Jy is moeg gesukkel. Dit voel asof julle probleme onoorkombaar is en jy sien nie lig aan die einde van die tonnel nie. Egskeiding is die enigste opsie . . . maar is dit regtig? Doen eers dié dinge voor jy jou maat dagvaar. Julle mag dalk net ’n ander pad stap.

Promosie

Chris was raadop. Ná ’n huwelik van sewe jaar was hy en Charlene sielsongelukkig. Die huwelik was allermins wat hulle gedink het dit sou wees. In plaas van die picket fence-perfeksie wat hulle in gedagte gehad het, het hulle snags langs mekaar gelê met ’n gevoel van leegheid. Hulle kon nie kinders hê nie en die frustrasie hiervan het hulle op ’n dieper vlak geraak as wat enigeen van hulle besef het.

Charlene het haar toegespits op haar stokperdjie – die restourasie van ou meubels – terwyl Chris nie kon verstaan hoe sy haar só kon onttrek en hy só sukkel om sy emosies te verwerk nie. Die hartseer wat hulle eintlik nader aan mekaar moes bring, het hulle uitmekaar gedryf, tot hulle soos vreemdelinge teenoor mekaar gefunksioneer het.

Elke gesprek het in ’n rusie ontaard, besoeke aan beraders was vrugteloos en daar was net een opsie – egskeiding. Dit was egter eers ná Chris eendag in ’n diep gesprek met ’n geskeide vriend gewikkel was wat die besef tot hom deurgedring het: Hy wou nie regtig skei nie. Hy wou hê hul huwelik moes verander.

Promosie

Kenners meen dit is baie belangrik om jouself sekere vrae te vra vóór jy oorgaan tot egskeiding. Tiek eers die volgende vrae af:

#1. Het ek eienaarskap geneem van my foute?

Verhoudingskenner Tracy Thomas sê op redbookmag.com dat as jy jou verhouding met jou maat wil regmaak, jy by jouself moet begin. “Dit neem slegs een persoon om die dinamiek te verander.” Om sekere verwagtinge van jou maat te koester of om te glo jou maat moet jou gelukkig maak, kan ernstige probleme veroorsaak. Daarom moet jy eers kyk na die vereistes wat jy aan jou maat stel en jouself afvra of jý hieraan voldoen. “As jy nie doen nie, kan jy beslis weet daar is ruimte vir die verhouding om te genees en te ontwikkel,” sê sy.

#2. Het ons gehaltetyd en liefde ’n prioriteit gemaak?

Waarskynlik nie. Dit is hoekom julle hier staan. Toe jy en jou maat pasgetroud was, was daar twee dinge wat julle gereeld gedoen het: Julle het gehaltetyd saam deurgebring en julle het jul liefde vir mekaar uitgedruk. As julle op die rand van ’n egskeiding staan, is dit selfs belangriker as ooit vir julle om dit te doen – al voel dit soos die laaste ding wat julle wil doen. Dink aan hoe jy jou maat se liefdestenk kan volmaak. Volgens outeur en huwelikskenner Gary Chapman is liefde geneig om liefde te stimuleer. Dade kom eerste, en daarna volg emosies. As julle dus sukkel in dié verband, beveel hy aan: “Fake it until you make it.”

#3. Het ons alles binne ons vermoë gedoen om hulp te kry?

Voor julle egskeiding oorweeg, is dit belangrik om jouself af te vra of julle alles in jul vermoë gedoen het om hulp te kry. Ja, julle het dalk ’n terapeut gaan sien en dit het nie vrugte afgewerp nie. Was julle by ’n tweede terapeut? Onthou ook ’n terapeut is nie ’n towenaar nie, maar iemand wat jou ’n hupstoot kan gee of in die regte rigting kan lei sodat jy en jou maat self met toewyding en moeite jul huwelik kan red – as julle bereid is om moeite te doen.

#4. Het ons gedetoks van slegte verhoudingsgewoontes?

Voor jy egskeiding oorweeg, moet jy met ’n kritiese oog kyk na jul verhoudingsgewoontes. Het julle gewoond geraak daaraan om mekaar nie te soengroet nie? Het julle ’n taal van kritiek teenoor mekaar ontwikkel? Dis moeilik om disfunksionele gewoontes en gedagtepatrone te breek, maar dit kan die verskil beteken tussen ’n egskeiding en ’n tweede kans op sukses. Fokus ook daarop om die beste van jou maat te verwag, nie die slegste nie. Negatiewe aannames is soos gif in jou huwelik.

#5. Was hierdie huwelik waarlik ’n fout?

Dink krities terug aan die maat met wie jy getrou het en die huwelik wat julle tot dusver gelei het. Hoeveel hiervan was positief en hoeveel was ’n marteling? Is julle hele huwelik ’n groot fout of staan julle net nou voor ’n situasie waarvoor julle nie toegerus is nie? Dit is wel so dat mense met narsiste trou of deur hul huweliksmaats mishandel word. In só ’n geval is dit dikwels beter vir jou emosionele en fisieke veiligheid om uit die huwelik te ontsnap. Maar in ander gevalle het jy waarlik met ’n persoon getrou saam met wie jy jou ’n ewigheid voorgestel het. Dalk is julle nou onbevoeg om die situasie te hanteer, maar nie noodwendig onbevoeg vir mekaar nie.

#6. Gaan dit beter wees vir die kinders?

Oorweeg die kinders se welstand. Hoewel baie kenners jou sal aanraai dat jy nie in ’n ongelukkige huwelik moet bly ter wille van die kinders nie, is dit wel jul verantwoordelikheid om die kinders in ag te neem. Nee, julle moenie bly ter wille van die kinders nie, maar julle moet ’n daadwerklike poging aanwend om dinge só te verander dat dit wel tot hulle voordeel sal strek. Oorweeg hoeveel konflik jou kind tans moet trotseer en hoe ’n egskeiding jou kind se lewe gaan impakteer – finansieel, sosiaal (as daar byvoorbeeld van skole verander moet word) en so meer.

#7. Is ek op ’n nugter plek wat my emosies aanbetref?

Stel vas uit watter emosie jou besluit voortvloei. Is jy kwaad omdat jou maat ’n affair gehad het en wil jy haar met ’n egskeiding straf? Is jy geskok oor ’n lewensveranderende besluit wat sy geneem het en wil jy haar terug skok met ’n egskeiding? As jy op ’n plek is waar jy oorweldig voel deur emosies, is dit nie ’n goeie tyd om só ’n besluit te neem nie. Tensy jy opreg en nugter glo dat julle mekaar emosioneel vernietig, dat daar nie salf aan die situasie te smeer is nie en dat jy jou maat genoeg respekteer om nie ’n frustrerende, woedende egskeiding te onderneem nie.

#8. Wil ek werklik skei?

Dink regtig hard en diep oor wat egskeiding beteken. Gaan julle gelukkiger wees sonder mekaar?  Egskeiding word maklik as ’n wapen of dreigement gebruik sonder om werklik te dink oor die realiteit wat dit inhou. Vra jouself af: Wil ek regtig skei? Of wil ek ’n beter huwelik hê saam met die een met wie ek getroud is? Op huffingtonpost.com skryf Winifred M Reilly dat daar ’n groot verskil tussen ’n ongelukkige huwelik en ’n onredbare huwelik is. Paartjies dink maklik (verkeerdelik) dat egskeiding die enigste uitweg is wanneer hulle struikelblokke teëkom (wat eintlik heeltemal normaal is). Wanneer jy soek na verandering, is egskeiding ’n radikale stap.

As jy ooit gedink het egskeiding is die maklike uitweg of die oplossing vir jou huidige probleme, dink weer. Saam met egskeiding kom ’n hele nuwe stel probleme. Daarom moet jy werklik seker wees dat daar geen manier is dat jy en jou maat jul huidige situasie kan verander nie, voor julle besluit om jul huwelik te beëindig.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.huffingtonpost.com, www.thespruce.com, www.liveabout.com, www.today.com.