Is ek verkeerd om te dink/voel dat my man nog gevoelens het vir sy eks?
Ons is in so tipe situasie waar sy altyd in die prentjie is. As sy in die omtrek is gesels hy alte lekker met haar, maar as ons by huis is is dit net die teenoorgestelde met my, kortaf, klink of ek hom irriteer en daar is nooit tyd vir my nie, want hy het kwansuis baie om te doen. Dit is asof hy ‘n grap gemaak het as ek hom daaroor aanspreek. Ek soek regtig graag raad en julle mening asb want ek weet nie meer wat om te dink nie.
Peter Edgar, huwelikskenner en -berader, antwoord:
As ons iemand liefhet en hierdie soort ding gebeur, is dit heeltemal normaal om sulke gevoelens te hê en selfs regtig seergemaak te voel, ongeag die situasie. Ongelukkig raak hierdie seer (onbewustelik) alle aspekte van die huwelik. Eweskielik betwyfel jy jou optrede, en dit kom voor asof hy jou vermy, omdat hy ook ongemaklik is.
Die probleem word vererger deur die eks se teenwoordigheid; onthou egter dat hulle geskei is en hy jou gekies het. Maar natuurlik het hulle ook goeie tye saam beleef so daar sal sekere gevoelens oorbly. En dit is hoekom daar opgetree moet word.
Eerstens, hou op foutvind met jouself – dit veroorsaak slegs angs en spanning en gaan niks oplos nie, want so raak jy net meer krities. Dan moet daar definitief grense gestel word in verband met die eks. Maak dit duidelik dat jy en jou man saam is en dat sy nie deel is van die verhouding nie en ook geen regte in jou huwelik het nie.
Alhoewel daar ‘n mate van teenkanting van jou man verwag kan word, stel ek voor dat jy openlik met hom daaroor praat en dat jy duidelik vir hom sê hoe seer dit jou maak. Hoe langer hierdie situasie verdra word, hoe dieper wig sal dit in jou huwelik indryf.
Indien daar kinders by betrokke is kan ‘n mens verstaan dat daar steeds gereelde kommunikasie moet wees, maar die grens moet duidelik gestel en deur albei van julle verstaan word.
Beseg asseblief dat hierdie ernstig is en as julle dit nie self kan oplos nie, moet jy hulp van buite af kry om dit te beëindig.
Kom in kontak met Peter Edgar vir huweliksberading en -ondersteuning. Kliek hier!

