Binnekort staan jy voor die kansel om ewige trou te beloof aan die man wat jou hart vashou, maar jy is allesbehalwe ’n rustige bruid. Skielik dink jy nie meer jou rok is mooi nie, jy sien op teen die groot dag en al wat jy wil doen is om soos Julia Roberts in Runaway Bride te maak…

Promosie

Jy voel benoud, op jou senuwees en doodbang vir jou troudag. Gister het julle die kleur van die lint gaan kies wat deel vorm van jul uitnodigings en wat ontstaan het as ’n klein verskilletjie, het ontaard in ’n reuse geveg. Skielik voel dit vir jou of hy nie regtig hart en siel in dié ding is nie en asof julle smaak en ideale wêrelde van mekaar verskil. Jy raak paniekerig en benoud oor jul lewe saam. Is dit die regte ding, wonder jy.

Hoekom? Dis die vraag wat jy moet vra. Elke bruid is op haar senuwees en om ’n bietjie benoud te voel, is normaal. Dit is, ná alles, ’n baie groot commitment wat julle maak. Maar vra jouself hoekom jy voel soos jy voel. Is jy bang jou vriende hou nie van hom nie? Dat hy nooit gaan leer om die toiletsitplek af te slaan nie (hy gáán nie!)? Dat julle verskillende lewensideale gaan hê? Dis moeilik om nou ’n besluit te neem wat die res van jou lewe gaan beïnvloed, maar onthou: Jy het gekies om te wees by iemand wat jou verstaan, respekteer en saam met jou die onbekende reis gaan aanpak.

As jy angstig voel, siek op jou maag, slegte drome kry en voel asof jy ’n fout maak, ervaar jy pre-wedding jitters. Dit is jou onderbewussyn wat jou probeer vertel dat iets nie reg is nie en jy daarna moet luister. Miskien is jy benoud dat jy nie ’n goeie vrou gaan wees nie of bang dat jou man nie gaan wees wat jy nodig het nie. Om hierdie gevoel te kry, beteken egter nie jou huwelik is verdoem en dat jy moet begin om die gaste te bel en te kanselleer nie. Maar wel dat jy agter die kap van die byl moet kom – wat laat jou só voel?

Promosie

Ons het almal ’n interne kompas wat ons deur die lewe rig en wanneer ons daartéén gaan, is daar ’n reaksie, skryf Ashley Seeger op Yourtango.com. Dikwels voel iets eers “af”. As jy aandag gee aan hierdie gevoel, sal die oorsaak gou duidelik word, maar as jy dit ignoreer, sal jou onderbewussyn al harder begin praat tot jy fisieke simptome soos slapeloosheid, slegte drome, maagsere en siektes begin kry. Probeer dus heel eerste vasstel hoekom jy voel soos wat jy voel. Hier is ’n lys van redes vir wedding jitters wat Ashley saamgestel het:

  1. Jy is doodbang vir jou troudag. Wat is daar nié om oor te stres voor ’n troue nie? Om ’n mens se hele familie (en jou nuwe skoonfamilie) bymekaar te hê vir ’n naweek kan baie angstigheid veroorsaak – veral as stiefouers, vervreemde familielede en moeilike gaste teenwoordig gaan wees. ’n Bruid is in die kollig en dit is ook nie iets wat alle bruide noodwendig wil hê nie! Kry ’n troukoördineerder om die meeste van die spanning vir jou uit te skakel.
  2. Jy vrees dit om iemand se vrou te word. Ons ouers se huwelike is ons bloudruk vir die huwelik. By hulle het ons geleer hoe om te argumenteer en hoe om mag in ’n intieme verhouding te gebruik/misbruik. Soms is ’n mens se bloudruk nie ideaal nie en jy kom dalk uit ’n gebroke huis vol mishandeling en sonder emosionele intimiteit. Die idee dat jy dalk net soos jou pa of ma kan word, is soms oorweldigend, maar jy moet onthou: Jy hóéf nie jou bloudruk te weerspieël nie en kan kies watter verhouding jy wil hê. Jy móét egter die besluit neem om te kies, so nie gaan jy terugval op aangeleerde gedrag.
  3. Jy vrees die groot “plan”. Het jy en jou aanstaande die groot kwessies deurgepraat? Soos of julle wil kinders hê, en wanneer? Hoe julle wil lewe, hoe julle begroting sal werk en hoe familiekuiers gaan werk? Het julle gepraat oor ambisie en jul loopbaanplanne? Sommige paartjies praat nie hierdie dinge uit nie, want hulle weet nie hoe nie en hulle is bang vir konflik. Dit kan egter groot moeilikheid veroorsaak, want die probleme gaan hulself nie uitsorteer nie. Hier is voorhuwelikse berading van uiterste belang!
  4. Jy vrees geweld of dreigemente. Hier moet jy baie mooi luister na jou binnestemmetjie! Geweld is nóóit okay nie. As daar enigsins geweld, dreigemente van geweld of ’n magspel is in jou verhouding, moet jy die hulp van ’n terapeut inroep sodat jy kan vasstel wat die dinamika van die mishandeling is en hoekom jy kies om by hom te bly. Moenie dink dat dinge gaan verander sodra julle getroud is nie – dit gebeur baie selde net een keer en is ’n gedragspatroon wat wéér sal voorkom.
  5. Jy vrees verslawing. Nie net verslawing aan alkohol of dwelms nie, maar ook aan kos, inkopies, seks, pornografie en selfs ’n verhouding. Verslawing maak moeilikheid in huwelike – veral sover dit vertroue aangaan. As jou maat ’n verslawing het, voel jy dalk dat hy jou nodig het om hom gesond te hou (dit is ’n bose valstrik, want jy kan nie by iemand bly uit skuldgevoel of bejammering nie). As daar enigsins verslawing is, sien ’n organisasie soos die AA, wat inligting kan verskaf sodat jy kan besef wat verslawing is en hoe om in ’n gesonde verhouding met ’n verslaafde te wees. As daar ’n verslawing is, beteken dit nie dat jou huwelik verdoem sal wees nie, maar dat jy unieke uitdagings sal hê.
  6. Jy vrees dat hy jou gaan verkul. Wanneer daar ontrouheid in ’n verhouding was, is dit baie moeilik om weer daardie vertroue te herbou. Dit is natuurlik om te vrees dat dit weer gaan gebeur. Daar is verhoudings waarin daar nooit ontrouheid was nie, maar miskien was daar ontrouheid in jou lewe as kind (dalk het jou pa jou ma verkul) en vandag dra jy die letsels daarvan. Kry ook hiervoor berading sodat julle saam hierdeur kan werk.
  7. Jy vrees seks. Vir baie jong meisies is die huweliksnag – en die nagte daarna – vreesaanjaend omdat hulle steeds maagde is. Vir ’n meisie wat onkundig is hieroor, kan seks vrees inboesem omdat sy bang is dat sy dit nie gaan regkry nie of nie aan haar maat plesier kan verskaf nie. Sommige mense vrees die idee om seks te hê met dieselfde persoon vir die res van hul lewens en is bang dat seks vervelig gaan raak. Dit hoef nooit vervelig te raak nie! Dit is noodsaaklik om hieroor te gesels om jou stresvlakke te verlaag. As dit te ongemaklik is, skaf vir jou leesstof aan of gaan sien ’n seksuoloog om jou te help om jou vrese uit te klaar.
  8. Jy vrees siekte. In rare gevalle trou jy met ’n maat wat sieklik is. Jy word gebombardeer met vrae soos: Hoeveel tyd het ons saam? Hoe erg gaan dit word? Sal ek sy versorger moet word? Sal jou kinders dit erf? As jy of jou verloofde siek is en jy wonder of die huwelik kan werk, sal jy meer inligting nodig hê. ’n Gesamentlike besoek aan die dokter kan julle die geleentheid gee om vrae te vra en meer inligting te bekom. Julle kan ook ’n berader sien om julle te help om jul vrese en gevoelens uit te sorteer.

Jy weet nie hoe jul storie gaan uitdraai nie en dit is vreesaanjaend. As jy ongemaklik voel, luister na jou binnestem en moenie dit probeer afmaak as niks nie. Die beste manier vir jou om ontslae te raak van jou spanning, is om agter te kom hóékom jy so voel en om daardie kwessie dan te konfronteer. Beskou die verlowingstydperk as ’n tyd van voorbereiding. Nie net voorbereiding vir jou tafelplasings en jou lyf in die droomrok nie, maar voorbereiding vir jul lewe saam. Die troudag is net een enkele dag en wegspringplek vir ’n lang lewe saam. Leer julself ken, leer mekaar ken en leer wat jul ideale saam is. Só kan jy daardie goggas in jou maag tot ruste bring en wéét jy het die regte besluit geneem!

Hier is ’n lys van belangrike vrae wat jy en julle as paartjie julself moet afvra voor die groot dag:

  • Staan God sentraal in ons verhouding?
  • Kom ons morele waardes en perspektiewe by mekaar uit?
  • Glo ek waarlik dat ek met ’n goeie mens trou?
  • Het ons dieselfde doelwitte in die lewe?
  • Kan ek hierdie persoon se goeie eienskappe en foute aan­vaar sonder om te voel dat ek hulle sal móét verander?
  • Respekteer en bewonder ek hierdie mens?
  • Voel ek emosioneel geheg aan hierdie persoon?
  • Voel ek fisiek aangetrokke tot hierdie mens?
  • Wil ons dieselfde dinge hê (loopbane, kinders, troeteldiere)?
  • Respekteer hierdie persoon my en laat hy/sy my fisiek en emosioneel veilig voel?
  • Wanneer ons baklei – hoe hanteer ons die argumente?
  • Glo ons dieselfde en stem ons saam oor hoe ons die kinders in geloof gaan grootmaak?
  • Hoe kom ons oor die weg met mekaar se families? Staan my maat op vir my, indien nodig, of stem hy saam met mense wat my ondermyn en my dwing om myself of my waardes prys te gee?
  • Hoe gaan ons die geldsake hanteer?
  • Het ons gedeelde betekenis in ons lewens? Doen ons dinge wat vir ons belangrik is?
  • Voel dit asof ek hierdie persoon deur-en-deur ken en hy/sy vir my?
  • Is ek reg om myself te wy daaraan om hierdie persoon lief te hê en intiem met hom/haar te wees vir die res van my lewe?
  • Is ek gereed om my lewe met iemand te deel en opofferings te maak – besef ek dat dit nie meer net ek is nie en is ek okay hiermee?

As julle deur hierdie lys gegaan het en agterkom dat julle nie gelukkig is met die antwoorde nie, is dit tyd om te oorweeg of julle waarlik gereed is om te trou. Daar is dalk diepliggende probleme in jul verhouding, miskien is julle nog net nie reg vir trou nie en dalk net nie vir dié persoon nie. As julle deur die lys gegaan het en goed voel oor alles, het jy waarskynlik gewone wedding jitters. Gesels met jou maat en fokus meer op jul verhouding as op die druk van die troudag.

 

Deur Annelize Steyn