Een oomblik het jy en jou vrou nog sterre in jul oë, julle geniet lang romantiese etes en pak opwindende avonture saam aan. Julle is ’n wenspan en voel julle is gereed vir die volgende fase in jul huwelik . . . en dan kom daar ’n skreeuende baba wat al jul energie en aandag vra. Meteens is jou rol as pa radikaal anders as enkele maande gelede . . .
“Met ons eerste baba het dinge aanvanklik nie baie verander nie,” vertel Jaco de Kock (45), die pa van drie woelwaters, Leana (10), Jacobus (7) en Janli (5). Sy vrou, Anél (41) het haar fokus na die baba gedraai, en hy het meer tyd gekry om te werk. Ek is vroeg soggens kantoor toe en het tot laat in die aande gewerk. My krisis was dat ek vir die eerste keer besef het ek moet voorsien, en daaroor begin stres het. Voorheen was ek nie bekommerd oor my inkomste nie, en gedink as iets nie uitwerk nie, begin ek maar net weer oor. Nou skielik was daar die bekommernis dat dinge móét uitwerk,” vertel Jaco.
’n Paar maande later het die probleme eers begin. “Die baba het min geslaap, en ek het steeds lang ure gewerk. Die verskil was dat, wanneer ek my drie ure se slaap wou inkry, was die baba ook wakker. Dus het ons nou baie minder geslaap. Ons het wel probeer om aan mekaar aandag te gee – wanneer die baba vroeg aan die slaap geraak het, het ons gou ’n bottel wyn oopgemaak en mekaar ’n bietjie aandag gegee. Die probleem was, wanneer die baba vroeg gaan slaap, word sy gou weer wakker en dan moet jy maar opstaan,” sê Jaco. Vir hom was een van die grootste ontnugterings die verandering in aandetes. “Anél het altyd baie lekker kos gemaak en gesorg dat ons elke aand ’n heerlike ete het. Ek was ontnugter toe ek uitvind dat visvingers ook aandete kan wees. En dit raak nie beter nie – tien jaar later en visvingers is steeds ons stapelvoedsel!” skerts Jaco.
’n Zzzz-afspraak
“Ons het altyd probeer om tyd vir mekaar te maak, maar dit werk nie altyd uit nie. Ons het deurgaans probeer om een keer ’n maand iets saam te doen – aandete of soms ’n ontbyt. Die meeste van die tyd het ons egter nadat ons die baba by Ouma afgelaai het reguit huis toe gery, visvingers en brood geëet en in die bed geklim – en nie vir pret nie – vir ’n paar minute se lees en dan omdraai en slaap. My saving grace was dat ons steeds baie kon weggaan. Ons het nog altyd gesorg dat ons een naweek ’n maand weggaan. Leana se eerste kamp (na haar geboorte) was op tien dae. Van daar het ons dit nog altyd reg gekry maar nou doen die kinders sport op Saterdae – nou kan ons nie meer so baie weggaan nie.” Jaco sê dat hy en Anél beslis meer met mekaar praat as voor die kinders, die probleem is dit waaroor hulle praat. “Jy kan nie glo hoeveel gesê kan word oor die eerste tand of die kleur van die doek nie! Al die moegheid maak mens ook meer kort van draad.” Jaco en Anél probeer om daarop te fokus om te midde van die chaos van tyd tot tyd dankie en asseblief te sê, en selfs die ou troetelnaampies vir mekaar te gebruik. “Sê gereeld vir jou vrou dat sy mooi lyk, maar selfs meer belangrik komplimenteer haar dat sy ’n goeie ma is,” sê Jaco.
Koester jul vriendskap
Zandie Shabangu, ’n opvoedkundige sielkundige van Vanderbijlpark, se raad is dat hierdie oorgangstydperk en nuwe fase in ’n paartjie se lewens met baie wysheid hanteer moet word, anders kan dit daartoe lei dat die paartjie uitmekaar dryf. “’n Paartjie moet altyd onthou om hul verhouding te koester, want hulle het mekaar se ondersteuning nodig wanneer hulle die kind of kinders moet grootmaak. Dit is ook belangrik om te onthou dat wanneer die kind groot en onafhanklik is, die pa en ma moet kan voortgaan met hul verhouding as paartjie. Hier is ’n paar wenke hoe julle kan verhoed dat julle uitmekaar dryf voor en selfs na die geboorte van jul baba:
- Gaan voor die baba gebore word vir berading (en ook na die baba gebore is) om julle te help om uit te werk hoe julle jul verhouding in stand gaan hou na die baba se geboorte.
- Sorg dat julle die vriendskap tussen julle in stand hou tydens hierdie oorgangsfase na ouerskap. Sorg dat jy op hoogte bly van jou maat se behoeftes – dit is baie krities vir julle om ten diepste verbind te bly en vir die intimiteit tussen julle. Wees byvoorbeeld bewus van wat in jou maat se werksplek aangaan en vra jou maat hoe hy/sy voel oor die teenwoordigheid van die baba in die gesin. Oop en eerlike kommunikasie is ’n belangrike sleutel om julle verhouding te versterk.
- Maak tyd vir ’n daaglikse stresvermindering of ontlontingsessie waar julle die frustrasies van die dag kan bespreek, maar onthou: dit is ook belangrik om die goeie goed wat gebeur het, te bespreek.
- Neem die ouerskapstaak saam aan en oppas om in die gat te trap deur die “super-ouer” te probeer wees. Deel die verantwoordelikhede met mekaar.
Baie ouers erken dat niks hulle op ouerskap kon voorberei nie en elke gesin ontwikkel mettertyd hul eie ritme en balans. Moenie alleen suffer nie, die beloning wat ouerskap inhou, maak alles meer as die moeite werd. Moenie ophou om met jou maat te praat nie, want jul ondersteuning aan mekaar is baie belangrik in die stormsee van ouerskap.
Deur Lize Groenewald
Slaap jou kind sleg? Kry hulp! Besoek gerus www.goodnightbaby.co.za en vir ‘n gratis 15 minute assessering.