’n Marathon is geen grap nie, sê dié wat weet. Myns insiens moet dié wat weet hul koppe laat lees, maar blykbaar is die pyn die plesier werd. As jou tekkies lê en stof vergaar, probeer gerus ’n ánder tipe marathon (wink-wink). Hiervoor hoef jy nie te oefen nie en jou enigste gear is jou evaspakkie!
Het jy geweet dat slegs 25% van vroue gedurende seks ’n klimaks bereik (studies toon dat tussen 70% en 80% van ons Meryl Streep ’n go kan gee as dit kom by toneelspel!)? Gewoonlik is die rede hiervoor die feit dat die Adams nie aandag gee wanneer die rol van die klitoris verduidelik word nie. (Manne, die klitoris speel ’n b-a-i-e groot rol. Ons kan dit eintlik nie genoeg beklemtoon nie!). Nóg ’n rede, meen kenners, is omdat vroue hart, siel en verstand in die bui moet wees aangesien dit nie vir hulle net ’n lyflike reaksie is nie.
As ’n orgasme só ’n skaars kommoditeit is (en gemiddeld slegs tussen 6-20 sekondes duur), sou ’n mens dus dink dat enige vrou die kans op ’n verlengde orgasme sou aangryp, nie waar nie? Eh . . . dit hang af, meen sommige mense. Want ’n toestand genaamd persistent genital arousal disorder is net so uitputtend soos ’n volskaalse marathon! Vroue wat hieraan ly, kry orgasmes (en verléngde orgasmes) op ongeleë tye en vir hulle is ’n normale lewe bykans onmoontlik. Omdat soveel vroue skaam is hieroor, is statistiek oor die voorkoms van hierdie siektetoestand nie beskikbaar nie.
Maar vir dié van julle (ons) wat nie anders kan as om heimlik jaloers te wees op hierdie vroue nie, kenners meen verlengde orgasmes is nie so moeilik bereikbaar nie . . .
In hul boek, A tot Z van seks, skryf outeurs Elmari Craig en Hennie Stander die verlengde orgasme is wanneer die platofase van die seksuele responssiklus so lank as moontlik uitgerek word. Die skrywers van Extended massive orgasm, Steve en Vera Bodansky, meen: “Enige soort seks is natuurlik goed, maar om ’n extended massive orgasm (EMO) te bereik, moet jy oorgee. As jy nie die ander persoon vertrou om sy werk behoorlik te doen nie, is dit jou taak om hom te leer.”
HIER IS ’N PAAR WENKE, MEEN DIÉ WAT WEET . . .
R-e-k- dit uit!
Wanneer dit voel asof jy ámper daar is, vra manlief om stadiger te doen wat hy besig is om te doen. Of stop geheel en al. Moenie ophou met vry nie, maar wag met die penetrasie of stimulasie van die klitoris. Begin weer tot julle amper daar is en hou weer op. Dit is nie net goed vir jou nie, maar ook vir jou maat! Doen dit twee of drie keer – nie te veel nie, anders voel dit net soos ’n marteling!
Herdoop jouself na Patience.
Vergeet van ’n quickie. As jy ’n verlengde orgasme wil bereik, is tyd nie ter sprake nie. Dus: Reël dat die kinders elders slaap en sorg dat niks op jou to do-lysie is nie. Kry vir julle ’n gemaklike liefdesnes, met lekker kussings, sensuele beligting en rustige musiek. Onthou ook: Wanneer jy amper klimaks, is dit natuurlik om vinniger daar te wil uitkom deur die petrol te trap! Moenie. Stel ’n ritme vas en bly daarby tot aan die einde, al wil jou lyf ook hóé graag spoed vermeerder. Hoe stadiger jy beweeg, hoe stadiger gaan jou orgasme wees – maar kenners beweer dit sal langer duur en meer intens wees. Yeehaa!
Geniet dit . . . liplekker!
Jy wil dit dalk steeds nie glo nie, maar manlief hóú daarvan om jou orale seks te gee en kenners meen sy tong is ’n baie belangrike sleutel in jou soeke na ’n uitgerekte orgasme. Wanneer sy tong ’n breuk nodig het, is dit daardie oomblik wat jy kans kry om weer tot jou “seksuele sinne” te kom. As hy handig is, gebruik hy boonop nie nét sy tong nie en dié veelvoudig stimulasie blaas die spanning soveel te meer aan – spanning wat later gaan lei tot hemelse verligting!
Feestelike friksie.
Jy is slim, jy ken jou lyf (en as jy nog ’n amateur is in dié opsig, is dit tyd om jou kennis op te skerp!). Trek voordeel uit sekere posisies wat friksie daar stel sodat die kontak en seksuele spanning bykans “per ongeluk” (maar eintlik ó, so aspris) is, soos om bo-op hom te sit in ’n cowgirl-posisie sodat jou klitoris direk teen sy bekkenbeen skuur. Nog ’n tegniek wat werk, is die kussing-onder-die-boud tegniek!
Relax en geniet . . .
Steve en Vera meen dat ontspanning een van die geheime tot ’n verlengde orgasme is. Wat? Jy dink waarskynlik om te ontspan in dáárdie stadium van kooi-kaskenades is heeltemal onrealisties. Jy ken kegel-oefeninge, waarmee jy jou bekkenvloer saamtrek asof jy urienvloei probeer keer? Wel, probeer dié: Deur “uitwaarts te druk”, is ’n tegniek wat baie belonend is vir sommige mense. Dit behels basies dat jy die spiere wat gebruik word om urienvloei te beheer vir ’n paar sekondes uitwaarts druk. Dié aksie werk ook wanneer dit voel asof sy penis teen jou serviks stamp (wat seer en ongemaklik kan wees). As jy uitwaarts druk, laat dit die vaginale wande ontspan sodat dit die penis aan alle kante raak.
Met alle respek aan die quickie (wat sy plek en tyd het), ’n uitgerekte orgasme is enige vrou se droom (en enige man se ultimate challenge). En soos enige goeie marathon-atleet jou sal sê – die geheim tot sukses is: Oefen, oefen, oefen. Practice makes perfect. Ons is seker julle het nie veel aansporing nodig nie . . .
Vir manlief:
Is jy lus om jou vrou ’n bietjie te bederf? Die Brauers se extended sexual orgasm (ESO) kan blykbaar lei tot intense, lang orgasmes (van sowat 30 minute) en sporadiese sametrekkings tot 24 uur ná seks! Dit word bereik deur die volgende te doen:
- Terg haar met smeermiddel sonder om die klitoris of die binnekant van die vagina aan te raak vir minstens vyf minute.
- Begin nou haar klitoris stimuleer deur sirkelbewegings met jou indeksvinger te maak. Terwyl jy dit doen, moet sy met kegel-oefeninge begin en diep uit haar maag asemhaal.
- Sodra jy agterkom haar orgasme is naby, hou op om die klitoris te stimuleer en stimuleer haar vaginaal met jou vingers.
- Ná die orgasme, hou jou vingers daar en hou aan met die stimulasie tot sy meer druk en spoed wil hê. Die volgende golf behoort nou te kom!
- Beweeg nou weer na die klitoris soos voorheen. Jy moet heen en weer beweeg tot die sametrekkings een in elke vyf sekondes plaasvind.
- As jy dit vir 15 minute gedoen het, behoort die sametrekkings aaneenlopend te begin gebeur. Stimuleer haar nou vaginaal en klitoraal gelyktydig en sy gaan jou vir baie lank baie sondes vergewe!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www. youqueen.com, www.menshealth, www.female-orgasm-facts.com