Ek en my man is dié jaar 31 jaar getroud en dit voel of ons oor niks kan praat nie. Waaroor praat getroude mense? Ek weet nie. Help my asseblief, want daar gaan dae verby wat ons net vir mekaar sê: “Môre, geniet jou dag.” En as hy vanaand by die huis kom en ek vra hom hoe was sy dag, antwoord hy net: “Besig.” Ook: Is dit normaal dat ’n man saam met sy vroulike kollegas gaan uiteet?

Promosie

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters, antwoord:

Net eers om jou gerus te stel: Hierdie vraag van jou is glad nie uniek nie en hierdie “probleem” kom baie algemeen voor. Miskien moet ons net eers die rede gee oor hoekom dit so is dat paartjies ná ’n ruk so min of selfs niks het om met mekaar te deel nie.

Die hoofrede is omdat die paartjie gewoond geraak het aan mekaar en nie bewustelik gekies het om hierdie familiariteit wat hulle teenoor mekaar ontwikkel het, aan te spreek nie. Baie paartjies dink die feit dat hulle in dieselfde huis bly, langs dieselfde tafel sit en in dieselfde bed slaap, is genoeg om hierdie “gewoond raak aan mekaar” aan te spreek. Dit is juis waar hulle die fout maak.

Promosie

Paartjies doen in die begin van hulle verhouding ontsettend baie moeite om by mekaar uit te kom en tyd saam met mekaar deur te bring, want hulle leer mekaar ken en hou van die nuwe avontuur wat hulle ervaar. Dan praat ons nie eens van al die hormone wat ook nog deel vorm van die proses nie!

As die paartjie dan trou, neem dit so tussen ses en nege maande vir hulle om gewoond te raak aan mekaar. In die begin lyk dit nie of dit ’n probleem gaan wees nie. Dit is eintlik lekker en gemaklik om te weet daar is ’n persoon met wie jy jou lewe deel wat so gemaklik by jou is en wat jou so goed “ken”. Die probleem met hierdie aanname is dat die paartjie dan nie bewus is daarvan dat hulle nou met ’n nuwe seisoen van hulle verhouding begin het nie en ook dienooreenkomstig aanpassings moet maak nie.

Die aanvaarding dat my maat altyd daar is en dat ons so gelukkig is, is die energie wat ons in die eerste deel van daardie seisoen dra en die gevolg is dat die paartjie eintlik besig is om stelselmatig van mekaar af weg te dryf en op ou energie die bootjie aan die gang hou.

Dit gebeur egter só stadig dat daar nie rooi ligte hieroor aangaan nie. Dit lyk baie normaal en daarom spreek die paartjie dit nie aan nie. Hulle sal dit oor die boeg gooi van werk, moegheid of die feit dat hulle besig begin raak het. As kinders nou deel begin vorm van die verhouding, maak dit dinge nog moeiliker, want die tyd wat die paartjie het om alleen saam te spandeer en aan hulle verhouding te werk, word nou met die kinders gedeel.

Dit is gewoonlik in hierdie tyd wat paartjies al verder en verder uitmekaar dryf, en dan besluit om al hulle energie en tyd in hulle kinders te belê. Hulle voel ook dat as hulle tyd saam met die kinders spandeer, hulle mos besig is om ook tyd saam met mekaar te spandeer.

Hulle kom eers tot die besef dat dit nie die geval was nie as al die kinders uit die huis uit is en Pa en Ma ewe skielik met hulself gekonfronteer word. Hulle besef dat hulle baie lanklaas met mekaar gepraat het en eintlik nie 100% weet wie die ander een meer is nie.

Onveiligheid het nou deel geword van die verhouding en omdat daar onveiligheid is, is gesprekke met mekaar uiters moeilik. Wat in baie gevalle gebeur, is dat die partye dan “exits” soek, soos sport, werk of ander minder goeie dinge soos drank, pornografie of selfs buite-egtelike verhoudings.

Só wat doen ’n mens om dit te stop? Wel, die eerste ding wat moet gebeur, is dat beide partye moet erken dat hulle op hierdie plek in hulle verhouding is en dat hulle moet kies om teen dit te werk. Die manier hoe daar teen dit gewerk kan word, is om vas te stel wat in die begin vir julle gewerk het as ’n paartjie: Daardie dinge wat julle gedoen het wat julle naby aan mekaar laat voel het. Begin dit weer doen, stof dit af in julle verhouding. As julle mekaar verwaarloos het in julle verhouding, bely dit teenoor mekaar, vergewe mekaar en kies om iets daaraan te doen.

Begin om mekaar weer te date. Raak opgewonde oor mekaar. Vra vir mekaar vrae wat jou maat se wêreld weer aan jou kan verduidelik. Vrae soos: “Wat is tans die vyf belangrikste dinge in jou lewe en hoekom?” “Watter doel dink jy het ons verhouding tans?” “Wat dink jy wil die Here met ons verhouding en huwelik bereik?” “Wat is dit wat ek vir jou kan doen of sê wat jou veilig en geliefd sal laat voel in ons verhouding?”

Hou op fokus op die negatiewe en wat verkeerd gedoen is – ’n paartjie sukkel gewoonlik nie om voorbeelde vir die negatiewe te kry nie. Kies eerder om te fokus op die goeie en mooi in mekaar, en wys dit vir mekaar uit. Komplimenteer mekaar, waardeer mekaar en vra vir jou maat hoekom hy of sy nou juis daardie kompliment of waardering vandag gekies het om vir jou uit te wys.

As julle vrae opraak, kan julle gerus die Internet nader trek om vrae te kry, want daar is miljoene vrae. Die belangrikste is dat julle net weer mekaar se behoeftes en harte raaksien. Dit is nie altyd die maklikste om te doen nie, veral omdat die paartjie so lanklaas daar was. As ’n paartjie dit egter eers begin regkry, is daar sommer gou ’n nuwe vonkel in die oë van beide.

Die vraag of dit normaal is vir jou man om saam met sy vroulike kollegas uit te eet, is nie so maklik nie. As dit werksgerig is, deurdat hulle dalk saam ’n kliënt moet sien, kan ons nie sien dat dit ’n probleem is nie. As dit egter nie werksgerig is nie, maar meer gerig is op die sosiale skakeling na werk, dan het ons ’n probleem.

Dan dui dit dalk alreeds daarop dat hy emosioneel gemakliker skakel met iemand anders en dat daardie persoon besig is om sy direkte behoeftes aan te spreek. Vra jou man direk hieroor en vra hom om dit nie weer te doen as dit nie jou goedkeuring wegdra of as jy nie kan saamgaan nie.

As julle sukkel om bogenoemde raad toe te pas en die rede dalk is omdat julle mekaar net nie meer hoor nie, sou ons voorstel dat julle professionele persone vra om julle by te staan in hierdie proses.