Ek sit met ’n groot probleem. My verloofde het al dikwels vir my gejok. Dit pla my elke keer soveel dat ek begin snuffel en soek tot ek self uitvind waaroor hy jok. Ek het hom al uitgevang dat hy skelm dobbel terwyl ek onder die indruk was dat ons finansiële probleme het – dit was hý wat al die geld laat verdwyn het! Hy het my eenkeer by die werk kom haal en gesê dat hy in die stad beroof is, en dat sy foon en geld gesteel is, maar hoe snaaks is dit dat hulle nie ons kar gevat het nie? Nog iets wat nie sin gemaak het nie, was die feit dat hy sy simkaart en beursie met bestuurslisensie en bankkaarte by hom gehad het na die sogenaamde kaping.

Promosie

Ná ek van sy dobbelprobleem uitgevind het, het die hele storie sin gemaak. Dit was vir my ’n reuse skok en die heel laaste ding wat ek van hom verwag het. Ek het hom amper gelos, maar besluit om hom nog ’n kans te gee. Dit het my lank geneem om hom weer te vertrou – en toe gebeur dieselfde ding weer. Dié keer het hy blykbaar sy foon “verloor” en die bank het ons laaste geld vir die maand afgetrek vir “bankkostes”. Ek vertrou hom glad nie meer nie. Hy jok vir my oor sy eks en sy pa – hy onthou nou blykbaar nie wat sy pa se naam of van was nie. Hy jok vir my oor finansies, oor ons ander voertuig . . . ek ken myself en weet ek sal hom nooit weer kan vertrou nie. Ek sal nie rus en vrede in my hart hê tot ek alles van hom weet of self goed uitgevind het nie.

Al dié dinge pla my konstant. Ek is verskriklik lief vir hom, so my vraag is: Is dit ooit nog die moeite werd om saam met hom te wees of enigsins met hom te trou as ek voel soos ek voel?

Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige, terapeut en seksuoloog, antwoord:

Promosie

As een persoon in ’n paartjie jok, is dit dalk ’n ernstige waarskuwingsteken. Hoekom het iemand nodig om vir sy verloofde te jok? Hoekom is dit okay dat hy jok? Hier is ’n paar waarskuwingstekens dat daar probleme in julle verhouding is wat jou beslis twee keer behoort te laat dink voor jy met hom trou:

  • As die eerlikheid en openlikheid tussen julle kwyn.
  • As julle nie op dieselfde bladsy is rakende geld, getrouheid, afhanklikheid van middels, alkohol of dobbel nie.
  • As die kommunikasie tussen julle nie eerlik en duidelik is nie.
  • As julle sukkel om met mekaar te praat sonder om mekaar aan te val of om te luister sonder om te verdedig.

Dit klink vir my asof jy en jou verloofde met al hierdie dinge sukkel en asof jou sesde sintuig vir jou sê dat hy net regtig nie eerlik is met jou nie – ek vermoed jy het groot rede tot kommer!