Ons wil so graag leer hoe om konflik beter op te los. Ek en my man het beide vurige geaardhede en wanneer ons kwaad word vlam ons humeure só op dat dit vir albei van ons onmoontlik is om rede te sien. Ons kan in daardie oomblik nie eers begin dink aan ‘tegnieke’ nie want ons is so kwaad dat ons wil slange vang. Die gevolg is dat daar dinge gesê word wat eerder liefs maar moes gebly het. Ons albei weet dit is van ons swakste eienskappe en wil graag hieraan werk… maar al het ons die mooiste voornemens – sodra daardie eerste woorde van konflik geval het, is dit verby! Hoe nou?

Promosie

Gustav en Elna Muller, huweliksberaders van www.beterverhoudings.co.za antwoord:

Julle is, soos so baie ander paartjies, die slagoffers van ‘groefkommunikasie’.  Dit is ’n tipe kommunikasie waar twee mense in ’n gesprek al om die beurt hulle opinies oor die onderwerp van bespreking gee. Die gesprek gaan al in die rondte en in elke rondte eskaleer elkeen se opinie in ’n poging om deur die ander persoon gehoor te word. Kenners is dit eens dat daar geen groter oorsaak van woede is as die gevoel dat ’n mens nie gehoor word nie. Die enigste manier hoe julle uit hierdie groef gaan kom is deur julle kommunikasiestyl te verander. In plaas daarvan dat elkeen om die beurt sy opinie oor ’n saak gee, sal een van julle sy hart op ’n mooi manier moet deel terwyl die ander slegs belangstelling toon in wat gesê word. Oefen om dit reg te kry en julle sal dadelik verligting ervaar.

Promosie