Pluk uit die klere, spring in die vere en woeker met woema! Maar gaan haal eers jou inkopielysie, jy gaan hierdie lekker eetgoed wil aanskaf vir ’n op-en-wakker sekslewe.
Seldery: Oukei, dit klink seker nie so smaaklik nie, maar het jy geweet dat seldery androsterone bevat? Dit is ’n reuklose hormoon wat mans afskei wanneer hulle sweet en blykbaar is dit ’n groot turn-on vir vrouens!
Eiers: Sodra ons stres en angs beleef, is vitamiene B die eerste ding wat ons liggame opgebruik. Voedsel soos eiers kan help om jou angs in die slaapkamer te onderdruk en dinge soos performance anxiety en voortydige ejakulasie onder die jack te skop.
Vanielje-roomys: Meer energie, ’n hoër libido en beter orgasmes van vanielje-roomys? Glo dit! Vanielje-roomys bevat kalsium en fosfor wat jou spiere se reserwe energie opbou sodat jy langer kan voortstoom. Die spiere in mans wat ejakulasie beheer het kalsium nodig om sametrekkings te kan doen – en daar is genoeg in ’n bakkie roomys om te help daarmee.
Gemmer, knoffel en uie: Hierdie groente kan jou die stamina gee wat farmaseutiese produkte net kan belowe. Dit stimuleer bloedvloei na die geslagsdele en kan intense gevoelens van arousal veroorsaak.
Tamaties: ’n Libido-hupstoot vir hom en haar! Tamaties bevat ’n anti-oksidant genaamd likopeen, wat bekend is daarvoor dat dit beide mans en vrouens se lus aanwakker. Plus dit versterk die bloedvloei na die penis met tot 5%! Miskien is daardie tamatiebredie nie ’n slegte idee vir aandete nie…
Olyfolie: Ons benodig gesonde vet om sekshormone te produseer. Olyfolie help ons om estrogeen en testosteroon te vervaardig, wat weer lei tot ’n sterk en gesonde libido by beide mans en vrouens.
Donker sjokelade vir haar: Liplek-lekker, die meeste vrouens is gaande oor sjokolade. En vir ’n goeie rede. Die kakao in sjokolade bevat methylxanthines, stimulante wat jou liggaam se sensitiwiteit vir aanraking verhoog. Dit proe nie net lekker nie, dit voel ook lekker!
Steak vir hom: Terwyl vroulief aan haar donker sjokolade smul, eet ’n lekker stukkie steak. Die proteïene in die vleis verhoog die dopamien- en norepinefrienvlakke in die brein. En ja, jy het reg geraai – die genoemde twee stowwe vermeerder jou sensitiwiteit gedurende seks. En dis nie al nie: Rooivleis help ook om stowwe te inhibeer wat bloedvloei na die penis kan verhinder.
Piesangs: Benodig jy energie in ’n japtrap? Piesangs verhoog jou energievlakke en libido. Geen verskoning om moeg te wees nie.
Lewer: Nie baie sexy nie, maar lewer bevat glutamien – in gewone Afrikaans libido-petrol. Dit vorm ’n baie goeie kombinasie saam met die knoffel en uie gebraai in olyfolie. Full steam ahead!
Ontbytpap: Sit bietjie snap, crackle and pop in jou sekslewe. Voel jy dikwels dat jy energie kort? Gaan kyk bietjie na die bestanddele in jou ontbytpap en maak seker dat dit thiamin en riboflavien bevat. Dié vitamienes help jou om energie meer doeltreffend te gebruik sodat jy nie aan die slaap raak voor die televisie nie. Dit help ook die senuweestelsel om behoorlik te funksioneer sodat jy meer stimulasie en plesier tydens seks ondervind. Ontbytpap bevat ook niasien. Niasien is belangrik vir die afskeiding van histamien, wat jou liggaam benodig om te nies en orgasmes te aktiveer. Gesondheid!
Artisjokke: Die antieke Romeine het geglo dat artisjokke hulle vir ewig sal laat lewe. Ongelukkig toe nou nie, maar dit kan wel jou sekslewe opkikker! Artisjokke bevat pantoteensuur, wat help om galproduksie te reguleer. Lang storie kort: Dit is goed vir jou lewer en goed vir jou senuweestelsel. Dit maak jou meer sensitief vir aanraking en stimulus, wat meer “aaah” en “oooh” oomblikke tydens seks beteken.
Deur Thalia Brüssow