Soos ’n romantiese storieboek het Johan en Donna Bothma se verhaal met hoërskoolliefde begin. Kort na die troue was ’n baba op pad. Maar die genre van hul lewensverhaal het ’n onvoorspelbare wending geneem – van sprokie na tragedie. Saam is hulle deur ’n vuurdoop, maar dit het hulle nie vernietig nie.

Promosie

“Die dag wat ek vir Donna ontmoet het, het ek net gewéét sy is die een . . . die een wat my voete onder my uitgeslaan het. Sy was maar net my tien-uit-tien-meisie van die eerste oomblik af. Sy is die volle pakket – snaaks, eerlik, opreg, baie fun. En natuurlik ook die pragtigste vrou ooit.”

Hoeveel jaar is hulle nou saam? Johan aarsel ’n oomblik, grappig. “Ek is te bang om te antwoord, Donna moet maar hierdie ene hanteer. Netnou is daar huismoles!” Hulle het reeds in graad 11 (standerd 9) ontmoet en is nou 22 jaar lank saam. Oor ’n maand sal hulle hul 19de huweliksherdenking vier.

“Ons was van die eerste sekonde af beste pêlle,” glimlag Donna. “Johan kon my nog altyd laat lag en sommer net gemaklik laat voel.” Dit was die sewende hemel en twee jaar na hul troue was Donna hoogswanger met hul eersteling.

Promosie

“Sy sou sommer ophou asem haal”

Hulle was uitstedig oor ’n naweek om by vriende te kuier toe Donna se water onverwags gebreek het. Amber was op pad – nege weke te vroeg. Donna is dadelik in die hospitaal opgeneem. “My kontraksies is onderdruk en hulle het my met kortisoon begin inspuit vir die baba se longetjies.” Die hospitaal se berader het hulle kom spreek om hulle voor te berei op die ergste. Donna was vreeslik angstig en onseker.

’n Paar dae later het die dokter besluit op ’n nood-keisersnee, want die baba het tekens van nood getoon. “Vrydagoggend het almal my kamer binnegestorm en my vir die teater voorberei. Ek het skaars besef wat aangaan, só vinnig het alles gebeur.”

Amber is op 31 weke gebore, met ’n gewig van 1,75kg. Vir twee weke in die intensiewesorgeenheid moes sy voortdurend suurstof ontvang. “Dit was ’n baie moeilike tyd,” onthou Donna. “Ek was te bang om daardie klein mensie te bad . . . sy sou sommer ophou asemhaal.”

Die feit dat Johan moes teruggaan werk toe, was soos sout in Donna se psigologiese wonde. “Die aand toe Johan vir Amber gaan groet het, was een van die moeilikste dae van my lewe. Ek kon nie glo hy los my alleen in die hospitaal nie.”

Johan vertel dat hy sy keuse vandag berou. “Ek het nie regtig besef hoe nodig Donna my gehad het nie, want ek het aangeneem haar ouers en die res van die familie is daar vir haar – en ek moes natuurlik maar die pot aan die kook hou. Ek het eers baie later besef dat ek die situasie verkeerd opgesom het. My vrou en kind is per slot van rekening baie belangriker as werk.”

Dit word beter . . . voordat dit erger raak

Na daardie uitdaging is hulle deur ’n miskraam. ’n Jaar of wat later het hulle die wonderlike nuus gekry: Hulle het ’n tweeling verwag. Chrystal en Jade is met ’n gesamentlike gewig van byna 4,5 kg gebore. Donna en Johan was in ekstase, maar ’n wrede realiteit het die paartjie ontnugter net twee dae nadat die tweeling hul opwagting gemaak het.

“Daar was nie genoeg plek in die intensiewesorgeenheid nie en die tweeling is na ’n gewone babakamer oorgeplaas,” vertel Donna. “Jade het ’n kiem opgetel en is ’n paar dae later oorlede. Niemand weet presies wat gebeur het nie, maar die infeksie het uiteindelik septisemie geword.”

Donna sê dat die hospitaal nooit vir hulle ’n bevredigende verduideliking vir die tragedie kon gee nie. “Ons het vir ’n rukkie probeer om antwoorde te kry, maar het op ’n dag besluit om te fokus op Chrystal en Amber – wat nog daar is – en nie toe te laat dat hierdie ding ons verteer nie. Dit was nie ’n maklike besluit nie.”

Hulle verhouding is tot op breekpunt getoets. “Dit was ’n terrible tyd in ons lewens,” sê Donna. As man en pa het Johan ook sy eie innerlike stryd gevoer. “Ek het gevoel asof ek die sterk een moet wees, maar dit het geestelik ’n groot knak in my gelaat. Ek het aanhoudend gebid en gevra dat Jade okay moet wees. Ek het vas geglo dat sy sou deurdruk.”

“Ek het my geloof heeltemal verloor”

Johan vertel hoe hy aanvanklik die trauma hanteer het: “Ek het nie meer omgegee oor enigiets nie. As jy nie voel nie, kan jy ook nie bang wees of verder seerkry nie. Ek het my geloof heeltemal verloor en glad nie meer geglo nie.” Hy het sy gevoelens onderdruk en verligting in dwelmmiddels gesoek.

Kort nadat Johan die stryd teen dwelms oorwin het, het Donna se liefling-suster, Enid, haar stryd teen breinkanker verloor.

Ten spyte van haar eie pyn, het Donna deurlopend vir Johan aan God opgedra. “Sy het nooit opgehou bid nie en sy het ook nooit opgegee met haar belofte aan God dat sy deur dik en dun by haar man sal staan nie.” Donna het met Johan probeer redeneer, maar sy was naderhand naby aan opgee.

“Letterlik almal wat dwelms gebruik, sal vir jou vertel: ‘Dis net een keer ’n maand of met geleenthede, ek is glad nie verslaaf nie,’” vertel Johan in retrospek. Hy het twee keer ’n rehabilitasieprogram voltooi, maar elke keer weer teruggeval.

Johan sê dat hy uiteindelik sy lewe in oënskou moes neem nadat Donna, met ’n eenvoudige vraag, die spreekwoordelike senuwee by hom raak geslaan het: “My vrou het een aand vir my gevra: ‘Hoekom?’ Dit was die een vraag wat ek nooit kon beantwoord nie. Ek het daardie aand seker die hele nag deur gehuil. Dis waar ek besluit het: Dit is nie wie of wat ek wil wees nie, en daar het dit gestop.”

’n Lang pad van genesing het voorgelê, maar Johan het dit enduit gestap met God as sy ligtoring. “Ek moes vergifnis kry by al die persone wat ek ’n onreg aangedoen het.”

“Dis ’n kruis wat ek sal dra”

Saam met genesing en selfinsig het Johan geleer om ’n plek vir sy emosies te gun. Om homself toe te laat om te vóél, was deel van sy herstel. Soms dra hy nog baie swaar aan die verlies. “Die hartseer is my manier om my kind te onthou. Dit is nie iets wat my lewe oorheers nie, maar ek laat myself toe om dit te voel en selfs om te huil as ek wil. Soms benodig ek alleentyd – ek sien dit as Jade se tyd.

“Wat ek probeer sê, is ek wil nie hê die hartseer moet weggaan of beter word nie. Dis ’n kruis wat ek sal dra. Dis al wat ek het om vir my kind te gee.”

Artikel deur ANJA VAN DEN BERG