Ek het ’n afkeer aan seks. Ek het nie seksuele trauma in my verlede nie, maar ek hou niks van seks nie. Om die waarheid te sê, dit walg my. Is seksuele aversie behandelbaar? En indien wel, hoe lank neem dit om ten volle te “genees”?
Dr Etienne Kok, ’n mediese dokter, seksuoloog, psigoterapeut en huweliksberader, sê:
Jy gee nie jou ouderdom nie en daar is ook min inligting oor jou seksuele opvoeding en ervarings in die verlede. Ons weet ook niks van jou verhoudingsgeskiedenis nie. Jy sê wel dat jy nie seksuele trauma ervaar het nie. Daarmee verstaan ek dinge soos byvoorbeeld molestering of verkragting. Dit sluit natuurlik nie ’n fisieke en/of emosioneel baie pynlike eerste seksuele ervaring (penetrasie of ander aktiwiteite) uit nie.
’n Mens kan ’n aversie in seks in die algemeen of met ’n spesifieke persoon en ’n sekere situasie hê, maar nog steeds ’n seksuele drang of behoefte ervaar en ook masturbeer.
Klassieke seksuele aversie word in die DSM 5 (Diagnostic and statistical manual of mental disorders) geklassifiseer as ’n “other specified sexual dysfunction”, terwyl dit in die vorige DSM IV-TR gesien was as die een kant van die spektrum van seksuele drangversteurings.
’n Persoon met ’n afkeer, walging of aversie in seks ly baie keer aan ’n tipe angsversteuring, wat dan ook ’n spesifieke fobie genoem kan word. Die gedagte aan of konfrontasie met seksuele aktiwiteite veroorsaak vrees, angstigheid en vermyding by die persoon, en het intense slegte gevoelens en stres tot gevolg.
As jy ’n ware aversie in seks het, sal jy baat vind by kognitiewe gedragsterapie (“CBT”), bewuswording (“mindfulness”) en sistematiese desensitisering. Jy mag ook medikasie en terapie benodig vir ’n angsversteuring. ’n Besoek aan ’n psigiater en/of ’n seksterapeut/sielkundige kan van groot waarde wees.
As jou huidige aversie in seks ontstaan het uit, of ’n gevolg is van, vorige pynlike seksuele ervarings (liggaamlik, emosioneel of verhoudings), moet dit ook aangespreek word. As jy dalk seks vermy omdat jy ’n vreeslike lae libido het, moet die oorsaak daarvan vasgestel word en kan dit ook behandel word.
Jy sal verder ook sekerheid moet kry oor jou seksuele oriëntasie, want as dit homoseksueel of aseksueel is, kan dit ook lei tot vermyding of aversie in seksuele kontak met die teenoorgestelde geslag of enige persoon, veral as jy innerlike konflik en skuldgevoelens hieroor beleef.