Is jy gelukkig getroud? Is jy ongelukkig getroud? Dis nie noodwendig een of die ander nie …
As ek jou moes vra wat die teenoorgestelde van ongelukkig is, sou jy waarskynlik sê dis gelukkig – maar dit is in ‘n sekere sin nie waar nie. As ek byvoorbeeld my kop aanhoudend teen ‘n muur sou stamp, sou dit my baie ongelukkig maak. Indien ek egter ophou daarmee (dit wil sê die teenoorgestelde) sou dit my nie gelukkig maak nie. As dit wel so was, dan sou geluk in die lewe gevind kon word deur jou kop teen ‘n muur te stamp, sodat jy kan ophou. En as jy nog gelukkiger wou wees, dan sou jy eenvoudig jou kop harder moes stamp.
Dis natuurlik ‘n onsinnige redenasie, en beslis nie die manier om geluk in die lewe te vind nie. Nee, wanneer ek ophou om my kop te stamp (en ek wag vir die pyn om te verdwyn) sal dit my nie gelukkig maak nie – ek sal slegs ‘nie ongelukkig’ wees.
Op hierdie oomblik dink jy waarskynlik: ‘Wat daarvan? Wat maak dit nou eintlik saak?’ Wel, die implikasie van hierdie verskynsel kan as volg opgesom word: Dinge wat ons ongelukkig maak sal ons nie gelukkig maak as hulle reggestel word nie.
In ons huweliksverhouding kry ons dieselfde verskynsel. Daar is dinge wat ons huweliksmaats doen wat ons baie ongelukkig laat voel, maar as hulle dit sou staak, sou dit nie vir ons huweliksgeluk bring nie – dit sou ons slegs minder ongelukkig laat voel. As ‘n vrou byvoorbeeld gedurig sanik en neul, sal dit haar man waarskynlik baie ongelukkig maak. As sy egter sou ophou daarmee sou dit hom nie gelukkig maak nie – net verlig.
Net so is daar dinge wat ons baie gelukkig sou maak, maar as hulle nie gedoen word nie, maak dit ons nie noodwendig ongelukkig nie. Af en toe bring ek sommer vir Joy blomme huis toe en dit maak haar altyd baie bly. Maar wanneer ek nie blomme huis toe bring nie, maak dit haar nie ongelukkig nie (tensy ek ‘n belangrike verjaardag vergeet het).
Die twee dimensies van huweliksgeluk
In ons huweliksverhouding kan ons dus ‘n onderskeid tref tussen gedrag wat ongelukkigheid voorkom en gedrag wat geluk meebring. Die vraag is dus nou watter gedrag veroorsaak watter reaksie? Gedrag wat ongelukkigheid voorkom is die mate waarin ons optree in ooreenstemming met ons huweliksmaat se verwagtings. Gedrag wat geluk meebring is die mate waarin ons ons huweliksmaats se emosionele behoeftes bevredig. ‘n Vriendin van ons het hierdie konsep baie goed geïllustreer toe sy gesê het: ‘Ek verwag dat my man my met die opwas van die skottelgoed moet help – as hy dit nie vanaand gedoen het nie sou ek baie ongelukkig gevoel het, maar die feit dat hy my wel gehelp het, het my nie juis gelukkig gemaak nie. As hy egter vir my sommer uit die bloute ‘n doos sjokolade gebring het, sou ek baie gelukkig gevoel het. Die feit dat hy dit nie gedoen het nie, het my egter nie ongelukkig gemaak nie.’
Wat is my maat se verwagtings?
Sommige verwagtings word bepaal deur aanvaarde sosiale rolle (alhoewel dié ook aan die verander is). Daar word byvoorbeeld normaalweg van die vrou verwag om die maaltye voor te berei. Daar word normaalweg van die man verwag om te sorg vir enige herstelwerk aan die huis. Die meeste verwagtings sal egter van paartjie tot paartjie verskil. In een gesin mag dit van die man verwag word om die kinders in die bed te sit. In ‘n ander gesin mag die vrou die finansies administreer.
Daar is ook verwagtings sover dit die huweliksverhouding aangaan. ‘n Man mag byvoorbeeld van sy vrou verwag om hom te vertel wanneer sy kwaad is, of hy verwag van haar om hom te vertrou wanneer hy laat uitbly, of hy verwag van haar om hom te ondersteun in die dissiplinering van die kinders. ‘n Vrou mag miskien verwag dat haar man haar gereeld komplimenteer, om sy ambisies en frustrasies met haar te deel en om haar elke nou en dan vir ete uit te neem.
Die verwagtings hoef nie altyd so algemeen van aard te wees nie. Hulle kan ook baie spesifiek vir ‘n besondere situasie wees. Ek het soms verwagtings oor hoe ons ’n besondere aand sal deurbring, of wat ons alles op vakansie sal doen. Joy mag weer verwagtings hê oor wat ons alles gaan doen wanneer vriende ‘n naweek by ons kom kuier.
As daar egter nie voldoen word aan hierdie verwagtings nie, sal dit heelwat ongelukkigheid en weersin tot gevolg hê by die maat wat verontreg voel. Die probleem word vererger deurdat hierdie verwagtings nie altyd duidelik uitgedruk word nie, of miskien nog belangriker, nie onderling op besluit word nie. Selfs al sou die een maat sy of haar verwagtings duidelik stel, mag die ander een hulle nie as redelik beskou nie. Hulle moet dus bespreek en daarop ooreengekom word.
In die vorige deel het ek gemeld dat Joy van my verwag het om haar te help, sonder dat dit vir haar nodig is om my te vra. Ek het dit as ‘n onredelike eis beskou. Ons het sedertdien ooreengekom dat sy sal vra wanneer sy my hulp nodig het – en wanneer sy vra, sal ek haar gewilliglik help.
Om egter slegs te doen wat van jou verwag word, bring nie huweliksgeluk mee nie – alhoewel die aandag in so baie huisgesinne hierop toegespits word. Menige man sal elke dag lang ure werk om ‘net die beste vir sy gesin te kan gee’ – en tog maak dit sy gesin nie baie gelukkig nie. Dikwels is sy gereelde afwesigheid juis ‘n groot bron van ontevredenheid. Eweneens kan ‘n vrou haar daarop toespits om ‘n uitstekende huishoudster te wees, en tog nie haar man gelukkig maak nie.
Betsie was so ‘n vrou. Haar huis was altyd blinkskoon. Haar maaltye het ‘n gesonde gebalanseerde dieet verskaf. Haar gesin was altyd netjies aangetrek. Tog het haar man haar verlaat vir ‘n vrou wat baie slordiger en meer ongeëerg was. Hy het na iemand gesoek wat hom gelukkig sou maak – en dus het Betsie hom verloor, alhoewel sy alles gedoen het wat van ‘n geoeie huisvrou verwag kon word. Sy het egter nie haar man se emosionele behoeftes bevredig nie.
Wat is my maat se emosionele behoeftes?
Alhoewel individue uniek is en beslis in hulle emosionele behoeftes verskil, kan ons tot sekere algemene gevolgtrekkings kom oor die emosionele behoeftes van ‘n man en die emosionele behoeftes van ‘n vrou (kliek hier vir meer inligting oor hierdie emosionele behoeftes en hoe dit ‘n wonderlike kringloop in jou huwelik kan begin). In hierdie stadium moet ons kyk wat God oor die onderwerp sê. In Efesiërs 5:33 lees ons dat elke man sy vrou soos homself moet liefhê en dat elke vrou haar man moet eerbiedig. Wat vertel dit vir ons omtrent die man en die vrou se emosionele behoeftes? Ons kom agter dat ‘n vrou se emosionele behoefte is om bemin, vertroetel, beskerm en verstaan te word. 1 Petrus 3:7 sê byvoorbeeld: ‘Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag …’Dit is tragies dat die vrouebevrydingsbeweging aandring op behandeling wat sal verhoed dat die vrou se diepste emosionele behoeftes bevredig word. God sê ook dat ‘n man se grootste emosionele behoefte is om gerespekteer, bewonder en na opgesien te word. Dit is waarom vroue in Kolossense 3:18 aangesê word om aan hul mans onderdanig te wees – nie omdat hulle enigsins minderwaardig is nie, maar omdat dit sy diepste emosionele behoeftes bevredig.
Oorkoming van die vloek
In deel een het ek daarop gewys dat God ‘n vloek oor die huweliksverhouding uitgespreek het vanweë die sonde. Hierdie vloek het beteken dat die vrou haar man wil beheer en dat die man oor sy vrou sal heers. In die Nuwe Testament lees ons egter God se voorskrif vir ‘n gelukkige huwelik – en dis net die teenoorgestelde. In plaas van om haar man te wil beheer, moet sy aan hom onderdanig wees. In plaas van om oor sy vrou te heers, moet die man haar liefhê tot die punt waar hy homself vir haar sal gee. Dit is die sleutel tot huweliksgeluk.
- Dié artikel is ‘n verkorte uittreksel uit die boek ‘Bou aan liefde vir ‘n leeftyd: Kom ons wen saam’ deur Dr Arnold Mol.