Die media wil graag vir jou vertel dat die sleutel tot gelukkige seks iets is soos ’n gelyktydige orgasme of ’n baanbreker-posisie. Bemarking wil jou graag oortuig dat dit die een of ander nuwe vibrator met 37 funksies is… Maar eintlik is dit heel eenvoudig.

Promosie

Die geheim tot wonderlike seks in die huwelik is eerlikheid tussen die lakens. Dit is nou net hier waar jou fake orgasm die spreekwoordelike emmer behoort te skop. In ’n onlangse studie onder 93 langtermyn getroude en saambly heteroseksuele pare deur die Universiteit van Waterloo, het sielkundige Uzma Rehman en haar kollegas gerapporteer dat paartjies wat gelukkiger in die slaapkamer is, ’n benadering van “ons praat oor alles” het rakende dít waarvan hulle hou en nie hou nie in die slaapkamer.

Dit is ’n bietjie anders as die gewone soort eerlikheid waaraan paartjies mettertyd gewoond raak en wat al meer algemeen raak namate die pas verliefde fase afweer. Onthou dat baie mans se ego’s wel van goeie seks afhang, so as jy na tien jaar se getroude lewe met die deur in die huis val deur te sê jy het eintlik nog nooit gehou van “daardie ding wat hy met sy tong doen nie”, gaan jy hoogs waarskynlik met ’n gekrenkte lewensmaat sit.

Eerlikheid in die slaapkamer is dus baie belangrik, maar selfs nóg belangriker is die manier waarop julle dit doen, waaroor julle gesels en wat julle moet vermy. Hier is ’n paar wenke:

Promosie
  1. Voor jy oor seks begin praat, besluit om so oopkop en nie-veroordelend as moontlik te wees. Dis natuurlik om nuuskierig te wees! Gebruik dit tot jou voordeel en vra jou maat uit oor sy/haar voorkeure. Deel jou hart, maar bly sensitief vir jou maat se behoeftes.
  2. Tydsberekening is belangrik. Moet nooit oor seks gesels wanneer julle besig is om seks te hê nie! Moet ook nie die onderwerp aanroer as dit slaaptyd is nie, maar eerder wanneer julle gaan stap, wanneer julle uiteet of om lang ure op die pad vinniger te laat verbygaan.
  3. Probeer die koud/warm-speletjie. Jou liggaam is soos ’n kombinasieslot en die ongelukkige waarheid is dat baie van ons nie eens weet wat die kode is nie! Jy kan (letterlik) sê: “Jy is warm” as hy doen waarvan jy hou, en “Jy is koud” as dít wat hy doen nie veel vir jóú doen nie.
  4. Praat dadelik as iets vir jou onaangenaam is of jou koud laat. Hoe langer jy dit toelaat, hoe meer oorbluf gaan jou maat wees die dag as hy/sy die waarheid uitvind.
  5. Onthou dat jou lyf nie dieselfde bly nie. Wat tien jaar gelede jou tone laat omkrul het, doen dalk vandag nie veel vir jou nie. Maak seker julle bly in voeling met mekaar se veranderende lywe deur gereeld oor seks te praat.

WAAROOR KAN JULLE GESELS?

Daar is ’n paar seks-gesprekke wat elke paartjie behoort te hê:

  1. Dít wat-werk-en-wat-nie-gesprek. Gesels oor waarvan jy in die slaapkamer hou en waarvan jy nie hou nie. Andrea Syrtash, outeur van Cheat on your husband (with your husband) meen dat jy altyd eerder op die positiewe behoort klem te lê. Sê byvoorbeeld: “Ek is regtig mal daaroor om seks met jou te hê en ek wil graag iets nuuts probeer…”
  2. Die gereeldheid-gesprek. Julle hoef nie tot op die dag ooreen te kom nie, maar as een van julle daagliks in die bed wil spring en die ander persoon voel maandeliks is genoeg, kan julle dalk met ’n probleem sit. Daar is nie ’n magic nommer nie, maar paartjies moet saamwerk en soms compromise om mekaar te vervul.
  3. Die fantasie-gesprek. Dis makliker gesê as gedaan om oor jou geheime begeertes te praat, maar dit sal julle nader aan mekaar bring. Skryf jul fantasieë neer en vergelyk jul lysies met mekaar. Stel nou ’n gesamentlike lys op en kyk hoe julle kan compromise om by al die items uit te kom.
  4. Die liefdestaal-gesprek. Weet jy wat jou maat geliefd laat voel? Is dit ’n stoute boodskap of is dit ’n soen soggens? Jy ken waarskynlik teen dié tyd Gary Chapman se liefdestale. Jy en jou maat kan verskillende liefdestale hê en steeds volkome aan mekaar se behoeftes voldoen.
  5. Die in check-gesprek. Dié gesprek sluit aan by die feit dat ons vroeër genoem het ’n mens se lyf en sekslewe is nie konstant nie. Jou behoeftes en begeertes verander en daarom is dit belangrik om te onthou dat, sodra ’n paartjie een gesprek oor seks gehad het, dit nie die laaste een behoort te wees nie.

VERMY DIE VOLGENDE FOUTE:

Net soveel soos wat jy in die slaapkamer behoort te doen, so belangrik is dit dat jy die volgende nié doen nie:

  1. Moenie die waarheid versteek nie. Dis maklik om konflik te vermy deur jou gevoelens weg te steek, maar dis nie gesond vir jou, jou lewensmaat óf jul verhouding nie.
  2. Moenie bluf in die bed nie. Fake jy orgasmes om jou maat se gevoelens te spaar of om ’n sekssessie voortydig te laat stop? As jy dit doen, glo jou maat dat dit wat hy doen werk en hy hou aan daarmee. Wie wen hieruit?
  3. Moenie doen waarvoor jy nie kans sien nie. As jy nie iets spesifiek in die slaapkamer wil doen nie, sê so. Compromise is goed, maar as jy ongemaklik voel oor iets, is dit beter om op jou punt te staan.

Dit is dalk ’n gesprek wat ver buite jul gemaksone is, maar ’n lekker chat-sessie rakende seks kan julle soveel nader aan mekaar laat voel. Die dae van fake orgasmes en “ligte af” suutjies-seks behoort aan die era van pofmoue.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.simplemarriage.net, www.durexindia.com, www.magazine.foxnews.com, www.psycologhytoday.com, www.mensfitness.com