Jy hoor van seksuologie, maar jy is nie heeltemal bewus van wát ’n seksuoloog doen nie en is bang jy skrik jou dood met ’n eerste besoek. Boonop wonder jy: Is dit die antwoord vir my huwelik?
Daar word dikwels óm die onderwerp getrippel en taaitoffievrae word slim ontwyk. INTIEM het twee van ons land se top seksuoloë, dr Elmari Mulder Craig en dr Etienne Kok, gevra om 15 taai vrae reguit te beantwoord. Dít is wat hulle te sê gehad het:
VRAAG 1: Wat is en doen ’n seksuoloog?
ETIENNE: Net die term of titel is verwarrend. Letterlik beteken dit ’n kenner van seks, of iemand wat seks bestudeer. Daar is mense wat hulself seksuoloë, kliniese seksterapeute, seksuele gesondheidspesialiste (“sexual health specialists”), seksberaders, seksvoorligters (“sexuality educators”), huweliksberaders of verhoudingsterapeute noem.
ELMARI: ’n Seksuoloog is iemand wat in seksuologie en seksterapie spesialiseer. Die doel van seksterapie is om op die seksuele sy van ’n verhouding te fokus, seksuele probleme te behandel en ook na die impak daarvan op die verhouding te kyk. Seksuele probleme bly van dié algemeenste probleme wat konflik in ’n verhouding, en gevolglik dikwels ook egskeidings, veroorsaak.
Seksuele probleme soos erektiele disfunksie, die onvermoë om ’n orgasme te bereik, voortydige of vertraagde ejakulasie, hipo-aktiewe seksuele begeerte (lae libido) en pyn tydens seks word onder meer behandel. Dit is ’n gespesialiseerde veld en kan help om mense se probleme in ’n huwelik op te los.
Ek glo in ’n holistiese, multi-professionele spanbenadering. Seksuele probleme het ’n invloed op liggaams-, siels- en geesvlak. Seksterapie en verhoudingsterapie is meer suksesvol indien die paartjie albei by die proses betrokke is, maar as jou maat nie terapie wil kry nie, kan dit ook sinvol wees vir jou om individueel ’n seksuoloog te sien.
Daar behoort nooit net op die fisiologiese disfunksie gefokus te word nie, aangesien seksuele probleme altyd ’n impak op die verhouding en die individu het, en daarom moet seksuele probleme binne die verhoudingskonteks opgelos word. Seksterapie kombineer seksuele inligting, verhoudingsterapie en dikwels spesifieke huiswerk wat die paartjie moet gaan doen, afhangende van die probleem. Natuurlik word die fisiologiese oorsake van seksuele disfunksie ook behandel.
VRAAG 2: Vertel iets oor jouself . . . Waar het jy studeer, hoeveel jaar praktiseer jy nou al en waarom het jy besluit om ’n seksuoloog te word?
ETIENNE: Ek het as ’n mediese dokter by die Universiteit van Pretoria (UP) gekwalifiseer en toe besluit om tydens my internskap en diensplig by 1 Militêre Hospitaal (1 Mil.) na-ure sielkunde te studeer – aangesien ek nou baie van siektes geweet het, maar min verstaan het van die mense wat siek word. Tydens my diensplig het ek in die Departement Urologie by 1 Mil. gewerk.
Almal het gedink dat ek die ideale persoon is om pasiënte met seksuele probleme te hanteer, aangesien ek sielkunde gestudeer het. Ek het uit desperaatheid oor seksuele disfunksie begin oplees en besluit om in urologie te spesialiseer. Ná ’n jaar in die Departement Urologie by UP het ek besluit dat ’n uroloog hoofsaaklik ’n chirurg is, en dit is nie waar my hart lê nie.
Ek het by die andrologie-eenheid in die departement – wat in manlike vrugbaarheidsprobleme en seksuele disfunksie spesialiseer – begin werk, en is later na die Loyola Seksuele Disfunksiekliniek in Chicago, VSA, om verdere opleiding te kry. Ek het ook ’n kursus in huweliksvoorligting en -berading by Unisa gevolg.
Ek het opleiding in hipnoterapie gekry en is ’n geregistreerde psigometris, asook ’n lid van die International Society for Sexual Medicine (ISSM), European Society for Sexual Medicine (ESSM) en die International Society for the Study of Women’s Sexual Health (ISSWSH).
Ek is ook ’n “Fellow of the European Committee for Sexual Medicine” (FECSM) en ’n Europees-gesertifiseerde psigo-seksuoloog van die European Federation of Sexology (EFS) en die European Society for Sexual Medicine (ESSM).
Verder het ek nagraadse diplomas in dermtologie (velsiektes) van Cardiff Universiteit in Wallis en farmakologie van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, wat my handig te pas kom in my werk.
Ek is ook ’n senior dosent in urologie by die Departement Urologie en vir die afgelope 32 jaar ’n spesialis in seksuele gesondheid.
Ek bied gereeld praatjies aan oor verhoudings en seksuele gesondheid by kerke, skole, ander organisasies en ook in die korporatiewe wêreld. Ek doen verder ook optredes op radio en televisie, en bydraes tot tydskrif-, koerant- en Internet-artikels.
ELMARI: Die dinamika van verhoudings het my nog altyd gefassineer en hoe meer huweliks- en verhoudingsterapie ek gedoen het, hoe meer het ek besef dat terapeute dikwels die hantering van seksuele probleme in die verhouding vermy. Navorsing dui daarop dat mense die meeste oor geld baklei, maar dat seks die meeste probleme in die huwelik skep. Daarom het ek besluit om verder in seksuologie te spesialiseer.
Ek is na die Loyola Seksuele Disfunksiekliniek in Chicago, VSA, vir verdere opleiding. Ek het daarna my meestersgraad behaal, met die fokus op seksuologie en seksuele probleme, en in psigoterapie gespesialiseer. Ek is ook ’n gesertifiseerde, gevorderde kliniese hipnoterapeut by The Wellness Institute in Washington in die VSA en het daarna ’n PhD in seksuologie gedoen.
Ek is een van ’n handjievol spesialiste in Suid-Afrika wat die European Federation of Sexology (EFS) en die European Society for Sexual Medicine (ESSM) se internasionale kwalifikasie in psigo-seksuologie verwerf het – een van die hoogste kwalifikasies in seksuologie wêreldwyd.
Ek is bekend as ’n kliniese en psigo-seksuoloog, verhoudingskenner, psigoterapeut, hipnoterapeut, openbare spreker en skrywer. Ek het verskeie boeke geskryf, lewer gereeld bydraes in die media, en skryf artikels vir koerante en tydskrifte. Ek tree ook gereeld op radio en TV op. Ek is nou 24 jaar in ’n private praktyk en werk ook in ’n spesifieke multi-professionele span.
Ek was die direkteur en president van The Southern African Sexual Health Association (SASHA) en dien op die wetenskaplike advieskomitee van die African Society for Sexual Medicine (ASSM). Verder was ek die redakteur vir die afdeling seksuele gesondheid van die African Journal for Primary Health Care & Family Medicine.
Ek is ook die eienaar van Tussen die Lakens Intieme en Sensuele Boetiek. Ek is geregistreer by verskeie professionele organisasies in die veld van terapie en seksuologie wêreldwyd.
VRAAG 3: Daar is soveel mense wat hulself “seksuoloë” noem. Hoe weet ’n mens dat jou seksuoloog “the real deal” is?
ETIENNE: Maak seker wat hulle opleiding is en waar hulle dit ontvang het. Nie almal wat hulself “dokter” noem, is medies gekwalifiseerd nie. Baie seksuele disfunksies het ’n mediese oorsaak en net ’n mediese dokter, en in sommige gevalle ’n geregistreerde verpleegkundige en fisioterapeut, mag iemand liggaamlik ondersoek.
Sielkundiges, maatskaplike werkers, teoloë, beraders en voorligters mag na gelang van hul opleiding en ervaring net inligting verskaf, berading en terapie doen, maar nie medies behandel nie. Maak seker dat die seksuoloog by die Health Professions Council of South Africa (HPCSA) of SACSSP, wat daar is om die publiek te beskerm, geregistreer is.
ELMARI: Dit is ’n baie moeilike vraag, aangesien daar nie ’n raad in Suid-Afrika is waar jy as seksuoloog kan registreer nie, en daar gaan ook nie binnekort een wees nie. Jy kan as ’n mediese dokter, maatskaplike werker of sielkundige verder studeer in seksuologie, hetsy psigo-seksuologie of mediese seksuologie.
Dit is baie belangrik om te weet dat daar nie geakkrediteerde opleiding in Suid-Afrika bestaan nie – só as iemand sê hulle het by ’n instansie in Suid Afrika gestudeer, moet jy reeds weet daar is ’n probleem. Dit is belangrik dat die mediese, sielkundige en verhoudingsaspekte en oorsake van seksuele disfunksies hanteer word, en daarom is dit die beste om ’n seksuoloog te sien wat ook in ’n multi-professionele span werk.
Maak seker dat die persoon by die HPCSA of die SACSSP geregistreer is. Moenie net aanvaar en glo wat die persoon vir jou sê nie. Die beste is om op grond van ’n persoonlike verwysing (“word of mouth”) van iemand te gaan, wat reeds suksesvol deur hierdie persoon behandel is.
VRAAG 4: Daar is baie omstredenheid in die media oor seks. Waar begin seks volgens jou mening (by wedersydse masturbasie, ’n warm vryery, penetrasie . . .)?
ETIENNE: Mense mag van my verskil, maar my definisie van seks is fisieke aktiwiteite waar die uiteindelike doel die ervaar of die bereiking van ’n orgasme vir een of albei partye is. Om ’n orgasme te ervaar, is om vir jou maat te sê: “Ek is bereid om in jou teenwoordigheid en met jou fisieke en emosionele hulp vir ’n paar sekondes beheer oor my liggaam en emosies te verloor (dit is wat ’n orgasme is).”
Dit is iets baie privaat en persoonlik, wat in ideale omstandighede met net een ander mens gedeel word. Om dus te sê dat wedersydse masturbasie en orale seks tot by ’n orgasme nie seks is nie, maar net ’n warm vryery, hou geen logika in nie. As net penetrasie-seks ware seks was, dan het meer as die helfte van vroue in verhoudings nog nooit ware seks ervaar nie, want dit is vir hulle onmoontlik om met penetrasie alleen ’n orgasme te ervaar!
ELMARI: Ek het ’n probleem met die woord “seks”, want almal se definisie van seks verskil. Vir my gaan dit oor waar ’n verhouding begin. En wanneer jy ’n emosionele verhouding met iemand het, waarbinne jy veilig voel, en daar ’n spesifieke verbintenis (commitment) is, moet jou fisieke verhouding ook groei soos wat jou emosionele verhouding groei.
Ek sien daagliks hoe mense hul seksualiteit onderdruk het en dan later met ernstige seksuele probleme sit as gevolg daarvan. ’n Paartjie moet self besluit wat seks, oftewel die fisiese uitdrukking van liefde, vir hulle is en waarmee hulle gemaklik is. Skuldgevoelens is jou sekslewe en verhouding se grootste vyand! Seks is verseker nie net penetrasie nie.
VRAAG 5: Baie jong Christene worstel met voorhuwelikse seks. Seksuoloë sê dikwels dat ’n verhouding natuurlik moet ontwikkel, maar waar laat dit die jong Christen-paartjie?
ETIENNE: Dit is waar dat ’n verhouding natuurlik moet ontwikkel, ook wat die fisieke betref. Ongelukkig raak mense in die verliefde stadium te maklik en te gou fisiek, en het selfs seks. Daar is niks so sleg soos wanneer jy liefde en aanvaarding gesoek het en dan in die plek daarvan seks gekry het nie, want seks is nie gelyk aan liefde nie.
Daar word dikwels gesê ’n paartjie moet seker maak of hulle seksuele pasmaats (compatible) is voordat hulle trou. ’n Penis en ’n vagina is ontwerp om compatible te wees. ’n Mens moet eers uitvind of jy emosioneel, intellektueel en spiritueel compatible is, en dit gebeur moeilik terwyl jy fisiek al die pad gaan.
ELMARI: Nege uit tien paartjies wat ek sien, het voorhuwelikse seks gehad en voel skuldig daaroor. Of hulle het dit onderdruk en die huweliksnag was ’n ramp. ’n Jong Christen-paartjie moet self besluit waar daardie laaste trappie van die leer voor seksuele penetrasie vir hulle is. Natuurlik hang dinge af van hoe lank hulle uitgaan en hoe oud hulle is.
Dit is ook maklik om seks en liefde te verwar as ’n seksuele verhouding te vroeg ontwikkel. As gevolg van al die neuro-oordragstowwe wat tydens ’n orgasme afgeskei word, kan ’n vrou veral glo sy is lief vir die man as gevolg van die oksitosien (bonding-hormoon) wat tydens ’n orgasme afgeskei word. Daar is baie Christen-paartjies wat geskei is en al voorheen seksuele verhoudings gehad het.
Só sien ek dikwels ook ouer paartjies wie se huweliksmaats oorlede is en wat in ’n nuwe verhouding is wat baie committed is, maar hulle kan nie trou nie omdat hulle dan hul pensioen sal verbeur. Waar laat ’n “geen seks voor die huwelik”-verbod hulle? Vir my gaan dit oor die respek wat ’n paartjie vir mekaar het en die commitment wat hulle teenoor mekaar gemaak het.
Daar is twee benaderings: Die reël-gebonde benadering wat sê: Vir my as Christen is daar reëls – jy mag byvoorbeeld aan my borste vat, en niks verder nie. En dan is daar die benadering wat na die bedoelings en gevolge van ’n paartjie se aktiwiteite kyk. Ek is meer geneig om met die tweede benadering saam te stem, maar dan moet ’n paartjie weet hulle is volwasse genoeg om dit te kán volg.
VRAAG 6: Hoe gemaak as net een party bereid is om vir berading te gaan?
ETIENNE: Seksuele probleme het gewoonlik verhoudingsprobleme tot gevolg, maar ook andersom – verhoudingsprobleme het baie dikwels seksuele gevolge. Dit is amper onmoontlik om só ’n probleem aan te pak as albei partye nie bereid is om saam daaraan te werk nie.
Selfs al is die seksuele disfunksie die gevolg van mediese probleme, en al sou dit met behandeling herstel of verbeter kon word, sou ’n mens steeds graag die seksmaat as deel van die oplossing of die behandeling van die probleem wou betrek.
ELMARI: Dan gaan net daardie een party vir die terapie. Die terapeut kan jou moontlik ook raad gee oor hoe om jou maat te motiveer om saam met jou vir terapie te gaan. Verhoudings dwing jou om met jou eie issues, probleme en seer gekonfronteer te word.
Sekere dinge kom na die oppervlak en dan is terapie nodig. Jy kan by jouself begin en só die energie van die verhouding verander. As jy jou hantering van die dinamika van die verhouding verander, dwing jy jou maat ook om te verander, en dikwels is dit ’n kwessie van: “Ek wil ook hê wat jy het . . .”
Omdat verhoudingsprobleme en seksuele probleme dikwels interaktief is, is die ideaal natuurlik dat albei die individue vir terapie kom. Ek sien dikwels die paartjie eers apart en dan saam.
VRAAG 7: Sommige mense is baie skrikkerig oor wat om tydens ’n besoek aan ’n seksuoloog te verwag. Vertel ons wat ’n paartjie kan verwag en hoeveel dit hulle min of meer uit die sak gaan jaag.
ETIENNE: Seksterapie behels nié dat jy/julle van jul klere ontslae raak of dat julle seksuele aktiwiteite met julself, of met mekaar in die teenwoordigheid van die seksuoloog, of met die seksuoloog gaan hê nie! ’n Gedetailleerde seksuele geskiedenis sal saamgestel word (soms afsonderlik en soms saam), en dit kan behels dat jy in besonderhede oor baie persoonlike seksuele sake uitgevra sal word. Dit is sodat die seksuoloog agter die kap van die byl kan kom.
Alle inligting is vertroulik en bly tussen jou/julle en die seksuoloog. Dit is altyd belangrik om ’n mediese oorsaak vir ’n seksuele disfunksie uit te skakel, en daarom sal ’n mediese en/of genitale ondersoek in die meeste gevalle ook gedoen word, of moet iemand wat nie gekwalifiseerd is om dit te doen nie die persoon daarvoor na ’n geskikte persoon verwys.
Die seksuoloog sal dan met jou/julle in gesprek tree en soms ook verwag dat sekere “huiswerk” gedoen moet word. Ek werk in ’n staatshospitaal. ’n Mens betaal ’n spesialiskonsultasiefooi, na gelang van jou inkomste, en as jy ’n mediese fonds het, word die konsultasies gewoonlik daardeur gedek.
ELMARI: Omdat ek aan ’n holistiese benadering glo, behels die eerste sessie die neem van ’n volledige assessering en ook ’n paartjie se seksuele geskiedenis. Paartjies verkies soms om my eers afsonderlik te kom sien, omdat hulle voel hulle kan dan openliker gesels, en dan besluit ons in opvolgsessies wat die plan van aksie gaan wees.
Soms is individuele terapie eers nodig voordat ’n mens by huweliksterapie of seksterapie kan uitkom. Dikwels is dit eers nodig om iets soos posttraumatiese stres of seksuele trauma van die verlede te behandel, voordat die proses verder kan verloop. Ek spesialiseer in seksuele pyndisfunksies en verwys dikwels ook die pasiënte na ’n ander lid van my span, soos die fisioterapeut wat in bekkenvloer-disfunksie spesialiseer of die mediese seksuoloog.
Verder behels seksterapie dat jy verstaan hoekom jy die spesifieke probleem ervaar, en indien wel, wat die impak is wat jou maat en julle verhoudingsdinamika daarop het. Ek werk dikwels ook met prestasie-angs, en gebruik soms hipnoterapie en veral ontspanningstegnieke om mense met angs te help.
Ek is ook ’n direktiewe terapeut en hou daarvan om vir mense tools te gee wat hulle altyd sal kan gebruik. My fooi is R1 500 vir ’n sessie van 80 minute en R900 vir ’n sessie van 50 minute. Die pasiënt kan ’n gedeelte hiervan self terugeis by sy/haar mediese fonds.
VRAAG 8: Met watter probleme kry julle die meeste te doen?
ETIENNE: Mense se onkunde oor hul eie seksuele funksionering en dié van hul maats, en die verskille in siening, benadering, behoefte, drang en funksionering wat dit bring, veroorsaak die meeste seksuele probleme.
Spesifieke seksuele disfunksies, soos ’n lae libido by mans en vroue, seksuele pynversteurings en probleme met orgasme by vroue, en premature ejakulasie en erektiele disfunksie by mans, kan mediese en/of sielkundige oorsake hê en tot persoonlike en verhoudingsprobleme aanleiding gee. Hiervan sien ek baie.
ELMARI: Ek sien dikwels vroue en al meer mans met hipo-aktiewe seksuele begeerte (’n lae libido), vroue met ’n verskeidenheid van seksuele pyndisfunksies soos vaginisme, mans met erektiele disfunksie, voortydige of vertraagde ejakulasie, en vroue wat nie ’n orgasme kan bereik nie. Ek spesialiseer in seksuele pyndisfunksie en sien ook al meer mense wat met seks/porn/cyber-afhanklikheid of -verslawing sukkel.
Gewone verhoudingsprobleme is ook algemeen wanneer daar seksuele probleme is. Mense sukkel om te kommunikeer of konflik doeltreffend te hanteer. Baie mense het onrealistiese verwagtinge van die huwelik en seksualiteit. En baie mense sit met onnodige skuldgevoelens oor hul seksualiteit. Daar is ook talle mense wat met baie seer en trauma uit hul kinderjare worstel.
VRAAG 9: Wat glo julle is die een sekshulpmiddel waarsonder ’n getroude paartjie nie kan klaarkom nie?
ETIENNE: Daar bestaan nie so iets nie! Wat ek ernstig vir paartjies aanbeveel, is om nooit droë seks te hê nie. Dit maak ’n smeermiddel soms uiters noodsaaklik of ’n wonderlike hulpmiddel. Hier en daar is ’n eenvoudige vibrator ook ’n wonderlike hulpmiddel vir paartjies, veral in gevalle waar die vrou nog nooit ’n orgasme ervaar het nie of sukkel om een te kry.
ELMARI: ’n Goeie gehalte silikoon-gebaseerde smeermiddel (water-gebaseerd as jy ’n kondoom gebruik). Ek beveel paartjies aan om altyd ’n smeermiddel te gebruik. Onthou, wanneer ’n vrou ’n man met haar hand stimuleer, werk ’n smeermiddel baie goed. ’n Vibrator van goeie gehalte kan ook baie sinvol wees omdat vroue dikwels baie langer as mans neem om ’n orgasme te bereik. Daar is ook deesdae wonderlike vibrators wat ’n paartjie saam tydens penetrasie kan gebruik.
Gaan besoek gerus ’n erkende seksuoloog se webtuiste om goeie gehalte produkte te bekom. Verder moet jy onthou dat jy ’n oneindige bron van seksuele hulpmiddels in jou yskas, vrieskas en huis het. Dink aan spuitroom, ys, ’n veer, hareborsel en sy- of fluweelserpe.
VRAAG 10: Talle mense wonder en verskil oor seksspeelgoed. Vir eens en vir altyd – is dit okei? En watter sekshulpmiddels is nié okei nie?
ETIENNE: “Normaal” as dit by seksuele intimiteit kom, is dít waarvoor albei lus is, wat albei geniet en wat nie tot enige liggaamlike, emosionele of geestelike nadele lei nie. Seksspeelgoed moet in hierdie lig gesien en beoordeel word. Enigiets wat pyn veroorsaak of potensieel skade kan berokken (dink byvoorbeeld aan infeksies), is nié okei nie! Daar is baie mense wat wonderlike, bevredigende sekslewens en verhoudings het sonder dat hulle ooit speelgoed gebruik.
ELMARI: Die antwoord lê by die bedoeling van die hulpmiddel. Verder is ’n hulpmiddel presies wat dit sê – ’n hulpmiddel. As jy ’n vibrator gebruik en by jou vriendinne spog dat jy nou “’n lover” het, is dit nié okei nie. As julle saam ’n vibrator gebruik om jul sekslewe op te kikker, kan dit wonderlik wees. ’n Smeermiddel is ’n “verpligte” sekshulpmiddel.
Wat nié okei is nie, hang van die raamwerk af waarbinne julle hulpmiddels gebruik. As albei instem en nie emosioneel of fisiek skade lei nie, is dit okei. Dit gaan ook oor wat jy as ’n sekshulpmiddel beskou. As jy die hulpmiddel skelm gebruik en dan nie seks met jou maat het nie, kan dit ’n probleem wees. As ’n man ’n derde party as ’n sekshulpmiddel beskou, is dit beslis nie okei nie! As dit iets is wat jou integriteit, die integriteit van die verhouding, jou toewyding en jou vertroue raak, is dit ’n probleem.
VRAAG 11: Waarvan moet ’n getroude Christen-paartjie wegbly?
ETIENNE: Dinge wat tot pyn, ongemak, irritasie, frustrasie, ontrouheid en gevoelens van dwang, misbruik en vernedering lei. ’n Derde party (affair), meer as een seksmaat gelyktydig (threesome) en die ruil van seksmaats (swinging) is rooilig-gedrag vir ’n getroude paar.
ELMARI: Enigiets wat die sacredness van jul verhouding opoffer. ’n Derde party, swinging, threesomes en enigiets wat jou maat onveilig laat voel, skep probleme. Die raamwerk wat ek gewoonlik gebruik, is dat enigiets aanvaarbaar is, mits albei partye daartoe instem en dit niemand of julle verhouding emosioneel of fisies skade aandoen nie.
VRAAG 12: Hoe weet ’n mens dit is nodig om ’n seksuoloog te gaan sien? En watter resultate bring dit dan mee?
ETIENNE: Moenie wag totdat ’n probleem te groot of te onoplosbaar geword het nie. Soms kan eenvoudige toestemming, inligting, raad en mediese behandeling ’n drastiese verbetering in seksuele verhoudings bring. Gebrekkige kommunikasie en konflik, wat net meer word en nie self opgelos kan word nie, moet ook met die hulp van ’n professionele persoon aangepak word.
ELMARI: Hopelik weet jy vroeg genoeg dat daar ’n probleem is. Gaan eerder vroeër as later. Sien dit ook as verhoudingsverryking. Natuurlik ook wanneer daar seksuele disfunksie is, wanneer julle oor seks baklei, wanneer julle behoeftes verskillend is of wanneer seks vir julle vervelig raak.
Die resultate hang daarvan af of jy oopkop is, en bereid is om aan die probleem te werk en by jouself te begin. Soms is dit vir ’n terapeut nodig om van buite af binnetoe te kyk en raad te gee. Die resultate is gewoonlik baie goed!
VRAAG 13: Wat dink jy is die belangrikste ding wat mans en vroue oor orale seks behoort te weet?
ETIENNE: Dit is nie vir almal nie, en daar is nie noodwendig iets met jou verkeerd as jy nie daarvan hou om dit te gee of te ontvang nie. Moenie namens jou maat daaroor probeer dink, voel of reageer nie. Mans en vroue het dikwels verskillende sienings en behoeftes hieroor, en ons gaan mekaar nie verander nie. Higiëne is belangrik, en moenie vergeet dat seksueel oordraagbare siektes ook só versprei of aangesteek kan word nie.
ELMARI: Julle moet praat oor julle behoeftes en verwagtinge. ’n Vrou hoef byvoorbeeld nie noodwendig semen te sluk nie. Jou idee van orale seks mag dalk ’n 12/10 op die skaal wees, maar dalk werk ’n 3/10 vir jou.
Moenie ’n alles-of-niks benadering volg nie. Kry inligting en eksperimenteer, moenie sommer vooraf besluit dit werk nie vir jou nie. Dit is die manier waarop die meeste vroue ’n orgasme bereik en dit is dikwels vir mans ontsettend stimulerend om orale seks te gee. Orale seks is in sommige opsigte meer intiem as penetrasie. Ontspan en geniet dit!
VRAAG 14: Wat is “normaal” in ’n huwelik? Behoort almal twee keer per maand seks op die kombuisblad te hê?
ETIENNE: Normaal is nié wat mense in flieks, op televisie en op die Internet sien nie. Nog minder is dit wat in pornografie uitgebeeld word. Seks is ’n klein, maar belangrike deel van die totaliteit van wat twee mense met mekaar in ’n huweliksverhouding deel. Daar is deesdae heeltemal te veel klem op “seks maak”, waarvoor jy plekke, kolle, tegnieke, posisies en speelgoed/hulpmiddels nodig het, en te min klem op “liefde maak”, waarvoor jy net twee mense nodig het wat nog asemhaal!
ELMARI: Baie mense lees raad en wenke en wonder of hulle abnormaal is, maar ’n mens moet jouself afvra: Is dit nodig dat ek uit my eie gemaksone beweeg en my grense verbreed? Is daar iets waarmee ek ongemaklik voel? Wat is dus normaal? Wat normaal is vir jóú!
As julle albei gelukkig is om een keer per maand seks te hê, is julle normaal. As een van julle egter een keer per maand seks wil hê en die ander een het dit een keer per dag nodig, het julle ’n probleem (en dit beteken glad nie dat een of albei van julle abnormaal is nie!). Samel inligting in as jy inspirasie nodig het, maar moenie dink dat dieselfde dinge veronderstel is om vir almal te werk nie.
VRAAG 15: Noem asseblief vyf klein aanpassings wat ’n getroude paartjie in hul huwelik kan maak wat die grootste positiewe verskil teweeg kan bring.
ETIENNE:
1. Kommunikeer meer en beter. Maak seker jou maat hoor en verstaan wat jy sê. Maak tyd om met mekaar te praat, ook oor jul sekslewe. Dit is oor dinge soos jul behoeftes, voorkeure en afkeure.
2. Moenie mekaar probeer verander nie, dit is nie moontlik nie. Jy sal op die ou einde net jou maat verpes, frustreer, verinneweer, verwond en uiteindelik vernietig.
3. Hanteer konflik, wat noodsaaklik, natuurlik en onafwendbaar is, op ’n volwasse wyse. Leer om kompromieë te bereik.
4. Moenie van seks ’n wapen, onderhandelingsmiddel, gom, hersteller van probleme, troosmiddel of stresverligter maak nie. Dit is nie die doel van seks in ’n verhouding nie.
5. Hê minder seks en vry meer!
ELMARI:
1. Ken jouself en wees gemaklik met jou lyf en jou seksualiteit. Wees in jouself ’n gesonde mens, emosioneel en fisies. Ontspan en geniet dit!
2. Doen elke dag iets kleins, wat spesiaal is, vir mekaar. Maak gehaltetyd vir mekaar waartydens julle net aan mekaar aandag gee, sonder kinders en selfone.
3. Leer hoe om doeltreffend te kommunikeer, te luister en konflik te hanteer. Leer mekaar se behoeftes ken en maak jou huweliksmaat jou eerste prioriteit, sonder dat jy jouself in die proses opoffer.
4. Gaan ten minste twee keer per jaar alleen vir ’n naweek weg, want die energie van “ons is alleen bymekaar” is anders as wanneer die kinders of ander mense by is.
5. Vergeet soms van die doelgerigtheid van seks en fokus meer op sensualiteit. Baie paartjies het te veel seks en vry te min!