“Ek is al amper 20 jaar getroud en het twee tieners. Die slaapkamer is gemaak vir slaap. Ek sien geen plesier in bedpret en sulke goed nie. Ek wil uitvind – as my blaas gesak het, kan dit maak dat ek nie die nodige plesier voel wat ek veronderstel is om te voel nie? Ek het geen begeerte vir seks nie en kry ook geen bevrediging daaruit nie.”
Wilmé Steenekamp, mediese dokter, seksuoloog en sielkundige, antwoord:
Dit klink vir my of daar ’n hele paar fasette van jou gesondheid en sekslewe is wat ’n mens met groot sukses kan aanspreek. Dit klink amper asof jy effens negatief is teenoor seks met die stelling oor slaapkamers. Dalk is dit iets wat jy ’n bietjie in jouself moet ondersoek en self hulp voor moet kry. Dit sal jammer vir jou wees as jy vir die res van jou lewe só moet uitmis op ’n gegewe plesier. Wat jou blaas betref: Dis belangrik om die diagnose van ’n afgesakte blaas te laat maak omdat dit ook ander komplikasies kan hê. Tot iemand die diagnose vir jou bevestig het – hier is goeie raad vir alle manne en vroue wat bewys is as die heel beste behandeling teen ’n blaas wat sak: Oefen jou bekkenvloerspiere elke dag gereeld. Dis die groep spiere wat saamtrek wanneer jy piepie en jy probeer die stroom urine stop. As hulle geoefen is, lig hulle die hele vloer van die bekken op en die blaas lig ook effens op. Toevallig is dit ook een van die oefeninge wat beslis vir vrouens aanbeveel word omdat hulle dan makliker seksueel opgewek word en ’n orgasme kan kry! Probeer dit gerus en kry professionele hulp as jy nie vorder nie.