“My man is in die vermaaklikheidsbedryf en ek werk normale kantoorure. Die gevolg is dat ons mekaar baie min elke aand sien en wanneer ons wel tyd saam het, moet ons administrasie uitsorteer. Dit voel asof dit deesdae al is wat ons saam doen – die “nitty gritty” onromantiese take . . . maar dit móét gedoen word. Wat is ons redding?

Promosie

Ons neem aan dat wanneer jy praat oor die nitty gritty onromantiese take, dit insluit om die huis aan die kant te maak, kos te maak, die kinders te versorg en rekeninge te betaal. Hier is ’n paar wenke wat ons hoop dinge sal vergemaklik:

  1. Gaan soek al die items wat in jou huis rondlê en nooit gebruik word nie – soos daardie haardroër wat só warm raak dat jy hom nie kan hanteer nie, die ou selfoonlaaiers, die lelike slaaibak wat jy as ’n trougeskenk gekry het, en pak dit in ’n groot boks. Maak jou huis dus vry van oorbodige items. Skenk die boks vir die kerk se kermis, die skool se rommelverkoping of neem dit na ’n tweedehandse winkel toe, en bestee die geld op ’n date night! Clutter het ’n groot uitwerking op ’n mens se gemoed en ’n uitgesorteerde omgewing laat ’n mens meer in beheer voel.
  2. Maak die kinders verantwoordelik groot. Jy doen hulle nie ’n guns deur hul klere agter hulle op te tel en hul boeke vir hulle in hul tasse te pak nie. Elkeen kan ’n klein takie in die huis hê (soos om vir die honde kos en water te gee), wat daardie take van jou en manlief se skouers af lig.
  3. Skakel jul televisie af. Baie mense kla dat hulle min tyd het vir mekaar, maar is uiteindelik verbaas om te ontdek hoeveel ure hulle voor die televisie deurbring. Ja, dit is die plek waar jy voel jy kan ontspan, maar maak een uur per aand televisievry (byvoorbeeld tussen 20:00 en 21:00 saans). Dit moet een uur wees wat julle niks móét-dinge doen nie, maar net met ’n glas wyn by mekaar ontspan.
  4. Beplan etes. Baie besige ma’s se tyd gaan nie soseer in die kosmaak self in nie, maar in die beplanning daarvan. Ken ons dit nie almal nie? Neem Sondag ’n uur om jou week se etes te beplan, maak seker jy het alles in jou yskas (en indien nie, gaan kry alles in een supermark-besoek). Nog beter – vind uit of daar nie iemand in jou omgewing is wat klaargaar etes verkoop nie. Dit werk dikwels veel goedkoper uit as om jou eie etes te maak en dit spaar hope tyd!
  5. In plaas daarvan om elke dag tyd te spandeer aan die móét-doen dinge, stel een dag per week vas hiervoor. Kyk na jul kalenders en teken dit aan as “admin-dag”. Julle sal verbaas wees hoeveel julle op een slag gedoen kry as julle gefokus is hierop. Doen ook gedurende dié tyd al jul banksake aanlyn.