’n Mens is dikwels net een besluit of een tree weg van ’n totaal ander lewe. Hoe breek ’n mens weg van middelmatigheid en ’n gejaag na wind? Ontdek hoe jy en jou huweliksmaat die miertjies in die oerwoud kan raaksien en waardeer, en hoe dít vir julle groot verandering en perspektief kan bring.

Promosie

Dit wat waarlik kosbaar is in die lewe, word dikwels nie met ’n trompetgeskal aangekondig nie. Nee, die wonder van jou huwelik en geloofslewe lê dikwels in klein dingetjies wat jy amper terloops ontdek. Hier is ’n agt-week-lange plan hoe julle met klein treë die groot dinge kan ontsluit. Dít is hoe julle anders na die lewe kan begin kyk.

Lees elke dag van die week die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.

Week 1: Koop ’n padkaart
Delf dieper: Eksodus 20:1-17.

Promosie

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Al weet jy waar jy wil uitkom, is ’n padkaart betekenisloos as jy nie weet waar jy op die kaart is nie. Die padkaart vir die lewe en ons verhouding met God en mekaar werk ook só. Mag God se padkaart (die Tien Gebooie) julle as huweliksmaats begelei wanneer die padtekens van die wêreld julle laat verdwaal, wanneer die grondpaaie te rof raak, wanneer jy honger is en koud kry, wanneer jy ’n berg moet oorkom of wanneer jy ’n rivier moet oorsteek.
Bid vir: Die Tien Gebooie in jul huwelik, en hoe julle dit in jul huwelik lewendig en nuut kan maak.

Week 2: Skoene en ’n stapstok
Delf dieper: Efesiërs 6:10-20.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Die vyand probeer alles in sy vermoë om verhoudings op te breek, veral huwelike. Daarom hoop hy dat die rowwe grondpaaie, hoë berge en sterk riviere ons van stryk sal bring. Goeie stapskoene en ’n stapstok help ons op die pad. Gesels met mekaar oor die uitdagings wat julle beleef het en hoe die Here julle daardeur gelei het.
Bid vir: Jul geestelike wapenrusting en hoe dit julle kan bemagtig.

Week 3: Klein begin
Delf dieper: Filippense 3.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Soms lyk sekere paaie baie aanloklik. In hierdie gedeelte waarsku Paulus die gemeente teen mense wat hulle van die pad af probeer lei. Hy moedig hulle aan om sy voorbeeld te volg en koers te hou op die pad waarmee hulle tot hiertoe gekom het (vers 16-17). Deel met jou huweliksmaat die pad wat julle tot hier gebring het.
Bid vir: Jou huweliksmaat en dat julle albei Christus waarlik sal ken.

Week 4: Waardeer die hier en die nou
Delf dieper: Prediker 3.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Op ’n staproete help dit niks om so vinnig as moontlik by die eindpunt te wil uitkom nie. Jy mis die punt. Prediker help ons hier om die oomblikke van die lewe saam met mekaar te waardeer. Hoe word die tyd in julle huwelik bestee?
Bid vir: Julle tydsbestuur, prioritisering en dat julle God se wil vir jul huwelik sal ontdek.

Week 5: Sit ’n verwonderingsbril op
Delf dieper: Psalm 104.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Ons staan in verwondering oor dit wat ons op die pad sien. Gesels met mekaar oor die “God-oomblikke” wat julle saam ervaar het.
Bid vir: Verwondering oor God as Skepper van die aarde.

Week 6: Klein dade, groot liefde
Delf dieper: Filippense 2:1-4.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Selfsug vernietig verhoudings. As jy vol is van jouself, is daar nie plek vir God of ander nie. Paulus waarsku dat daar nie trone in ons verhoudings moet wees nie. Is dit waar van julle verhouding?
Bid vir: Die strewe om Christus se voorbeeld na ander uit te leef.

Week 7: Nimmereindigende verwondering
Delf dieper: Psalm 8.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Staan jy nog in verwondering oor die persoon met wie jy getroud is? Gesels met mekaar oor die eienskappe van God wat jy in jou huweliksmaat sien.
Bid vir: ’n Lewe van dankbaarheid. Bid dat julle nooit gemaksugtig sal word in jul huwelik en geloof nie.

Week 8: Stel jouself in, word klei
Delf dieper: Jeremia 18:1-17.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Vir klei om gevorm te word, moet dit totaal oorgegee wees aan die pottebakker. Het jy al op ’n punt gekom waar jy totaal oorgegee leef in die Pottebakker se hande?
Bid vir: Jul lewe in God se hand. Bid dat julle julself sal laat vorm na God se beeld.

Wanneer ’n mens die klein dingetjies in jou huwelik en geloofslewe waardeer, is jy elke dag op ’n pad van verwondering en nederigheid. Dit sal julle ook help om nie onvergenoegd te raak in ’n wêreld wat vir jou voorskryf om met jou bure, kollegas en selfs familie te kompeteer nie. As jul ingesteldheid op hierdie klein treë bly, gaan jul uitkyk, gesindheid en ingesteldheid verander. Beleef die wêreld weer opnuut soos ’n kind. Streef na ’n lewe van eenvoud, want in dít lê ware vervulling.

 

Deur Lize Groenewald
Ds Ettienne Engelbrecht is ’n leraar by die NG Kerk Drie Riviere-Oos in Vereeniging. Hy is getroud en het ’n dogter.