Dis ’n verhouding wat – in die meeste gevalle – ter sprake kom selfs vóór ’n paartjie trou. Stereotipes in die media doen ook nie veel gunsies vir dié verhouding, wat dikwels op die verkeerde voet begin, nie.
Aan die een kant is daar die “skoonmonster”, wat haar bloedjie maar net nie kan toevertrou aan ’n vrou wie sy wéét nie goed genoeg is vir haar seun nie. Sy kan immers ook nie verdra dat daar iemand anders is met wie hy nou eerste sy goeie nuus deel en wie se skaapkerrie dalk vir hom beter gaan smaak nie.
Aan die ander kant is daar die “skoonheks”, wat uit die staanspoor besluit dat sy nié inmenging van haar nuwe skoonmoeder sal toelaat nie en summier ’n veilige volgafstand sal behou om toe te sien dat dit nie gebeur nie.
En só begin ’n dinamiek wat spanning teweegbring en die arme prins waaroor die hele bohaai gaan, magteloos in die middel laat! Al wat hy wil hê, is om te sien hoe die twee belangrikste vroue in sy lewe mekaar in liefde aanvaar, maar hy is gewikkel in ’n magstryd waar daar van hom verwag word om kant te kies.
“My skoondogter is kil teenoor my”
Spanning tussen skoonma’s en -dogters is ’n baie algemene rede vir konflik en familieprobleme. Grappe wat verwys na en die spot dryf met skoonma’s wat eintlik drake is, is baie meer algemeen as ’n skoondogter wat eintlik net ’n besem kort.
Volgens Anita*, ’n 67-jarige skoonma, voel sy baie uitgesluit en geïsoleerd in haar kinders se lewens. “My skoondogter is baie koud teenoor my en dis duidelik dat sy geensins daarvan hou wanneer my seun tyd saam met my spandeer of aandag aan my skenk nie. Sy sal dié geleenthede tot die minimum probeer beperk en die aandag wat hy aan my skenk as minderwaardig afmaak. Sy verkleineer gereeld die verhouding en band wat ek en my seun met mekaar het.”
Dit is baie algemeen dat vroue met mekaar bots, meer as byvoorbeeld ’n skoonma en skoonseun. Die redes vir konflik kan insluit: Persoonlikheidsverskille, jaloesie en ’n mededinging om die posisie van sy nommer een. Dit is dikwels te wyte daaraan dat beide hul posisies probeer bevestig, hul status probeer beskerm en bedreig voel deur die ander party.
Volgens Adél Dreyer, ’n lewensveranderingsafrigter, wil ’n skoonma die beste vir haar seun hê en wie ken haar seun nou beter as sy self? Sy vertrou haarself om die regte keuses te maak en vir haar kind te sorg, maar wil nie daardie vertroue oorgee aan die seun of skoondogter nie. “Ek ondervind baie dat die skoonma se emosies met haar op hol gaan en sy voel selfs partykeer dat sy nie geliefd is nie. Sy kan ook voel dat sy nou verstoot word en moet ‘veg’ vir haar seun se liefde en aandag.”
Die skoonma kan van die standpunt uitgaan dat sy wel beheer oorgee en haar kinders net help, maar die skoondogter ervaar dit as inmenging. Sommige skoondogters vind bloot fout met alles.
Anita sê: “My skoondogter is dikwels op haar perdjie – asof sy dink ek ondermyn haar of haar/hul besluite. Ek is juis versigtig om kritiek te lewer, selfs al sien ek hier kom ’n ding. Ek bly eerder stil om nie ons verhouding verder skade te berokken nie.”
Wie is die moeder in die familie? Konflik is ook dikwels ter sprake as dit kom by die versorging van kinders, maniere en hoe dinge in ’n huis gedoen word. “Myns insiens moet ek my skoondogter se rol in my seun se lewe respekteer en my plek ken. Dit is moeilik om minder alleentyd saam met my seun te hê, want ons het ’n baie nou band, maar ek bewaar eerder die vrede, want dit is duidelik dat my skoondogter bedreig voel. Hopelik sien sy dat ek nie ’n bedreiging is nie en kan ons mettertyd nader aan mekaar groei.”
“My skoonma aanvaar my nie”
Studies toon dat meer as 60% van vroue erken dat hul verhouding met die skoonfamilie langdurige ongelukkigheid en spanning veroorsaak. Dr Teri Apter, ’n sielkundige van Newnham College, Cambridge Universiteit, het in die navorsing vir haar boek, What do you want from me?, bevind dat twee derdes van alle skoondogters glo dat hul man se moeder gereeld jaloerse, besitlike gedrag jeens hul seuns toon.
Ilse* vertel dat dit van dag een af ongemaklik was saam met haar skoonma. “Reg van die begin af het dit nie gevoel of sy my as skoondogter aanvaar nie. Sy het nie ’n wag voor haar mond nie en voel sy het die reg om haar sê te sê. Sy verskuif altyd die blaam na iemand anders as sy daarop gewys word dat sy verkeerd is of sy verontskuldig haarself.”
Dis ’n algemene klagte dat skoonma’s beterweterig is en hul kinders (skoonkinders inkluis) voorsê hoe om hul kinders groot te maak. Geen mens wil op eiers loop rondom iemand anders en geforseerd leef wanneer haar skoonma kom kuier nie. “Sy laat my soos ’n vreemdeling in die familie voel, en ek moet smeek vir aanvaarding en liefde van haar.”
Dit beïnvloed natuurlik die verhouding tussen die man en vrou ook, en plaas gevolglik spanning op die huwelik. Hoewel Ilse altyd ’n verhouding probeer aanknoop het, gereelde kontak behou het en selfs opgekom het vir haar skoonma wanneer haar man ongeduldig geraak het met sy ma, voel sy dat sy nou lank genoeg probeer het. “Ons sien mekaar min en dis nooit ’n spontane, lekker ontmoeting nie. Ek dink beslis dis ’n bedekte seën dat ons so ver van mekaar af woon.”
Ondersteuners word opponente
In haar boek sê Teri elkeen van dié twee partye is die primêre vrou in haar primêre familie en soos wat hulle hul status probeer bevestig en beskerm, voel hulle bedreig deur mekaar. Volgens haar kan die meeste probleme herlei word na konflikterende verwagtinge en aannames.
Skoondogters neem aan dat hulle beoordeel sal word volgens hul kookvernuf en rol as ma (selfs al is hul skoonma’s hóé modern). Skoonma’s interpreteer hul skoondogters se manier om dinge anders te doen (hetsy in werk, kinders grootmaak of huishouding bestuur) as ’n verwerping van húl keuses. Skoondogters neem aan dat, as ’n mede-Eva, hul skoonma’s hul kant sal kies in ’n argument met hul mans, maar ’n ma se bloedliefde sal altyd wen in dié verband. Die teleurstelling dra by tot ’n gespanne verhouding.
Volgens dr Gerhard Niemann, ’n berader van Cullinan, is die konflik tussen skoonma en skoondogter uiters relevant. Maar tog word die tema selde in boeke aangespreek. Maar hoekom is dit so ’n groot kwessie? “Die eenvoudige antwoord lê in die impak hiervan op interpersoonlike verhoudings. Dit is nie net skoonma en skoondogter se verhouding wat daaronder ly nie, maar al die naasbestaandes. Die man en skoonpa staan in die middel en kyk toe hoe verhoudings versuur word.”
Volgens hom lei dit tot verwronge verhoudings, wat eintlik die potensiaal het om baie vreugdevolle, ondersteunende verhoudings te kan wees. “’n Skoondogter en skoonma kan mekaar bystaan, maar te midde van konflik verval die natuurlike, Godgegewe ondersteuningstelsel,” verduidelik hy, “en verander dit in ’n donker wolk van konflik, woede, selfsug en jaloesie.”
Gerhard meen dit is belangrik dat ’n noue, interpersoonlike verhouding tussen ’n skoonma en haar skoondogter ontwikkel. In baie gevalle is die skoonma die enigste persoon wat ’n rol van raad en ondersteuning in ’n huwelik kan inneem. Hy sien dikwels in sy praktyk moedelose skoondogters wat smag daarna om ’n skoonma te hê om mee te praat. “’n Skoonma kan daarom ’n uiters belangrike gaping in die ondersteuningsnetwerke van skoondogters vul,” verduidelik Gerhard.
Hoe gemaak met die oorsake?
Dikwels het die saak twee kante. ’n Skoondogter neem sommige moederlike rolle oor en soms is dit moeilik vir die skoonma om sommige van dié rolle af te staan, veral wanneer die skoondogter dit eis en sonder toegeneentheid optree. Soms wil skoonma’s net voel dat hulle benodig word en steeds ’n belangrike rol in hul kinders se lewens vervul.
Omdat skoondogters dit dikwels sien as inmenging, hou hulle liefs hul afstand, wat weer as afsydigheid beskou word. Terwyl ’n skoonma moet leer om terug te staan waar nodig, moet ’n skoondogter weer leer om haar skoonma te betrek en dié se ervaring in te span.
Volgens Gerhard speel skoonma’s vandag ’n groter rol in hul kinders se lewens as 30 jaar gelede.
Hy meen ook dat ’n gebrek aan grense probleme kan veroorsaak. “In soveel gevalle is daar nie duidelike grense waarbinne ’n skoonma en skoondogter kan funksioneer nie. Wanneer onduidelike grense oorgesteek word, wek dit negatiewe emosies en selfs konflik. In só ’n geval moet die skoonma en skoondogter om die tafel sit en praat oor dit wat hulle ongemaklik laat voel, om gesonde grense daar te stel,” gee Gerhard raad.
Wenke vir ’n beter verhouding met jou skoonma/skoondogter
- Vir skoonma’s: Respekteer jou skoondogter se manier van dinge doen – haar ouerskapstyl, die manier waarop sy haar huis versier en haar manier van kos maak, selfs al stem jy nie saam nie. En hou by haar reëls wanneer jy die kinders oppas.
- Vir skoondogters: Ontspan ’n bietjie! Ja, jou skoonma gee jou kinders dalk suigstokkies voor slaaptyd en dit dra nie jou goedkeuring weg nie, maar ’n ouma bly ’n ouma!
- Vir skoonma’s: Respekteer haar verhouding met haar ma en met jou seun. Jy kan nie kompeteer nie en met elke woord waarmee jy jou skoondogter by jou seun slegsê, skep jy nog ’n bietjie afstand tussen jou en jou kind.
- Vir skoondogters: Respekteer jou man se verhouding met sy ma. Dit sal uiteindelik jul hele familie (en jou kinders) se geluk beïnvloed. Moet ook nooit die kosbare verhouding tussen jou skoonouers en kinders benadeel nie.
- Vir skoonma’s: Onthou hoe jy gevoel het toe jy ’n jong skoondogter was. Sy is onseker en probeer nog self hierdie ding uitsorteer. Sy doen haar bes, so gee haar die voordeel van die twyfel!
- Vir skoondogters: Moenie jou deur stereotipes laat beïnvloed nie. Jou vriendin het dalk ’n slegte verhouding met haar skoonma en jy lees van die hel wat ’n “tipiese skoonma” jou deur sal sit, maar dis alles net die karakters vir ’n lekker sappige storie. Gee jou skoonma ’n kans!
Vir albei partye
Met genoeg kommunikasie en emmers vol geduld kan die twee vroue in ’n man se lewe van vyande na vriendinne verander. Dr Elmarie Mulder Craig gee die volgende wenke om die pad ’n bietjie makliker te maak:
- Besef dis nie ’n kompetisie nie: Albei vroue speel ’n belangrike rol in die man se lewe, maar dis verskillende rolle. Hy het julle albei lief, maar op twee baie verskillende maniere. Moet hom nooit dwing om te kies nie, wees eerder die beste in die rol wat jy vervul.
- Respekteer mekaar se verhoudings: Dis uiters belangrik om nie in te meng in mekaar se verhoudings nie. Gun mekaar tyd saam met jou man of seun sodat die onderskeie verhoudings kan floreer. Wanneer jou skoonma kom kuier, gee haar ’n tydjie om lekker op te vang met haar seun. Sy sal dit baie waardeer om te weet dat sy nog ’n plekkie in sy lewe vul. Skoonma, bewys hierdie guns ook aan jou skoondogter.
- Aanvaar mekaar se verskille: As jou skoondogter se hele huis groen is en jy kan dit nie uitstaan nie, knyp maar jou oë toe. Jy doen haar nie ’n guns deur haar hele huis te verander terwyl sy by die werk is nie. Onthou dat jou skoondogter ook net die beste vir haar gesin wil hê en moenie die houtlepel nader hark as jy weet sy keur nie lyfstraf goed nie. Skoondogter, onthou dat jou skoonma al vir baie jare dinge op ’n sekere manier doen. Aanvaar dit en beweeg aan.
- Doen moeite om mekaar te leer ken: Baie misverstande ontstaan omdat ’n mens mekaar nie werklik ken nie. Reël ’n spa-dag waar net julle twee tyd saam spandeer. Julle sal dalk albei verbaas wees oor hoe verkeerd julle mekaar opgesom het. Jy kom dalk agter jou skoonma het nie stilstuipe nie, sy is net baie skaam rondom jou.
- Ondersteun mekaar: Om in vandag se lewe ’n ma en ’n vrou te wees is ‘n tall order en as ’n mens weet dat jou skoonfamilie daar is vir jou, maak dit die lewe soveel makliker. Ondersteun jou skoondogter en die kans is goed dat sy dieselfde gaan doen. Julle maak dalk ’n baie beter span as wat jy ooit gedink het!
Grense is nie ’n vloekwoord nie! Gesonde grense is wat konflik onder beheer hou. Stel grense daar vir jouself en respekteer die ander party s’n. Vergeet van verwagtinge oor hoe dinge behóórt te werk. Daar is nie ’n vaste stel reëls nie, julle sal dit uitwerk soos julle aangaan.
Probeer om die ander een se standpunt in te sien en respekteer mekaar se sienings. As jy nie seker is wat die ander persoon daarvan gaan dink nie, vra liefs en maak seker. Sodoende wys jy aan die ander persoon dat jy omgee wat hulle voel. Moenie die ander persoon probeer verander nie, niemand gaan goed hierop reageer nie.
Die geheim in enige kommunikasie is om te kan práát, maar ook om te luister – in dié geval luister eerste, praat tweede. Gun en gee mekaar onvoorwaardelike liefde. Hoe vroeër in ’n verhouding julle dié wenke volg, hoe beter kan die sukses wees vir ’n goeie verhouding.
Deur die Redaksiespan
Addisionele bronne: www.grandparents.com.
*Skuilname is gebruik