My en my maat se liefdestaal is gehaltetyd. Dis vir ons belangrik om lekker dinge saam te doen en ek kan agterkom dat ons liefdestenks sommer weer propvol is nadat ons ’n dag saam deurgebring het. Die ding is, met ’n baba in die huis raak hierdie tydjies al hoe minder en ek kan agterkom dat daardie tenk deesdae op “empty” loop. Enige voorstelle vir lekker dinge wat ons saam kan doen as nuwe, jong ouers?

Promosie

Sjoe, dit is ’n uitdaging om steeds dieselfde dinamika te behou in ’n huwelik ná die koms van ’n baba. Die goeie nuus is, dit is egter heeltemal moontlik!. Baie ma’s se tenks loop leeg, nie net vanweë emosionele behoeftes nie, maar ook vanweë fisieke moegheid en – wanneer die ma gewoond is aan ’n stywe pas by die werk – ’n gevoel van “nutteloosheid” gedurende kraamverlof. Gesels hieroor met jou man en laat hom verstaan dat jy nou gehaltetyd saam met hom nodiger het as ooit tevore!

  • Vra hom om jou tydens voedings geselskap te hou. Dit is dalk nie heeltemal moontlik vir hom om met elke voeding op te staan nie, maar om een keer per nag op te staan en saam met jou ’n koppie tee te drink terwyl jy jul baba voed, is kosbare tye en skep ’n gevoel van “ons is saam in dié ding”.
  • As jy kan uitmelk of bottel gee, en julle wel ’n baba-oppasser gereël kry, is ’n spa-behandeling die ideale manier van ontlading.

Hier is ’n paar wenke vir hoe jy en manlief die meeste uit ’n couples spa-ervaring kan kry:

* Kies julle tydsgleuf versigtig. Die idee van ’n spa-massering byvoorbeeld, is om te ontspan en af te skakel. As julle dus gaan spa met die idee om daarná te gaan werk of oefen, mis julle die punt. Skeduleer jul massering vir die einde van die dag of selfs vir die aand.

Promosie

* Daag betyds op. By ’n gewone dagspa met aantrekkamers, kamerjasse, stoomkamers en saunas, daag sowat 15 minute vroeër op. Julle het nodig om te verklee en papierwerk in te vul. Daar is niks so sleg as om te jaag na jul behandeling. Gun julself ’n paar minute om vooraf te ontspan.

* Dink aan die terapeut. Ons weet jy is ’n nuwe ma en jy het waarskynlik ’n week laas gedínk aan hare was en beenhare skeer, maar vóór jou behandeling is dit tog belangrik om bietjie aandag hieraan te gee – uit goeie maniere en respek vir jou terapeut – en om jou eie selfbeeld ’n boost te gee! En as julle vooraf tyd in die sauna of swembad spandeer het, neem eers ’n stort voor jul massering – julle wil nie hê die chloor moet in jul lywe in masseer word nie.

* Moenie ’n groot maaltyd eet voor jul spa-behandeling nie, maar eet wel iets ligs so twee ure voor die tyd. Julle wil nie op die masseertafels lê terwyl julle mae grom nie, maar julle wil seker maak daar is tyd vir jul kos om te verteer vóór die massering! By Kievitskroon (www.kievitskroon.co.za) in Pretoria kan jy byvoorbeeld ’n heerlike tuisgemaakte ystee drink saam ’n ligte gesonde vinger-ete voor jy jou afspraak het

* Jy voel dalk soos ’n voëltjie wat ná ’n lang tyd uit haar kou gelaat word, maar as jy en manlief vooraf iets gaan eet, moenie jou vergryp aan die wyn nie (ons wéét jy het dit nodig – veral nou dat jy vir die eerste keer uitgemelk het!). Een glas wyn is okay, maar meer as dit kan jou sensasie verdof – en jy wil tog voordeel trek uit elke oomblik van jou spa-ervaring.

*By sommige spa’s het jy die opsie tussen ’n manlike en vroulike terapeut. Hoewel sommige mense hou van die fermer druk wat ‘n manlike terapeut kan gee, sal jou man dalk vreemd voel as ’n paar manshande hom masseer. Wees egter gerus dat die meeste terapeute sterk hande het en in staat is tot ’n diepdruk massering. Maak seker julle laat die terapeut weet as haar druk te lig of te ferm is.

*Besluit vooraf of julle in stilte jul couples massering wil geniet en of julle verlore tyd wil inhaal. Enigiets is aanvaarbaar maar julle verwagtinge moet ooreenkom.

As jou baba baie klein is, is jy dalk skrikkerig om hom/haar alleen by ’n oppasser te los, en wanneer jy borsvoed, is dit buite die kwessie. Vra jou ma of vriendin om vir ’n kort rukkie na die baba te kom kyk terwyl jy en manlief ontspan met ’n spa-behandeling – by die huis! Deesdae is daar verskeie mobiele spa’s, soos Ikhutsa Spa (www.Ikhutsa-spa.co.za), waar terapeute na jou huis toe kom en die behandeling in die gemak van jou eie huis gee.