Vir Annerie van Wyk* was seks ondraaglik, maar ná verskeie kundiges se pogings misluk het, het sy bykans moed opgegee en berus by die feit dat sy die liefdesdaad nooit met plesier sou kon assosieer nie. Tot die dag wat alles gedraai het . . .
“As iemand my ’n paar jaar gelede sou vra: ‘Hoe voel seks?’, sou my eerste reaksie wees om te sê: ‘Dit brand,’” vertel Annerie in ’n brief aan INTIEM. Haar verhaal begin op hul huweliksnag 23 jaar gelede. Waar ander jong bruide effens ongemak ervaar, was seks vir haar baie seer. Omdat sy vooraf gelees het dat ’n maagdevlies wat skeur, pynlik kan wees en selfs kan bloei, het sy geglo dít wat sy ervaar het, is normaal.
Maar: “Ons wittebrood het, wat die seksdaad aanbetref, misluk.” Haar man, Karel*, was ondersteunend, maar baie teleurgesteld. Sy het gespanne en verward gevoel.
Die eerste poging
Terug by die huis het dinge nie verbeter nie. Hul spanningsvlakke was hoog en Annerie is ginekoloog toe. “Hy het my ondersoek en bevind dat my vagina se opening te smal is. Al wat sou help, volgens hom, was dat dit gerek moes word. Ek is dus in die hospitaal opgeneem en my vagina is onder narkose gerek. Agterna was dit baie seer, aangesien daar klein skeurtjies in die weefsel was, wat ontsettend gebrand het as ek urineer het.”
Dit was swaar, maar Annerie het moedig bly glo dat alles sou regkom. Toe die hersteltydperk verby was, was Karel gretig om weer te probeer, maar sy (wat in daardie stadium geweet het alles is nie pluis nie) was huiwerig. Sy het wel voortgegaan, maar dit was ’n ramp! “Penetrasie was onuithoudbaar, het soos vuur gebrand en ek het heelwat gebloei. Dit was vir my baie traumaties.”
Geleidelik het sy gesond geword en hulle het af en toe penetrerende seks gehad. “Dit het elke keer vir my gevoel of iemand ’n gloeiende staaf in my vagina druk. Selfs die oggend ná seks die vorige aand het ek steeds die brandgevoel gehad. Ek het seks begin vermy en gevoel ek is nie ’n goeie vrou vir my man nie,” vertel Annerie.
’n Nuwe diagnose
Sy het later weer besoek by die ginekoloog afgelê, waar bevind is dat niks fisiek met haar verkeerd is nie en dat die enigste verklaring is dat die probleem psigies is. Sy het ’n seksterapeut gaan sien, wat terstond verklaar het dat Annerie bloot ’n vrees vir haar man se penis het. “Sy het vir my ’n stel speelkaarte gegee met foto’s van ’n klomp mans se penisse. Ek moes elke dag daarna kyk. Dit was vir my aaklig en ek het die terapie ná twee besoeke gestaak.”
Karel was teleurgesteld dat sy nie wou volhou nie en het gefrustreerd gesê: “Jy moet net jou kop regkry!” Hierdie ongemaklikheid in hul huwelik het gou in ’n probleem ontaard. Karel het haar meestal ondersteun, maar daar was tye wat dit baie sleg met hulle gegaan het en Annerie het soos ’n mislukking gevoel.
“Om met iemand hieroor te praat, was ondenkbaar en ek het stoksielalleen gevoel. As jy jonk getroud is, gebeur dit soms dat mense grappies maak en insinueer dat seks al is waaraan ’n mens kan dink. My hart het inmekaar gekrimp, maar ek en my man het maar vir die grappies gelag. Ek het hom só jammer gekry.”
Annerie en Karel het twee kinders. Omdat sy presies geweet het wanneer sy ovuleer, kon sy op die regte tyd penetrasie verduur. “Dit het natuurlik my klagte oor pynlike seks belaglik laat klink. Daar is mos nie iets soos windbestuiwing nie! En as ’n vrou normaal kan geboorte gee, kan daar mos onmoontlik probleme met haar vagina wees! Dit het die gedagte dat alles net in haar kop is, bevestig en later het Annerie self begin wonder of die kenners nie reg was nie . . . maar as hulle was, hoe kon sy haar kop “regkry”?
Haar man het gesmag na penetrerende seks en Annerie wou dit vermy. Vandag het sy nie juis herinneringe aan fisieke intimiteit nie. “My geheue blokkeer dit heeltemal uit.”
Hopelose pogings
Sy het weer die moed bymekaar geskraap om na ’n ander dokter te gaan. Sy diagnose: Hy moes onder narkose sny. “Wat presies hy gedoen het (en ’n paar jaar later herhaal het), sal ek nooit weet nie, maar jare later moes ’n ander dokter die littekens wat hierdie operasies gelaat het, uitsny. Daar is steeds litteken-weefsel.”
Haar hersteltyd was lank en baie pynlik. Sy moes salf gebruik en onthou hoe rou en stukkend haar vagina inwendig gevoel het. Sy self was ook stukkend . . . “Ek het anti-depressante begin gebruik – wat dikwels ook die libido verlaag. Ek sou nie ’n verskil agterkom nie, want ek het geen seksuele gevoelens gehad nie en ek het myself nie as volkome vrou gesien nie.”
Behandeling ná behandeling het gevolg. Salf ná salf. Sonder enige sukses. Een van die konkoksies wat ’n dokter vir haar aangemaak het, het só erg gebrand dat die bloed deur die rou weefsel gesypel het. Sy het mishandel gevoel, maar geleer om saam met haar probleem te leef – elke keer teleurgesteld ná elke flikker van hoop tevergeefs was. Die druk op hul huwelik was swaar. Hoe minder seks daar was, hoe meer gefrustreerd en ongeduldig was hy.
Wat eens “haar probleem” was, het omgeskakel in “hulle probleem”. Tog: “Ek het dit as ’n reuse las op my skouers ervaar – as ek ingestem het vir seks, het sy stresvlakke gedaal en was daar weer vrede in die huis.” Sy het dus die gespanne atmosfeer as ’n direkte aanklag beleef. Daar was verwyte van Karel se kant af. En Annerie het bang geword vir dokters en terapeute . . . tot dinge eendag gedraai het.
Die keerpunt
Annerie het te hore gekom van dr Elna Rudolph, die hoof van ’n seksuele gesondheidskliniek met takke in Pretoria, Johannesburg, Kaapstad en Witbank. Toe Elna hoor wat Annerie moes deurmaak, kon sy dit nie glo nie. Sy het ook gou ’n verband gesien tussen Annerie se seksuele probleem en ander gesondheidskwale soos hardlywigheid, pyn in haar stuitjie en chroniese seer heupe.
“Vir die eerste keer in al die jare het ek gevoel ek is by iemand met genoegsame kennis wat my regtig kan en wil help. Ek het veilig gevoel. Die vlammetjie van hoop het weer gebrand!”
Sy het ook die boek ‘When Sex Hurts” van Andrew en Irwin Goldstein en Caroline Pukall gelees. “Dit was verstommend om te lees dat al my probleme fisies verklaarbaar is. Dit het by tye gevoel of hulle oor my skryf!” Uiteindelik het haar probleem ’n naam gekry: Disfunksie van die pelviese vloer.
In leketaal het dit beteken dat die spiere in haar bekken te styf was. Daarmee saam was die weefsel in haar vagina chronies ontsteek en die littekens van die operasies was sensitief. Elna het salf voorgeskryf om die weefsel sterk en gesond te hou. Annerie en Karel was ook vir terapie by dr Elmari Craig, INTIEM-medewerker en bekende seksuoloog. “Ons het haar saam en afsonderlik gesien, en dit het baie vir ons verhouding beteken. Ek moes leer om my seksualiteit te koester.”
Cecilia Raath, ’n fisioterapeut wat in die werking van bekkenvloerspiere spesialiseer, het haar ook inwendig behandel – vaginaal en anaal. Aanvanklik was dit baie bedreigend. Maar sy het geweet sy moes hier ’n kopskuif maak. “Om my huwelik te red, was ’n groot prioriteit en dié ‘opgee van privaatheid’ was ’n baie klein prys om te betaal.”
Die terapie het ’n reuse verskil gemaak en Annerie doen steeds oefeninge om die spiere te strek. Die probleem was lank deel van hul lewens, maar hulle kon uiteindelik vrede hiermee maak omdat hulle die korrekte diagnose het en by kundiges uitgekom het wat dit reg kan behandel. “Die eerste keer wat ek seks ervaar het sonder dat dit brand, het ek gehuil. Wat ’n verligting om te kon weet dit ís moontlik!”
Anneri stap ’n pad saam met die kundiges wat haar bystaan. Soms is seks steeds seer, maar sy weet nou waar om hulp te kry. Hulle het ook tot die besef gekom dat penetrasie-seks nie die alfa en omega is nie.
Dit was ’n beproewing vir hul huwelik en Annerie en Karel het saam baie sakke sout saam opgeëet, maar sy kan nou in dankbaarheid sê dat hul huwelik sterk en stabiel is. “Ek prys God daarvoor! En ek is eindeloos dankbaar vir my goeie man wat die pad saam met my loop. Hy verdien ’n medalje! En as ek dink aan Elna, Elmari en Cecilia – wat soveel omgee vir hul pasiënte – weet ek dat ’n mens nooit moet moed verloor nie. Daar ís hulp beskikbaar. Daar is altyd hoop . . .”
*Skuilname is gebruik