Dit is nie algemeen nie, maar dit gebeur wel dat ’n paartjie skei – en weer met mekaar trou. Maar kan dit werk? Leer só ’n paartjie uit hul foute sodat die huwelik die tweede keer ’n sukses is? Of gaan dinge ’n tweede keer misluk?
Eers ná hy sy hande vir sy vrou gelig het, het hy besef hy het werklik ’n probleem. Maar hy het geweet: Tot hiertoe en nie verder nie. Maryna* (nou 64) en die kinders het getrek en sy het hom vir ’n egskeiding gedagvaar. Vandag is Nico* (nou 66) en Maryna gelukkiger as ooit tevore.
“Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma aan depressie gely het,” vertel Nico. Toe hy 15 jaar oud was, het haar selfmoordpoging gefaal. Sy is kort daarna in ’n inrigting opgeneem. “Nadat my ma opgeneem is, het my pa net mentally uitgecheck. Hy sou sommer die hele nag uitgaan en my en my jonger broer (hy was toe twaalf jaar oud) alleen by die huis los. Soms het hy met vreemde vroue huis toe gekom. Ek moes die fort hou en, ter wille van my broer, sterk bly. Buitentoe het ek niks weggegee nie. Stille waters. Maar binne-in was my gemoed ’n maalkolk.”
In matriek het hy vir die eerste keer werklik met die effek van alkohol te doen gekry. Dit was ’n valse vriend wat die seer in sy gemoed tydelik verlig het. Op universiteit, het hy eers later besef, was hy reeds in die kloue van die bottel. “Dit was maklik om my drankprobleem weg te dink omdat my klasmaats ook gereeld ’n paar blikkies geknak het. Niemand het gedink dis snaaks dat ek élke dag drink nie.”
In sy tweede jaar op universiteit het hy vir Maryna, wat maatskaplike werk studeer het, ontmoet. “Hulle was dolverlief,” sê Nico, “seker so verlief soos wat ’n mens kan wees as beide van julle in die koshuis is en omtrent nie eens kon hande vashou nie!”
Hulle is getroud kort nadat Maryna haar graad verwerf het. Maryna het tóé eers besef hoe diep Nico werklik in die bottel kyk. “Sy het probeer om met my te praat, maar ek het die probleem afgelag. Later het dit ’n argument geword. En toe ’n aanhoudende bakleiery. Dit voel asof ons vir die eerste tien jaar van ons huwelik onophoudelik baklei het.”
Om die argumentering te stop, het hy sy drank – en sy drankgebruik – vir Maryna probeer wegsteek. Maar sy het geweet, sê Nico. Na die geboorte van hul tweede kind was sy raadop, moedeloos en neerslagtig. “Sy kon dit net nie meer uitstaan nie en het depressief geraak. Eendag het sy, sekerlik uit desperaatheid, vir my gesê dat sy haar kar van ’n afgrond gaan afry as ek nie ophou drink nie. Dit het ’n senuwee vir my raak geslaan . . .”
Onder die invloed van alkohol en met die onopgeloste kinderdae-seer steeds in sy gemoed, het hy vir Maryna deur die gesig geslaan. “Eensklaps het ek geweet, hierdie is die draaipunt in my lewe. Ek gaan alles opfoeter.” Nico het ineengesak en begin huil. Maryna en die kinders het op kort kennisgewing getrek en Nico is vir ’n egskeiding gedagvaar. Ses maande daarna is hulle geskei.
As deel van die voorwaardes om sy kinders (sonder toesighouding) te kon sien, moes hy inboek vir rehabilitasie. “Dit was die laagste laagtepunt in my lewe. Ek het soos ’n verloorder gevoel, ’n ou sukkelaar wat ook iewers moes inboek . . . soos wat my ma destyds moes doen.” Hy sluk swaar. “Maar ek het my demons geface.”
Hy moes daagliks vir groepterapie aanmeld en een keer per week met ’n sielkundige praat. “Dit was só moeilik en ek wou baie kere opgee. Maar, soos wat die terapie my begin help het, het ek al hoe meer besef hoe lief ek vir my vrou is. En hoe baie ek haar nodig het.” Nico het besluit om haar terug te wen.
Hy het besef dat ’n ander verhouding maar net tot dieselfde hartseer gevolge gaan lei, want die probleem was nie sy vrou nie . . . dit was hyself, vertel Nico. “Ek moes baie skade en hartseer face en regmaak met my vrou. Sy was bereid om my te ontmoet by die sielkundige sodat ek met haar kon gesels, kon verantwoordelikheid neem en sê hoe jammer ek is.” Maryna was verbaas, maar het nie die nuwe status quo volkome vertrou nie. “Ek moes haar terugwen. Een dag op ’n slag.”
In terapiesessies het Maryna ook die geleentheid gehad om haar seer uit te spreek en te verwerk. Dit was nie ’n vinnige proses nie, maar Nico was bereid om die pad enduit te loop. “Uiteindelik het ek moed bymekaar geskraap en haar gevra vir ’n date. Ek het haar van voor af begin court.”
Twee en ’n halwe jaar na die egskeiding is hulle weer getroud. Nico is ’n geheelonthouer en sê die drie beste besluite van sy lewe was om op te hou drink, om in te boek vir ’n rehabilitasieprogram en om weer met Maryna te trou. “Ek dink nie om weer te trou sal vir alle paartjies werk nie. Jy kan nie net aangaan waar jy laas opgehou het nie! Die redes vir die egskeiding sal steeds daar wees as jy nie jou eie aandeel aan die probleme erken en iets daaraan doen nie.”
Kan ’n tweede keer vir júlle werk?
Prof Pieter Joubert, ’n sielkundige van Potchefstroom, sê daar was in 2016 meer as 25 000 egskeidings in Suid-Afrika, ongeveer 70 per dag. Verder word 67% van alle kinders in Suid-Afrika in enkelouer-huishoudings groot. “As sielkundige sien ek byna daagliks paartjies wat minder as drie jaar getroud is wat dreig om te skei. Ek dink dikwels hulle het langer aan hulle huweliksonthaal beplan as wat hulle beplan het om getroud te bly! Van tyd tot tyd kry ek ook te doen met ’n paartjie wat voorheen met mekaar getroud was, geskei het en dan wéér wil trou.”
Kan só ’n hertroue suksesvol wees? “Ek dink dit hang baie af van die redes waarom hulle in die eerste plek geskei het. Indien aspekte soos alkoholmisbruik of werkolisme die aanvanklike probleem was en intussen suksesvol opgelos is, is ek van mening dat so ’n hertroue wel kan werk.
“Ander probleme, soos ’n geskiedenis van herhaalde huweliksontrouheid en buite-egtelike verhoudings, herhaalde woedebuie en gesinsgeweld, vereis harde werk om suksesvol op te los.
“Wedersydse vertroue word net gevestig op grond van voorspelbaarheid en konstantheid van gedragspatrone. ’n Paartjie wat wil hertrou, sal saam diepliggende terapie moet deurloop om presies te identifiseer wat die probleme was wat aanvanklik tot hulle egskeiding gelei het. En verder, is daardie oorspronklike probleme aangespreek en opgelos of gaan dit ná die hertroue weer manifesteer?”
Daar is natuurlik ’n moontlikheid dat jy en jou vorige huweliksmaat mekaar kan herontdek en besef dat die egskeiding ’n fout was. Dit gaan wel harde werk kos om nie dieselfde foute te herhaal nie. Dit is noodsaaklik dat egpare wat weer met mekaar trou, verantwoordelikheid aanvaar vir die verbrokkeling van hul huwelik die eerste keer. Hul moet ook hul bydrae hieraan erken om dit nie weer te herhaal nie.
Dit is belangrik om te leer kommunikeer en te weet wát werk en wat werk nié. Die belangrikste is om die gewoonte te breek en dus jou perspektief te verander. Om herhaaldelik dieselfde argument te hê, is doelloos en ook algemene verval.
- Fokus op dié drie wenstappe: Neem ’n tree terug, neem die situasie in hernieude oënskou, orden jou gedagtes en bly kalm. Erken slegte gewoontes en dat gewoontes iets is wat verander kan word.
- Stry teen die impuls om die ander party te blameer. Hanteer die situasie soos ’n speurder en probeer verstaan hoe die ander persoon dink, sonder om aannames te maak. Let op jou stemtoon!
- Die oomblik as julle dinge uit mekaar se oogpunte hoor en verstaan, kan julle werk aan die probleem en oplossings daarvoor vind.
Caryn Feldmann, ’n pastorale berader, glo dat ’n tweede huwelik met dieselfde maat wel kan werk, mits jy die volgende besef: “Wanneer jy dieselfde resep met dieselfde bestanddele herhaal, gaan jy dieselfde resultaat hê. Jy gaan jou bestanddele of metode moet verander om ’n ander uitslag te kry.”
Vir ’n huwelik om ’n tweede keer te werk, moet eerlike, ernstige gesprekke en evaluasies plaasvind om vas te stel waarom die huwelik in die eerste plek ’n mislukking was. Boonop mag daar gevoelens wees van mislukking, spyt en verraad as gevolg van die egskeiding.
Vra jouself die volgende:
- Wat het ons in die eerste plek laat besluit dat die enigste antwoord ’n egskeiding was?
- Kan ek erken waar ek dit moontlik “gemis” het?
- Het ek verander en het persoonlike groei plaasgevind?
- Kan ek eerlik teenoor jou wees op gebiede waar ek voel jy verbetering nodig het?
- Is ek bereid om aan my tekortkominge te werk?
- Is ek/ons bereid om mekaar onvoorwaardelik te vergewe?
Caryn glo dat indien die paartjie dié vrae eerlik kan antwoord en bereid is om die nuwe huwelik as ’n skoon blad te sien, dit kan werk. Paartjies het dikwels nie regverdige “rules of engagement” as dit kom by konflikhantering nie. Konflik is ’n gegewe in enige huwelik op ’n stadium, maar dit moet nooit vernietigend wees nie. Deur die reëls vooraf vas te stel, is dit moontlik om ’n veilige, stabiele omgewing vir konstruktiewe konflik te skep.
Caryn verduidelik: “Ek en my man vermy kragwoorde en bewoord dit ‘Wanneer jy dit doen, voel ek só’, in plaas van om te blameer. Sodoende skep jy ’n omgewing waarin die ander persoon gemaklik voel om sy of haar gevoelens te deel en kan rekonsiliasie plaasvind.”
Die paartjie moet bereid wees om saam as ’n span aan bogenoemde punte te werk. Daar moet geen verwysing na die eerste huwelik wees nie, mits dit moontlike groeipunte vir die nuwe huwelik is.
“Onvergeeflikheid en die konstante herinnering aan jou maat se foute en tekortkomings sal beslis nie werk nie. Dieselfde onstabiele fondasie, nou selfs met meer krake as aan die begin, kan geensins ’n sterk gebou waarborg nie en sal weereens op mislukking uitloop. Indien jy dieselfde waarskuwingstekens sien as vóór jul egskeiding, is die kanse goed dat niks verander het nie.”
Wees versigtig met die kinders en familie
Marita van der Berg, ’n kliniese sielkundige van Krugersdorp, sê: “Om weer met dieselfde persoon ter wille van die kinders te trou, is ’n slegte idee. ’n Paartjie moet dus seker maak dat hulle weer wil trou vir die regte redes. Dit is beter om nie dadelik die kinders in kennis te stel dat hulle weer in ’n verhouding is nie. Die kinders kan dalk hoopvol raak en as dit nie uitwerk nie, weereens blootgestel word aan teleurstelling en seerkry. Daar is ook kinders wat dit glad nie sal verwelkom dat hulle ouers weer trou nie.
“Dit is ’n móét vir sulke paartjies om vir voorhuwelikse terapie te gaan. Dit sal ook wys wees om vir ten minste ’n jaar in ’n liefdevolle verhouding te wees voordat hulle die knoop weer deurhaak.
“Die ouers en skoonouers mag dalk nie noodwendig dieselfde voel oor ’n hertroue nie. Hulle mag dit dalk moeilik vind om die traumatiese gebeure ten opsigte van die eerste huwelik agter hulle te sit. Die paartjie en die ouerpare kan baie baat vind by familieterapie waartydens grense en rolle hanteer word.”
As jy en jou maat dus weer wil trou, kyk goed na die redes waarom julle destyds geskei is en stel vas of dié oorsaak uitgestryk of die probleme opgelos is. Indien wel, is ’n tweede kans op geluk wel moontlik – met terapie, geduld en deursettingsvermoë.
Deur die Redaksiespan
*Skuilname is gebruik