Ek en my man is vier jaar getroud en dinge gaan nie so goed soos wat ’n mens sou hoop vir ’n jong getroude paartjie vandat ons twee seuns gebore is nie. My man is iemand wat elke aand sal liefde maak maar vir my is dit nie die geval nie – ek is, soos hulle sal sê, gelukkig met een keer elke twee weke. Dit maak dinge moeilik, want sê ek nee, is my man omgekrap daaroor. Die grootste probleem lê egter in die feit dat my man glad nie met my kommunikeer nie. Ek is besig om moedeloos te raak, want al wat ek vra, is dat hy met my praat en al wat hy soek is seks. Hy toon ook geen emosie teenoor my of die kinders nie.
Elmari Mulder-Craig, seksuoloog, huweliksberader en verhoudingskenner, antwoord:
Dit is ‘n probleem in baie huwelike dat die vrou meer emosionele intimiteit soek en die man op seksuele intimiteit fokus. Julle het ook libido-verskille. Hy wil meer en jy is gelukkig met een keer elke twee weke. Die probleem hier begin met die feit dat julle nie effektief kommunikeer of konflik konstruktief oplos nie. Jy wil gekoester en veilig voel – dit gebeur deur tyd aan mekaar te spandeer, te fokus op sensualiteit en nie seksuele fisiese aanraking nie, lekker dinge saam te doen, saam te lag en oor dieper dinge te praat. Daar is dikwels by kerke kommunikasie werkswinkels of huweliksverryking seminare. Vind uit wat beskikbaar is in jou omgewing.
Hierdie dinamika kan verander. Jy sal egter die regte tyd en plek moet kry en rustig met jou man moet praat oor die belangrikheid hiervan. Hoe verder julle van mekaar af dryf hoe groter kans is daar vir die huwelik om te misluk. Julle moet egter albei gemotiveerd wees om dinge te verander. Julle kan nie aanhou om dieselfde dinge te doen en ‘n ander uitkoms verwag nie.