Jy wil graag oopkop wees en nie toelaat dat die groenoogmonster vuur spoeg op jul verhouding nie. Maar jou man wil vriende wees met sy eks en vir jou is dit te veel gevra . . .

Promosie

Is ’n platoniese vriendskap tussen twee mense wat eers getroud was of vir lank vas uitgegaan het, enigsins moontlik? Is die geskiedenis tussen hulle net té veel vir ’n nuwe huwelik om te verteer, of behoort jy te rus in die wete dat jou maat uiteindelik vir jóú gekies het en dat, terwyl sy jou man se verlede is, jy sy hede en toekoms is. Ons het albei kante van die debat ondersoek.

DIE DEBAT . . .

Ja! Hy kan vriende wees met sy eks.

Promosie

Johan en Anchen het vroeg in die hoërskool verlief geraak en vas begin uitgaan in standerd 6 (graad 8). Hulle is uiteindelik saam matriekafskeid toe en het kort ná universiteit die knoop deurgehaak. Op papier was dit ’n romantiese sprokiesverhaal, maar inderwaarheid het die paartjie eerder ’n vriendskapsverhouding as ’n liefdesverhouding gereflekteer.

“Ons het nog altyd baie van mekaar gehou, maar daar was nie regtig hartstog tussen ons nie,” sê Anchen. “As tieners en studente was ons só gereeld gewaarsku om nie die pap te dik aan te maak en oor die tou te trap nie dat ons baie versigtig was om enigsins ’n seksuele spark te laat spring.”

Toe hulle uiteindelik die handrem ’n bietjie laat los, was dit asof die seksuele kant van hul verhouding net nie wou vlamvat nie. Ná ’n huwelik van drie jaar – en geen kinders – het hulle besluit om eerder te skei. En, sê Anchen, dit was die regte keuse.

“Ek gee steeds baie om vir Johan en ek wens vir hom die wêreld se geluk. Ons was nog kinders toe ons ontmoet het en het geen benul gehad wat dit verg om ’n volwasse verhouding te laat werk nie. Vandag is ons steeds goeie vriende en ons klok elke week of so in by mekaar om te hoor hoe dit gaan.”

Johan is intussen weer getroud en Anchen is in ’n vaste verhouding, maar hulle is glad nie geheimsinnig oor hul vorige huwelik of hul huidige vriendskap nie.

“As die huweliksmaats beide goeie closure kry en duidelike vriendskapsgrense stel, is daar geen rede hoekom hulle nie vriende kan wees nie,” sê Carien du Toit, ’n voorligtingsielkundige en huweliksterapeut in ’n private praktyk. “Die samelewing sê vir ons skei moet ’n lelike storie wees – slegsê, vuil wasgoed, hofsake en so meer. Die media maak dit natuurlik ook sensasioneel. Die realiteit is egter dat ’n groot persentasie van paartjies die einde van hul verhouding so vreedsaam as moontlik wil bestuur.”

Carien verduidelik dat vriendskap met ’n eksman of -vrou nie ’n nuwe maat hoef te bedreig nie. Inteendeel, dit kan juis ’n teken van emosionele volwassenheid wees. “Die manier waarop jou maat sy liefde uit die verlede hanteer, kan nogal baie insig gee in sy karakter,” verduidelik Carien. “As hy saam met haar deur een van dié mees uitdagende situasies gewerk het en haar steeds as medemens met respek hanteer, is dit ’n baie positiewe teken.”

Boonop kan jy ook nie jou maat beheer nie – hy en sy eksvrou het ’n sekere gedeelde verlede, of jy nou daarvan hou of nie. Maar – en hierdie is ’n groot MAAR – as hy en sy eks nie deursigtig oor hul kommunikasie en ontmoetings is nie, moet die gevaarligte begin flikker, waarsku Carien.

“Vriendskap met ’n eks verskil wél van ‘gewone’ vriendskappe. Selfs al is julle platoniese vriende, is daar tog steeds ’n gedeelde verwysing wat ’n mens nie kan ontken nie.” Daarom is gesonde grense ononderhandelbaar, meen Carien.

“Sluit ten alle tye jou huidige maat in wanneer jy en jou eks saamkuier. As julle oor die foon gesels of vriende is op Facebook, noem dit vir jou maat. Jy het tog niks om weg te steek nie.”

As jou maat wel ongemaklik is met die vriendskap, is jy dit aan haar verskuldig om te luister na haar gevoelens. “Gee vir mekaar spasie om te gesels. Luister en plaas jouself in die ander persoon se skoene. Besluit dan saam oor aanvaarbare gedrag en grense waarbinne die vriendskap met sy eks kan afspeel.”

As hy deursigtig en eerlik is, en jou deurlopend betrokke hou by hulle interaksie, kan jy maar aanvaar dat hy goeie bedoelings het en werklik ’n platoniese vriendskap wil hê, meen Carien.

Nee! ’n Onskuldige vriendskap met ’n eks is onmoontlik.

Alet* se man het gedurig kontak met sy eks. Die twee stuur gereeld vir mekaar boodskappe en sy noem hom steeds op haar liefdesnaam vir hom. Alet en haar man stry nooit nie – totdat hy en sy eks weer kontak gehad het.

“Sodra hulle twee kontak gehad het, soek hy moeilikheid met my. Die ergste is dat hy vir my jok daaroor. Ek weet presies wanneer hulle twee weer kontak gehad het, want dan spreek hy my per ongeluk op haar naam aan. Ek sal dit onder geen omstandighede aanbeveel dat jou man en sy eks vriende moet wees nie.”

Leandie Buys, ’n kliniese seksuoloog, verhoudings- en huweliksberader van Port Elizabeth, sê dat sy uit ondervinding weet dat ’n eks heelwat konflik in ’n nuwe verhouding kan veroorsaak. “Die rede hiervoor is dikwels dat ’n eks nie die grense van haar eksman se verhouding respekteer nie. Natuurlik gaan dit konflik veroorsaak as sy enige tyd jou man bel asof sy nog deel is van sy lewe,” sê Leandie.

“Ek voel wel dat, indien daar kinders betrokke is, ’n paartjie wie se paaie skei wel met mekaar oor die weg moet kan kom, want hulle het nog steeds ’n gesamentlike verantwoordelikheid teenoor hulle kinders. Maar daar moet van die begin af duidelike grense gestel word, soos wanneer sy eks bel, dat dit oor die kinders gaan.

“Om grense te stel in ’n verhouding is baie belangrik, want enige paartjie moet weet wat vir hulle aanvaarbaar is en nie, en wat hulle gaan toelaat of nie. Ek sê altyd vir paartjies dat hulle gesamentlik eers hieroor moet gesels, en dan moet die man met sy eks praat oor wat die grense is van sy nuwe verhouding. Die paartjie, maar veral die man, moet hierdie grense in stand hou.

“Indien daar wel kommunikasie tussen jou man en sy eks is, is dit belangrik om openlik te wees daaroor en dit nie ’n geheim te hou nie, want geheime in ’n verhouding lei tot wantroue. Dit is wel belangrik vir die vrou om dit ook só te hanteer dat haar man nie voel dat hy dit geheim moet hou van haar nie. Daarom is dit baie belangrik vir die paartjie om eers hulle verwagtinge te bespreek om te verstaan wat is aanvaarbaar vir hulle maats,” gee Leandie raad.

Ds Karel Steyn, ’n leraar van Potchefstroom, sê: “Verhoudings en ’n huwelik is op sy beste harde werk. Wanneer daar nog vorige huweliksmaats by hierdie prentjie bykom, kan dit werklik ’n taai kwessie raak.”

Ongelukkig is moeilike situasies in die huwelik nie altyd swart of wit nie, maar is daar gewoonlik ’n massiewe verskeidenheid grys areas. Juis daarom dat die Here vir ons in die Bybel sekere beginsels of waarhede gee wat ons moet lei deur hierdie grys areas, meen hy.

“’n Huwelik is gelyk aan beste maats. God gee aan ons die huwelik, nie net om ons seksuele menswees uit te leef nie, maar om beste maats vir mekaar te wees.

“Daarom dat Paulus in Efesiërs 5 vir ons sê dat ’n vrou aan haar man onderdanig moet wees en ’n man sy vrou moet liefhê. In Genesis 2 stel God dit só dat die vrou vir die man gegee is as sy gelyke, hulp of vennoot (dit is wat Christelike onderdanigheid en liefde in werklikheid beteken). Hierdie een-wees vriendskap moet ons met alles beskerm – veral wanneer jou huweliksmaat voorheen met iemand op hierdie vlak vriende was en daardie persoon steeds in jou huweliksmaat se lewe probeer bly!”

Is daar ’n goue middeweg?

Volgens dr Johan Pienaar, lewensafrigter en skrywer van Die dag na die rowers opgedaag het, werk só ’n vriendskap gewoonlik nie, maar daar moet steeds ordentlikheid tussen die betrokkenes wees, ongeag die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die egskeiding.

  • Pas egter op vir ’n “tirannie van ordentlikheid”. Wanneer iets verkeerd is, moet en kan dit gesê word, maar maak net kontak waar nodig. Die gewone reëls vir ’n goeie verhouding is gereelde en betekenisvolle kontak, maar hier is dit eerder minder as meer, verder as nader.
  • Die ideaal is dat die verhouding met die eks voor die tyd deurgepraat en daar duidelike reëls gestel word. Op geen manier mag ’n eks binne die spesiale ruimte van die nuwe huwelik tree nie.
  • Die webtuiste tolovehonourandvacuum.com sê dat, sou hierdie situasie wel op die tafel wees, een van die reëls moet wees dat daar geen SMS’e of WhatsApp’s tussen die ekse uitgeruil moet word nie. ’n Vriendskap kan wel werk, maar dan moet die vriendskap tussen die eks en die páártjie wees, nie net die een party nie.
  • “Definitiewe rooi ligte sou wees wanneer jou maat teen jou wense met ’n vriendskap wil volhard, en daarop aandring dat julle saam kuier en waarde aan die vriendskap wil toeken wat nie by ander vriendskappe geld nie, en ook die redes vir die egskeiding probeer versag. Praat oor jou ongemak in ’n veilige ruimte,” sê Johan.

Uiteindelik verskil dit van situasie tot situasie. Dít wat aanleiding gegee het daartoe dat hulle getroud is en geskei is, kan ook ’n bepalende faktor wees van ’n vriendskap, al dan nie. As hulle altyd vriende was, maar daar nooit ’n fisieke aantrekkingskrag/vonk was nie, sal dit byvoorbeeld makliker wees om die eks in jou man se lewe toe te laat as wat dit sal wees as die seer van ontrouheid tussen hulle hang. Jou vlak van verdraagsaamheid gaan ook tot ’n mate afhang van die aard van hul vriendskap.

Soos die kenners meen: As beide geen aantrekkingskrag meer tot mekaar het nie en albei in nuwe, gelukkige huwelike is, behoort dit nie skade te doen as julle vier vriende saam kuier nie. As een van die partye gesukkel het om closure te kry en jou man se eks hom voortdurend probeer kontak via SMS of WhatsApp, is dit ’n ander situasie. Kyk mooi na jul unieke situasie, bespreek dit openlik met jou maat en kry ’n werkbare oplossing.

 

Deur INTIEM redaksiespan