emosioneel en fisiek versorg is, die honde uitgesorteer is . . . is jou maat steeds daar. Geduldig (of nié)  by die huis. En al wat oorbly, is die krummels van jou tyd. Daar is altyd iets wat dringender, belangriker of ernstiger is as om nóú langs hom of haar te gaan sit en net te wéés. En só skuif ’n mens maklik die belangrikste persoon op die agtergrond – tot jy eendag skielik besef: Hier is moeilikheid!

Gebruik dié praktiese planne om jou huwelik te beveilig en toe te sien dat ánder se tyd nie jou huwelik s’n steel nie . . .

  1. Verfyn jou doenlysie. Volg Stephanie Vossa (outeur van The five-minute mom’s club: 105 tips to make a mom’s life easier. Deel dít wat jy moet doen in drie kategorieë: Beslis, asblik en delegeer. Gaan nou deur elke item en vra jouself af: “Wat gaan gebeur as ek dit nié doen nie?” Skuif dít wat jy uit gewoonte of skuldgevoelens doen na die asblik-lysie toe. Besluit wat deur iemand anders gedoen kan word (byvoorbeeld ’n baba-oppasser, buurvrou of kollega) en skuif hierdie items na die delegeer-lysie toe. Laat plakkers maak vir die items in jou beslis-lysie, meen Stephanie. Happy face-plakkers by dit wat jy graag wíl doen, dollar-plakkers by dit wat jou geld spaar en horlosie-plakkers by dít wat jou tyd gaan spaar. Hierdie plakkers sal jou herinner waarom jy dit moet doen.
  2. Doen die sleurwerk sáám. Daar is dinge wat net gedoen móét word. Ja, jy kan saam met jou maat na die nuutste episode van jul gunsteling-reeks kyk, maar éérs moet die hoender (wat gaan verval) gaargemaak word, die kinders se kosblikke gepak word, die spelwoorde gevra word, die melk gekoop word . . . die geheim is om hierdie dinge sáám aan te pak en selfs hierdie aaklige take te sien as gehaltetyd. Kook saam, smeer die brood terwyl hy die kaas rasper, maak beurte om die spelwoorde te vra . . . dis die klein oomblikke elke dag wat saak maak.
  3. Moenie hulp weier nie en leer jou kinders selfstandigheid. As jy mooi daaroor dink, is daar verskeie hulpbronne rondom jou wat jou kan tyd spaar. Dikwels is ons net te trots om daardie hulpbronne in te span. As jou vriendin aanbied om jou kinders op te pas, aanvaar die aanbod met dankbaarheid. As jy ’n kinderoppasser het, span haar in om babakos voor te berei, die kinderspeelgoed weg te pak en die kinderkamer se linne te was. As jy aanlyn inkopies kan doen, hoekom nie? Leer jou kinders ook van vroeg af selfstandigheid. As hulle leer hoe om hul kamers aan die kant te maak en self navorsing vir huiswerk te doen, spaar dit jou tyd – wat jy weer aan jou huwelik kan wy.
  4. Gaan slaap saam. Dit is soms ’n uitdaging, maar probeer jul dinge só skeduleer dat julle saam in die bed klim. Ja, dit kán vir julle tyd wen! Want daar is geselstyd terwyl julle gereed maak vir bed. En wanneer julle tussen die lakens lê, kan julle praat oor dinge wat die dag gebeur het en julle nog nie kans gehad het om met mekaar te deel nie. Boonop is daar miskien ook nog ’n geleentheid vir ’n quickie . . .
  5. Beperk direkte televisie. As julle nog nie ’n DSTV Explora met ’n PVR-funksie het nie, maak seker julle kry een. Probeer om niks in “real time” te kyk nie, maar alles waarna julle wel wil kyk op te neem en later te kyk, sodat julle nie doelloos deur die advertensies hoef te worstel nie. Advertensies is tydrowend en kan tyd steel wat julle soveel beter kan benut. As dit nie anders kan nie, draai na mekaar toe in die advertensies en gesels, of gee mekaar ’n warm soen! Moet net nie dat daardie minute verby tik sonder dat julle iets daarvoor kan wys nie.
  6. Eet saam – om ’n tafel. Daar is sekere dinge wat nie uitgeskuif kan word nie. Eet is een van hulle! Julle moet in ’n stadium jul tenks volmaak, so maak seker dat julle dit saam doen. Om ’n tafel. Dit is nie net kosbare huwelikstyd nie, maar ook tyd vir jul kinders om gehaltetyd saam met julle albei deur te bring.
  7. Skeduleer tyd vir mekaar in jul dagboeke. Dit klink verregaande, maar dink mooi hieroor. Wat van 16:00 tot 18:00 een dag van die week. Julle kan dit oorweeg om op daardie dag ’n uur vroeër te gaan werk of etenstyd oor te slaan. Daardie tyd word dan in jou kalender ingevoeg en mag onder geen omstandighede gekanselleer word nie. Julle kan elke week besluit wat julle in daardie tyd wil doen – selfs al besluit julle om ’n middagslapie te neem . . . solank julle dit saam doen.
  8. Vermy chaotiese oggende! Dit klink vanselfsprekend, maar daar is sóveel huishoudings waarin dinge soggens so ’n dolle gejaag is dat die kinders in trane skool toe gaan en jy en manlief uit pure senuwees mekaar toesnou. Dis nie ’n goeie begin vir enigeen se dag of enige paartjie se huwelik nie. Deur te organiseer, spaar jy eintlik dubbel die tyd. Maak die aand vooraf toebroodjies, kry ’n spesifieke mandjie vir die sleutels, beursies en selfone sodat julle nie kosbare minute mors deur hierna te soek nie. Laat manlief hake by die deur opsit waaraan baadjies, reënjasse en skooltasse gehang kan word. Skep ook ’n roetine sodat elke oggend rustig, voorspelbaar en krisisvry kan verloop.
  9. Dink in grootmaat! Voor jy ’n sleurprojek aanpak, vra jouself die volgende vraag: Gaan ek binnekort dieselfde taak van voor af moet doen? As die antwoord “ja” is, dink aan maniere waarop jy dit in grootmaat kan doen sodat dit jou in die toekoms tyd kan spaar. Wanneer jy kaartjies moet uitsny vir jou kind se redenaarstoespraak, sny nou sommer genoeg uit vir al die toesprake vir die res van die jaar. Wanneer jy en jou kind ’n skooltaak aanpak, koop genoeg voorraad vir die volgende taak. Wanneer jy die Sondagmiddagete kook, kook sommer genoeg groente vir die res van die week.
  10. Bid saam. Dit is daardie 15 minute wat julle soggens vroeër opstaan – vóór die kinders gillend in die gang afhardloop, die honde begin blaf en (as julle een het) die haan begin kraai! Raak saam stil. Sit oorkant mekaar, hou hande vas en raak regtig stil voor die Een vir wie jul huwelik die héél belangrikste is.

 

Promosie

Deur Annelize Steyn

Addisionele bron: www.parents.com.