Ek is ’n 22-jarige vrou en is verloof aan ’n wonderlike man. Die rede hoekom ek nie tot trou kan kom nie, is ons geloof en kerke. Ek het grootgeword in die Hervormde Gereformeerde Kerk en is later oor na die NG Kerk en hy het in die Nuwe Apostoliese Kerk grootgeword. Ek het wel ’n dominee gaan sien oor ons geloof, en dié het vir my gesê dat ons geloof heeltemal verskil. Is daar vir ons ’n toekoms saam?

Promosie

Gustav en Elna Muller, huweliksberaders van www.beterverhoudings.co.za, antwoord:

Ons sê altyd dat ’n mens nie moet trou as daar rooi ligte is nie. Rooi ligte is enigiets waaroor mens verskil of wat jou pla. Begin deur jou vrae, in liefde, vir jou verloofde te vra. Voeg twee vrae by jou lys: “In watter kerk sal ons ons kinders grootmaak?” en “Hoe sal ons ouers daaroor voel?”. As julle eenstemmigheid bereik oor hierdie vrae, is die lig groen. Indien nie, sal dit die moeite werd wees om by iemand te gaan stilsit wat julle kan help om by ’n middeweg te kom.

Promosie