’n Paartjie bestaan uit twee individue, elk met sy/haar eie siening, idees, voorkeure en afkeure. Gesonde seks is ’n baie belangrike element van ’n huwelik wat gedy, maar wanneer ’n stekelrige situasie homself in jou slaapkamer voordoen, kan dit gate in jou huwelik steek.
Elke paartjie is geregtig op ’n vervullende sekslewe en daarom is seksprobleme in jou huwelik nie iets wat jy opsy kan skuif nie. Fisieke onvergenoegdheid spoel oor na emosionele ontevredenheid en maak later ’n kolkgat wat julle baie ongelukkig kan laat. Hier is agt van die algemeenste seksprobleme wat getroude pare ervaar. Dr Elna Rudolph, mediese dokter, seksuoloog en kliniese hoof van My Sexual Health, gee raad oor hoe om dié dilemmas te hanteer.
PROBLEEM #1:Verveling
“Ek en my maat het eens op ’n tyd ’n opwindende sekslewe gehad. Ons is nou agt jaar getroud en daar het beslis verveling ingetree. Seks is bloot nie meer iets om na uit te sien nie.”
Dr Elna antwoord: “Voorspelbaarheid en herhaling is belangrike boustene vir intimiteit, maar dit is dikwels die vyand van die erotiese. ’n Mens raak verveeld met seks as dit ophou om eroties te wees. Dink maar net hoe eroties dit was die eerste keer toe iemand aan jou borste gevat het en nou, na jare van dieselfde soort stimulasie, prikkel dit jou nie meer naastenby soveel nie. ’n Erotiese kaart is ’n goeie oplossing. Teken ’n stokmannetjie of druk ’n liggaamskaart vanaf die Internet. Neem dan 20 minute voor seks en herontdek mekaar se erotiese areas deur middel van ’n wedersydse sensuele massering. Vryf liggies, druk dieper, blaas op sy of haar vel of krap saggies met jou naels op elke liewe plek op sy/haar liggaam, behalwe vir die borste en genitalieë. Ná die tyd gee die ontvanger van die massering terugvoer oor dit wat hy/sy eroties gevind het en maak julle aantekeninge op die erotiese kaart. Dit help om weer nuwe opwinding te skep en die erotiese vlammetjie weer te laat brand.
PROBLEEM #2: Elektronika
“Dit voel asof elektronika ons slaapkamerlewe oorneem! Wanneer ons in die bed klim, is my maat op sy tablet besig óf hy kyk Netflix. Hy kla weer dat ek pal op my selfoon is. Hoe los ons hierdie dilemma op?”
Dr Elna antwoord: Maak reëls en hou daarby. Ideaal gesproke mag daar byvoorbeeld geen elektronika na agt in die aande wees nie – dit sluit slimfone, I-pads, skootrekenaars en TV’s in. ’n Toestel wat lekker romantiese musiek speel, is dalk ’n uitsondering. As agtuur onrealisties is, maak dit negeuur of vas dalk een of twee aande per week sommer al van seweuur af van alle elektronika – jy sal nie glo wat dit vir jou sekslewe beteken nie. Mense het tans gemiddeld net drie keer per maand seks, waar dit tien jaar gelede darem vyf keer per maand was. Die kenners reken die grootste rede hiervoor is elektronika!
PROBLEEM #3: Luiheid
“Ek is net nie meer lus vir seks nie. Daar is soveel ander dinge wat ek móét doen en ek is bloot te lui vir die moeite wat met seks gepaard gaan . . . dit beteken dat ons selde meer daarby uitkom.”
Dr Elna antwoord: Gereelde, beplande seks is beter as geen seks. Indien ’n mens begin om seks af te skeep en dit nie meer spontaan tussen julle gebeur nie, is dit nodig om daarvoor te beplan. Praat op ’n Sondag oor watter tyd daardie week ’n goeie tyd vir julle sal wees en skryf dit in die dagboek. Dit maak dat ’n mens daarna kan uitsien in plaas daarvan om daarna op te sien.
PROBLEEM #4: Daar is nie ’n skakel tussen die emosionele en die fisieke nie
“Deesdae voel seks meganies. Dit is absoluut ’n lyflike daad en ons soek by mekaar die fisieke bevrediging wat seks bied, maar daar is nie juis veel meer nie.”
Dr Elna antwoord: ’n Mens moet onthou dat daar vyf verskillende vorme van intimiteit is: Fisiek, emosioneel, intellektueel, eksperiënsueel en geestelik. Indien daar nie meer ’n natuurlike emosionele konneksie is nie, is dit moeilik om dit net weer aan te skakel en veral om dit in die slaapkamer te ervaar. Fokus dan op die ander vorme van intimiteit om weer die emosionele aspekte te hervestig. Bou intellektuele intimiteit deur oor dinge te gesels waarin julle albei belangstel. Hê saam pret (experiential intimacy). Bou ook geestelike intimiteit deur saam geestelike dinge te ervaar, soos om te mediteer indien jy nie op ’n plek is waar jy diep geestelik met mekaar kan deel nie. So bou ’n mens stelselmatig intimiteit op ander vlakke, wat dan oorvloei na emosionele intimiteit en seksuele intimiteit – en die konneksie is outomaties daar.
PROBLEEM #5: Verskille in libido
“Ek en my maat is nooit op dieselfde tyd lus vir seks nie. Wanneer ek gereed is, is dit asof haar kop elders is en wanneer sy weer reg is, is ek nie noodwendig in die bui nie.”
Dr Elna antwoord: Dit is waarskynlik die algemeenste seksuele probleem onder die son. Dis byna onmoontlik om altyd op dieselfde golflengte te wees as dit by seks kom. My raad is dat die lae-behoefte persoon eintlik meer beheer moet neem van die situasie deur self seks te inisieer wanneer dit hom/haar pas, in plaas daarvan om heeltyd onder druk te voel om dit te doen wanneer hy/sy in elk geval nie lus het nie. Maak beurte. Die een met die hoër behoefte kan dan sommer die volgende aand weer seks inisieer as hulle die vorige aand seks gehad het, maar die lae-behoefte persoon kan dan ’n langer breuk vat voor hy/sy dan weer seks inisieer.
PROBLEEM #6: Moegheid
“Ek is net te moeg vir seks. Met ’n peuter en ’n baba in die huis voel dit asof ek pal op diens is en die oomblik wat die kinders in die bed is, wil ek net ontspan sonder iemand wat verder iets van my eis.”
Dr Elna antwoord: Daar is tydperke in ’n mens se lewe waartydens ander dinge ’n groter prioriteit is as seks. As ’n mens byvoorbeeld ’n pasgebore baba het, as jy ernstige gesondheidsprobleme het, na die dood van ’n naasbestaande of as dit nou regtig uitsonderlik erg gaan by die werk vir ’n kort tydperk . . . Hierdie dinge kan seks dalk onmoontlik maak vir ’n maand of drie, en derduisende verhoudings het dit al oorleef sonder om skade te ly. Om die verskoning van uitputting egter oor ’n langer termyn te gebruik, is net nie goed genoeg nie. Jy moet dan jou prioriteite in heroorweging bring, dinge verander en hulp inwin. Jy moet êrens van seks ’n prioriteit maak, al is dit net een keer in ’n week of twee. Jy moet dit in jou dagboek inwerk en sorg dat jy ’n bietjie energie daarvoor oorhou.
PROBLEEM #7: Lae selfbeeld
“Ek voel nie meer aantreklik vir my maat nie. Toe ons getroud is, het ek fantasties gelyk. Intussen het ek 20kg aangesit, my borste het begin hang na my kinders en ek het selluliet oral oor my lyf. Hy kan my onmoontlik begeerlik vind en ek onttrek eerder as om verwerping te ervaar.”
Dr Elna antwoord: Elke mens is verantwoordelik vir sy eie selfbeeld, maar ’n mens se maat kan ’n groot rol speel in jou seksuele selfbeeld. Gereelde positiewe terugvoer kan wondere vir jou maat se selfbeeld verrig. Maak ’n punt daarvan om elke keer ná seks te sê: “Ek is mal daaroor as jy so saggies oor my lae rug vryf”, of enigiets wat hy/sy “reg” gedoen het. Moet nóóit iets negatiefs sê nie, soos: “Ek hou nie daarvan as jy aan my lae rug vat nie.” Dit knak ’n mens se seksuele selfbeeld. Dan moet jy ook onthou om positiewe goed oor sy/haar lyf te sê, soos: “Ek is mal daaroor om aan jou nek te vat – jy doen dit vir my!” Die gereelde positiewe terugvoer help om ’n positiewe seksuele selfbeeld te skep wat tot gevolg het dat paartjies hul totale sekslewe meer positief ervaar.
PROBLEEM #8: Seksuele disfunksie
“Ek ervaar dit deesdae moeiliker as voorheen om ’n ereksie te bereik. Dit veroorsaak baie innerlike spanning by my, waarvan my vrou nie eers weet nie. Die gevolg is dat ek seks eerder vermy – sy dink ek vind haar nie meer begeerlik nie, maar ek dra die geheim met my saam.”
Dr Elna antwoord: Dit is baie belangrik dat die proses van liefde maak ’n spesiale ervaring moet wees en nie net ’n doelgerigte taak nie. Indien penetrasie nie moontlik is nie as gevolg van erektiele disfunksie by die man of pyn by die vrou, beteken dit nie dat die hele storie ’n gemors is en dat ’n mens moet ophou waarmee jy besig is nie. Maak liefde op al die ander maniere deur mekaar te stimuleer en nog steeds ’n intieme, spesiale ervaring saam te hê. Fokus op die baie dinge wat jy wel kan doen. Dit is ook baie belangrik om te onthou dat daar mediese hulp is vir basies enige seksuele probleem wat julle mag ervaar. Deur aandag aan hierdie dilemmas te gee vóór dit te groot voel om te hanteer, kan julle reusagtige dilemmas in die kiem smoor. As dit reeds te laat is om self die probleem te oorbrug, maak ’n draai by ’n seksuoloog. Jou sekslewe is belangrik!