Dit is nooit lekker om kritiek te ontvang nie, maar soms is dit vir jou nodig om dit uit te deel. Wees egter versigtig – dra dit verkeerd oor en jou huwelik kan skade ly.

Promosie

Jy staan in die badkamer, vyf minute voor julle moet ry, besig om tande te borsel. Sy kom staan in die deur en bly tjoepstil. Jy kan sien sy het iets op die hart, maar jy wil eerder nie hoor wat dit is nie. Dan: “Liefie, dink jy nie jy moet ’n ander hemp aantrek nie.? “Hmm,” dink jy. Asof die “liefie” nou veronderstel is om haar comment te versag. “Hoekom? Ek hou van dié een,” antwoord jy so deur die borsel. Sy oordink weer haar woorde: “Dis net… jy dra áltyd check hemde en dit raak nou ’n bietjie moeg. Wat van daardie funky een wat ek laas week vir jou gekoop het?” Jy kan aan ’n duisend redes dink hoekom nié (soos dat daardie hemp die kleur is van bababraaksel, maar antwoord haar: “Ek dink check hemde lyk goed aan my.” Haar houding verander effens en dan sê sy skerp: “Om die waarheid te sê, jy lyk ’n bietjie 1990’s. En daar­die kleur laat jou gesig so pienk soos ’n varkie lyk. Die hemp span boonop bo-oor jou… eh… middellyf.” Sjoe. Wanneer sy reguit is, is sy reguit. En skielik voel jy nie eers meer lus vir ’n party nie! Jy wil after all nie lyk soos ’n 1990’s-varkie met ’n vet pens nie!

John Gottman, ’n navorser oor kommunikasie tussen paartjies, sê dit is algemeen vir paartjies wat verskil om mekaar uit woede en frustrasie te kritiseer. Volgens hom is dit die eerste negatiewe konflikbestuurstyl van sy Four Horsemen of the Apocalypse wat huwelike kan vernietig. Dit is algemeen, ja. Luister maar hoe baie ou getroude paartjies mekaar sonder om te blik of te bloos in die geselskap van ander kritiseer. Hy meen: “Om krities te wees, is nie boos nie – dit kan onskuldig genoeg begin en is dikwels ’n uitdrukking van opgehoopte, onopgeloste woede. Probleme ontstaan wanneer kritiek só voortduur – of een party sensitief is daarvoor – dat dit die huwelik laat verspoel.” Kritiek vernietig vertroue en skep woede en verdedi-ging. Dit kom egter voor in bykans elke verhouding en hoe jy dit hanteer, maak die verskil tussen ’n positiewe, gesonde huwelik en een wat sukkel.

Jy gaan deur jou hele lewe gekon­fronteer word met kritiek. Soms is dit gegrond en ander kere nie. Soms gaan jy dit waardeer en ander kere gaan jy bloot in die gesig gevat voel! Probeer onthou dat die persoon wat die kritiek uitdeel gewoonlik net probeer help. Sê dankie vir die terugvoer en luister dan daarna. As jy nie vroulief se kritiek verstaan nie, kan jy vir haar vra om dit vir jou duideliker te maak. “So jy hou nie daarvan as ek check hemde dra nie. Is dit al my check hemde of net die bloues?” Só inisieer jy ’n gesprek en kan julle tot ’n vergelyking kom.

Promosie

So hoe maak jy as jy kritiek wil uitdeel?

  1. Hou op om jou sinne met “Jy” te begin. Dit is soos om skuld op jou maat te plaas en te sê dat hy of sy ’n persoon­likheidsdefek het. Sê eerder: “Ek voel…” of “Ek dink…” om te wys jy is ongelukkig met iets wat gebeur het. Dit is nie ’n maklike gewoonte om ná ’n lang tyd te verbreek nie, maar dit is moontlik.
  2. Volgende keer wat jy haar wil kritiseer vir die feit dat sy áltyd te veel sout in die kos gooi, maak op daardie oomblik ’n lysie in jou kop van al haar goeie karaktereienskappe en dat sy moeite doen om vir julle ’n gebalanseerde tuisgemaakte maaltyd te maak, eerder as om iets by Wool­lies te gaan kry. Fokus op al haar positiewe eienskappe en probeer om die negatiewe bietjie opsy te skuif.
  3. In plaas daarvan om kritiek uit te deel, rig ’n versoek aan haar. Draai jou versoek toe in liefde, wees spesifiek en vertel haar hoeveel dit vir jou sal beteken as sy daardie verandering sou maak.
  4. Kies die regte oomblik. Moenie uit frustrasie of woede praat nie. Dit help om te wag tot jou emosies bedaar het voordat jy jou woorde uiter.
  5. Moenie aanval of die skuld op jou maat plaas nie. Moet nooit só kritiseer dat jou maat voel sy moet haarself verdedig nie. Om haar name te noem, gaan nie die regte uitwerking hê nie. Vra jouself af: As dit jy was, hoe sou jy wou hê sy moet die saak benader?
  6. Wees reguit, maar nederig. Daar is niks mee fout om ’n probleem in jou huwelik aan te spreek nie. Dit is nodig vir die behoud van jou verhouding. Maar jou intensies, ingesteldheid en houding moet reg wees. Beheer jou emosies.
  7. Moenie ’n onmiddellike resultaat ver­wag nie. As jy aandring daarop dat sy “skuld erken”, kan jy jouself gereed maak vir teleurstelling. Niemand hanteer kritiek goed nie, so wees tevrede met die idee dat jy gesê het wat jy wou en dat jou maat daarvan weet. Gebruik tyd en geduld.

Beperk maar die kritiek tot die minimum. En onthou gerus die woorde van William Arthur Ward: “Flatter me, and I may not believe you. Criticise me, and I may not like you. Ignore me, and I may not forgive you. Encourage me, and I will not forget you. Love me and I may be forced to love you.”

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: marriagemoment.org; mfgmarriage.com; sheknows.com