As ’n mens maar net die vermoë gehad het om te vergeet … maar jy het nie. En soveel vroue stap hul huwelik binne met skuldgevoelens oor ’n voorhuwelikse sekslewe wat hulle wens hulle kon uitvee.

Promosie

Voor Liana vir Hendrik ontmoet het, het sy vas geglo sy het haar sielsgenoot gevind in ’n man met die naam Arnold. Hulle het op universiteit ontmoet en was dolverlief.

Liana het in ’n streng huis grootgeword en haar waardes was vir haar uiters belangrik. Maar soos wat die vonke met jou kop smokkel, het dinge een aand handuit geruk en Liana het nie by haar voorneme – om nooit voor die huwelik seks te hê nie – gehou nie. Vandaar was hulle seksueel aktief. Dit het Liana gepla, maar nie soveel dat sy die aard van die verhouding beëindig het nie. Sy was jonk, almal het dit gedoen en sy het boonop geweet dat Arnold haar trouman sou wees.

Dinge was egter nie so eenvoudig nie … Ná Arnold se swottings het hy by ’n internasionale maatskappy aangesluit wat hom ’n werksgeleentheid in Nederland gegee het. Daar het hy, binne drie maande, ’n meisie ontmoet. Die eerste keer wat hy weer in Suid-Afrika kom kuier het, was om vir Liana te sê dat hy nie van plan is om gou terug te kom nie en sy trou-vrou ontmoet het …

Promosie

Liana was platgeslaan. Dit was die man met wie sy ongetwyfeld haar lewe wou deel. Die man aan wie sy haar maagdelikheid gegee het en die man wat haar hart verpletter het. Sy het in depressie verval en begin handuit ruk. Vir ’n tydperk daarna het sy losbandig geleef, saam met ’n hele paar ouens geslaap en in die proses ook met dwelms geëksperimenteer. Dit was ’n goeie vriendin wat haar uit die maalkolk van selfvernietiging gered en haar weer op die regte pad gelei het. Vandag lyk haar lewe heelwat rooskleuriger. Sy hét toe, twee jaar later, haar trouman ontmoet en vandag is hulle drie maande getroud. Dolgelukkig, behalwe vir een dilemma … Liana se voorhuwelikse sekslewe spook by haar.

Geen kondome vir jou hart nie

Jongmense word gereeld gewaarsku teen die gevare van vigs en ander seksueel oordraagbare siektes. ’n Onbekende persoon het eendag gesê: “Daar is nie ’n kondoom vir die brein of die hart nie. So, wanneer jy seks het voor die huwelik, speel jy met vuur wat jou waarskynlik in die een of ander stadium van jou lewe gaan brand … veral in jou huweliksverhouding.” Ongelukkig kom baie jong paartjies agter dat dié stelling so waar is, meen die webtuiste marriagemissions.com. Hoe delete jy die herinneringe wat jy met iemand anders gehad het? Hoe vermy jy dit om vergelykings te tref wanneer jy seks het met jou lewensmaat? En hoe hanteer jy die skuldgevoelens?

Daar is egter heelwat vroue wat deur ’n losbandige tydperk in hul lewens gegaan het, net om hul lewens heeltemal te verander, te trou en gelukkig saam met hul maats te leef. Ongelukkig sukkel baie van hierdie vroue om ontslae te raak van hul skuldgevoelens oor hierdie tyd uit hul verlede. Die skuldgevoelens het twee bronne: Jy voel eerstens skuldig omdat jy destyds die verkeerde besluite geneem het, en jy voel tweedens skuldig omdat jy meer onlangs die verkeerde besluit geneem het om dit vir jou lewensmaat weg te steek.

So, wat maak jy met daardie skuldgevoelens?

Skuldgevoelens kan jou terughou as jy dit nie trotseer nie. Dit laat jou minderwaardig voel en gee aan jou ’n strewe om weg te steek wie jy werklik is. Hierdie gevoelens kan verhoudings en veral huwelike, dramaties beïnvloed. Omdat jy skuldig voel, het jy ’n vrees vir blootstelling en sal jy maklik verdedigend optree of terugtrek. Aan die ander kant, kan ’n mens – as gevolg van skuldgevoelens – altyd ingee teenoor jou maat omdat jy voel asof jy pal in die skuld is.

Dalma Heyn van hitchedmag.com meen egter dat jy jou woorde mooi moet kies. “Ware intimiteit gaan meer oor diskresie as oor openbaring. Intimiteit vereis ’n wegval van grense. Maar die ‘waarhede’ wat jy deel wanneer jy jou seksuele verlede deel, bring diep kompetisie, bedreiging en jaloesie mee.” Hiermee word nie bedoel dat jy jou verlede mag wegsteek nie. Dít waaroor jy skuldig voel, moet beslis uit in die ope. “Maar dit is nie nodig om vir jou maat te vertel dat jy nege orgasmes saam met jou seksmaat (wat ’n biseksuele joga-instrukteur was) gehad het nie,” meen sy.

Jim Aquila skryf op alt-4-health.com dat ’n mens inligting oor jou verlede – veral gebeure wat ’n persoonlike swakheid of mislukking demonstreer – met jou maat móét deel. “Geen area van jou lewe moet geheim gehou word nie. Alle vrae wat deur jou maat en ander gevra word, moet volledig beantwoord word, sodat dit nie méér skade sal doen nie. Natuurlik moet hierdie dinge vóór die huwelik geopenbaar word. Bly by die reël van eerlikheid deur jou hele verlede, selfs die openbaring van voorhuwelikse en buite-huwelikse seksuele verhoudings, bloot te stel.” Hy meen dat ’n man en vrou mekaar moet kan vertrou – ongeag die gevolge. “Dit is ’n uiters belangrike deel van hul persoonlike karakter, sowel as die vermoë om vertroue te bou.” Hy sê dat jy nie jou maat moet onderskat nie. Jy dink dalk dat hy baie erger gaan reageer as wat wel die geval is. As jy iets probeer terughou, gaan jou maat raai wat dit is. En as hy verkeerd is, gaan dinge net vererger.

Weg met die skuldgevoelens!

1. Neem verantwoordelikheid vir wat gebeur het. Dit help nie om alles toe te skryf aan jou omstandighede nie. Te veel mense verwyt hul ouers, hul agtergrond en weier om hul aandeel in die situasie te aanvaar. Jy het vrye wil en jy het die verkeerde keuses gemaak. Daar is egter ’n groot verskil tussen selfkastyding en die aanvaar van verantwoordelikheid.

2. Vra verskoning as jy enigiemand te na gekom het. As jy gedurende daardie moeilike tyd in jou lewe ’n ander persoon misbruik het of altyd vir jou maat gejok het oor wie jy toe was, praat met daardie persoon/jou maat deur alle oneerlikheid uit die weg te ruim. Sê jy is regtig jammer, dat jy verstaan wat jy gedoen het was verkeerd, en dat jy wens dinge was anders. Jy kan jouself nou vergewe.

3. Raak ontslae van al die skuldgevoelens en skaamte wat aan jou verlede gekoppel is ( Solank jy ’n ernstige poging aangewend het/aanwend om jou manier van lewe te verander). Natuurlik het almal dinge waaroor hulle skaam voel, maar die geheim is om terug te kyk en te weet jy is nie meer dieselfde persoon wat jy toe was nie. Baie mense leer uit hul foute en word ’n beter mens.

4. Besluit dat jy dinge in die toekoms anders gaan aanpak. Uiteraard is dit vanselfsprekend dat jy nie buite-egtelike verhoudings/seks sal hê nie, maar besluit byvoorbeeld om in die toekoms altyd oop kaarte met jou man te speel. Begin van nuuts af.

5. As dit jou sal help, gebruik ’n simboliese ritueel. Neem byvoorbeeld ’n ou foto uit daardie tyd wat jy liewer wil vergeet en verbrand dit. Was jou hande in ’n bakkie water en wanneer jy die water wegspoel, sê vir jouself dat jou skuldgevoelens saam met daardie water wegspoel.

Vergewe jouself, want die herinnering van jou verlede sal nooit weggaan nie. Dieselfde soort onvoorwaardelike liefde wat jy van God ontvang en wat jy graag van jou huweliksmaat wil hê, moet jy ook aan jouself gee. Spreek jouself vry vir wat ook al jy gedoen het en vra om verskoning as daar mense in jou verlede is wie jy seergemaak het. Onthou altyd dat God se genade genoeg is.

Addisionele bronne:.ehow.com