Ek skryf met ’n seer, stukkende, moedelose hart. Wanneer weet ’n mens daar is nie meer hoop vir jou huwelik nie? My man van amper twee jaar en beste vriend van vyf jaar leef nou sy eie lewe. Ek bestaan nie meer vir hom nie. Dit het meer as ’n jaar gelede begin, maar ek het bly veg vir ons huwelik. Ek het alles vir hom opgeoffer, alles agtergelaat en na hom toe getrek, na ’n ander land toe. In ons huwelik het ek steeds opofferings gemaak.

Promosie

Hy is ’n boer en ons bly op familiegrond, want dit is ’n familiebesigheid. Maar hy het nog altyd net tyd gehad vir sy werk en sy ouers. Hy spandeer die hele dag by hulle, elke dag van die week. Naweke, wanneer ek saam met hom alleentyd wil deurbring, ry hy ook na hulle toe en spandeer dan die naweek daar.

Dit is maar net die punt van die ysberg. Dit is ’n lang en eensame storie. Maar wat maak ek as ek niks meer vir hom is nie? Wanneer ek genoeg gehad het van seerkry en ’n liefdelose huwelik? Wanneer ek nie meer kan toekyk hoe my jeug in ’n gat van pyn verdwyn nie? Asseblief, gee raad. Ek woon in ’n klein dorpie en hier is niemand met wie ek my seer kan deel nie.

Ons het by twee medewerkers antwoord gekry.

Promosie

Wilmé Steenekamp, ’n mediese dokter en terapeut, antwoord:

Dit klink vir seker of jy baie swaar kry in die situasie waarin jy jou bevind. Die heel eerste prys sou wees dat jy met hom sou kon deel dat jy eensaam, misken en afgeskeep voel en dat julle saam sou kon praat oor kompromieë wat vir julle albei sou kon werk. Dit lyk vir my asof jy wel toegang tot die Internet het, so daarom beveel ek aan dat jy inligting gaan soek wat jou kan help met kommunikasie oor jou behoeftes en sinvolle kommunikasie tussen ’n paartjie. Een só ’n webblad-raadgewer is Claire Hatch – gaan loer ’n bietjie.

Ek dink dis belangrik dat jy eers baie duidelik vir jouself kan formuleer wat jou behoeftes is, waarvoor jy wil vra by jou man, wat jy wil hê hy moet hoor. Maak dan seker dat jy hom nie beskuldig, aanval, dreig, eise stel, intimideer of manipuleer wanneer jy met hom daaroor praat nie – verduidelik net vir hom wat jou behoeftes aan kontak met hom is.

Iets soos: “Ek  het die behoefte dat ons elke naweek een lekker aktiwiteit saam moet doen – net ons twee.” Of: “Ek wil vreeslik graag hê ons moet alleentyd saam spandeer een keer per week. Wanneer en hoe sal jou pas?” Die manier waarop ons ons behoeftes op die tafel sit, maak ’n groot verskil aan hoe die ander persoon luister. As jy aanvallend is, gaan hy homself verdedig en ophou luister.

As jy hierdie klaar gedoen het en steeds nie seker is wat om te doen nie, bestel vir jou die boek Too good to leave, too bad to stay, deur Mira Kirshenbaum. Dit help ’n mens om jou eie situasie te evalueer en raak te sien watter fasette van jou verhouding wel vir jou werk en watter nie. Nog ’n opsie sou wees om ’n verhoudingskommunikasie-naweek in Suid-Afrika te kom bywoon (ek weet nie waar julle bly nie) – kyk by www.huwelike.co.za.

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:

Ons wil sommer in die eerste plek vir jou dankie sê dat jy nie net opgee op ’n vriendskap en ’n huwelik nie. Dit sê baie van jou karakter en jou deursettingsvermoë. In die eerste plek glo ons daar is altyd hoop in ’n huweliksverhouding wat ’n afdraaipaadjie gevat het.

Wat wel belangrik is, is dat beide partye in die huweliksverhouding moet kies om die pad van herstel te loop. In julle geval het daar nog nie baie fisiese tyd verloop nie, so die gesonde huweliksverhouding en die kosbare vriendskap wat julle gehad het, is nie te ver in julle geheues gebêre nie. Dit maak die proses al klaar makliker.

Ons dink julle het eenvoudig aanvaar dat julle verhouding vanself sal groei. Dit klink of julle groot skuiwe gemaak het sommer vroeg in julle verhouding en ons wonder maar net of julle ooit die tyd opsy gesit het as ’n paartjie om die impak daarvan op julle verhouding te bespreek. Dikwels dink paartjies omdat hulle goeie vriende is, sal die probleme goed hanteer kan word, want jy weet mos hoe ek dink en ek weet hoe jy dink. Dit is egter ’n groot fout. Moet nooit dink dat jy weet wat jou maat dink of andersom nie. Maak altyd seker wat die ware feite is.

Miskien moet jy ’n afspraak met jou man maak en hom neem na ’n plek wat buite julle bekende omgewing is en vir hom vertel hoe jy voel. Vertel hom dan ook dat jy dink dat jy sy behoeftes nie meer aanspreek nie en eintlik glad nie weet wat dit is nie. Vra hom om aan jou te verduidelik wat hy in die huwelik en spesifiek van jou soek. Miskien wag hy net vir ’n geleentheid om dit met jou te deel. Probeer in sy gedagtewêreld kom en probeer verstaan waar hy is. Ontmoet hom daar. Vertel hom dan ook dat jy hom graag weer as jou beste vriend wil sien en wat hy kan doen om jou weer op daardie gebied te ontmoet.

Ons dink dat die besoeke aan sy familie dalk op twee dinge kan dui. Eerstens dat dit nou sy veilige plek geword het en daarom “vlug” hy elke keer daarheen. Dit is sy ontvlugtingsmeganisme wat hy opgerig het vir hom om veiligheid te ervaar. Jy is veronderstel om daardie veilige plek te wees. Jy sal egter nie weet hoe om só ’n veilige plek te skep as jy nie vra nie. Vra wat hy as veiligheid in ’n verhouding sien gedurende die afspraak waarvan ons hierbo gepraat het.

Die tweede rede kan wees dat dit sy manier van ’n uitroep na jou kant toe kan wees. Hy weet dalk nie hoe om vir jou in woorde te sê dat hy julle konneksie wil terug hê nie. Nou doen hy dinge wat jou sal dwing om met hom te praat. Dit skep dan die geleentheid om in daardie gesprek oor die konneksie te praat en dit weer te herstel.

Ons sou voorstel dat as julle albei julle gedagtes en behoeftes met mekaar gedeel het, julle wel ’n professionele persoon gaan sien wat julle met die proses vorentoe kan help. Sterkte. (Antwoord verkort).