Dis jou tweede huwelik en skielik is jy in ’n saamgestelde gesin. Aan die een kant is daar die kinders vir wie jou hart breek oor hierdie nuwe “gesinsopset”. Aan die ander kant is daar jou man, wat steeds as koning van die huis gekroon moet word…

Promosie

Jy doen jou bes om jou nuwe man as die hoof van die huis te respekteer en hom jou eerste prioriteit te maak. Maar dan is daar jou kinders wat verwag dat jy húlle kant moet kies in ’n konfliksituasie. Dié geestelike uitdagings in ’n saamgestelde gesin is nimmereindigend.

SORTEER PROBLEME DIREK UIT

Tanja Conradie vertel hoe hulle in hul mengelmoes-familie oorleef en sorg vir harmonie. “Ek is 27 en my man 47. Ons het saam sewe kinders waarvan sy oudste dogter vyf jaar jonger as ek is. Jy kan jou seker indink hoe ongemaklik situasies soms kan raak. Om die kersie op die koek te sit, bly my skoonouers al vir drie jaar lank by ons. “Ons deel een kind (drie jaar oud) en dan het ek twee ander kinders. Daar is 80% van die tyd êrens ’n probleem. Weens ons ouderdomsverskil sien ons boonop dikwels situasies uit verskillende oogpunte. Die beste manier waarop ons probleme oplos, is deur dit direk met die betrokke persoon op ’n menslike en ordentlike manier uit te sorteer sonder om jou gewig rond te gooi.

Promosie

“Ek leer my kinders om my man te respekteer. Ek misluk soms in my pogings om hom eerste te stel, maar ons klou só aan mekaar vas dat ons nie sonder mekaar sal kan cope nie.”

HANTEER DIE TRAUMA UIT DIE VERLEDE

Prof Wentzel Coetzer, ’n professor in praktiese teologie aan die Noordwes Universiteit, sê dat hy in die praktyk dikwels te make het met ’n gesin wat elkeen in ’n mindere of meerdere mate getraumatiseer is en emosioneel verwond is deur gebeure in die verlede, en as gevolg daarvan worstel hulle almal met ’n klomp onverwerkte emosies.

“Die oplossing moet gevolglik in sulke situasies eerstens gefokus wees op gesinsterapie, waar daar eers individueel saam met elke gesinslid sy/haar verhaal deurgewerk word en alle aspekte van hartseer en verlies en onafgehandelde emosionele bagasie uit die verlede geïdentifiseer word, deurgewerk word en ook ‘deurgebid’ word terwyl ’n aspek soos wedersydse vergifnis ook hoog op die agenda sal wees,” sê Wentzel.

Met die gemiddelde saamgestelde gesin sal daar gewoonlik ’n hele paar sulke sessies met verloop van tyd moet plaasvind voordat die wa uiteindelik deur die drif is. Namate die emosionele stresvlakke begin afplat en daar meer begrip vir mekaar se pyn en hartseer begin intree, kan daar in gelyke mate al meer fokus geplaas word op die rol en die gesag van die Woord.

Gaandeweg gaan die tieners in hierdie huis dan ook al meer bereid wees om byvoorbeeld ’n nuwe pa te aanvaar as die nuwe geestelike hoof van die gesin en hom ook toelaat om geestelik in

hulle lewens in te spreek. Die groot voorwaarde is egter dat hy aanvanklik aan hulle die boodskap helder en duidelik sal moet kommunikeer dat hy homself voluit daartoe verbind om die taal van hulle harte te probeer verstaan – eers dan sal hulle hom toelaat om vir hulle daaglikse riglyne neer te lê. Om hierdie volgorde te probeer omkeer, impliseer gewoonlik net verdere opstand, rebellie en nog meer uitdagende gedrag.

Erika Nell, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, verduidelik die rol van die ma in so ’n gemengde huwelik as volg: “Die ma loop die risiko om geweldig uitgeput te voel deur gedurig as buffer tussen haar man en kinders op te tree, en dan die onderhandeling van die innerlike konflik tussen haar lojaliteite en verantwoordelikheid teenoor beide.”

GESAMENTLIKE NORME VIR DIE NUWE GESIN

Volgens Erika is dit baie belangrik dat beide huweliksmaats oor optimale kommunikasievaardighede beskik sodat hulle doeltreffend hul behoeftes aan mekaar kan kommunikeer en daaroor kan onderhandel om ’n middeweg te vind. “Dit is veral belangrik sodat die egpaar ’n betekenisvolle gesprek kan hê en gesamentlike norme vir die huis kan skep. Verder is dit belangrik dat die vrou nie die dissipline, veral aan die begin, aan haar man oorlaat nie, maar dat sy die primêre verantwoordelikheid van dissipline neem. Dit voorkom die bedreiging vir die kinders dat haar man probeer om die pa-rol in te neem. Sou haar man die dissiplineerder wees, is daar ’n groot risiko dat die kinders opstandig teenoor hom sal voel. Hy kan ondersteuning toon vir haar hantering van sake.”

KWEEK EENHEID

“Dit is van geweldige nut as die lede van die huis, ouers en kinders, nabye en gesonde verhoudings bou en eenheid in die huis gekweek word. Dus kan die ma gerus gehaltetyd fasiliteer tussen die lede deur speletjies saam te speel waar kinders beurte kry om saam met haar, dan haar man, en dan met broers of susters alternatiewelik in ’n span te wees. Hierdie aksie bou kameraadskap en samesyn. Dit bied ook die geleentheid om mekaar beter te leer ken. Dit kan verder ontwikkel in haar man wat afsonderlike gehaltetyd saam met die kinders spandeer. Gevaarligte flikker waar daar nie spasie vir onderhandeling is nie, waar geen respek vir mekaar se behoeftes getoon word nie, en waar voortdurende aftakeling en emosionele of fisieke mishandeling plaasvind. Dit sal maar altyd ’n geweldige gekompliseerde familie-dinamiek wees en dus is dit baie nuttig om by ’n professionele persoon aan te klop om ouers by te staan met hierdie balans,” verduidelik Erika.

MOENIE JOU MAAT OORBODIG LAAT VOEL NIE

Ewald en Beatrix van Rensburg gee in hul boek 21 maniere om jou huwelik te verwoes die volgende raad aan paartjies met kinders:

  • Besef hoe maklik dit vir ’n ouer is om uitgesluit en oorbodig te voel wanneer die ander ouer se aandag slegs by die kinders is. Wees bedag daarop en gesels eerlik daaroor.
  • Julle moet besef dat julle nie die behoeftes van die kinders dien wanneer julle jul huweliksverhouding verwaarloos om aan hulle aandag te gee nie.
  • Sodra julle besef dat die welstand van jul kinders direk in verband staan met die welstand van jul huwelik, sal julle minder geneig wees om skuldig te voel wanneer julle aandag gee aan jul primêre verhouding.
  • Sorg dat julle ’n langtermyn-visie op jul kinders kry. Onthou: Hulle bly nie altyd in die huis nie, maar jou maat wel. Gee daarom aandag aan jou maat, moenie jul lewe slegs om die kind(ers) bou nie. As jy nie besef jou kinders gaan eendag hul eie huise hê nie, gaan jy eendag in ’n leëneshuis langs jou maat sit en vra: “Wie is jy?”
  • Deel soveel as moontlik take, al word dit nie altyd volgens jou standaarde gedoen nie.
  • Moenie op moedverloor se vlakte gaan sit omdat jy deur ’n moeilike tyd met jou tieners gaan nie. Dit is moeilik vir hulle ook.
  • Moenie dat jul kinders se tienerfase julle uitmekaardryf nie, byt vas, staan saam en moenie mekaar blame en shame nie. Dit is nie ongewoon vir kinders om hul ouers teen mekaar af te speel nie.

Die lewe in ’n saamgestelde gesin gaan nie sonder stampe en stote verloop nie. Julle gáán koppe stamp, maar die geheim is om nie toe te laat dat julle as gesin uitmekaardryf nie. Almal in die gesin moet aan die verhoudings werk, jy as ma is nie die speelbal nie. Belê in jou verhouding met jou man, maar wees ook bereid om na jou kinders te luister.

 

Deur Lize Groenewald