“Ek en my man is nou al meer as ’n jaar getroud. In die begin was seks seer en moeilik, maar moontlik. Ons het gou agtergekom iets is fout en my ginekoloog het gesê ’n hymenektomie (die verwydering van jou maagdevlies) is nodig. Ek was ses maande gelede vir hierdie operasie en sedertdien is alles erger. Ek en my man kon glad nie weer seks hê nie. Die dokter meen fisiek makeer ek niks, maar elke keer wat ons probeer, kry ek só seer dat ons eerder ophou. Ons probeer verskillende posisies en produkte, maar kry geen sukses nie. Ons is nog jonk en wil graag kinders hê, maar meer as dit: Ek wil volkome vrou vir my man wees. Dit takel my emosioneel af en veroorsaak onnodige stres in ons huwelik.”

Promosie

Elmari Craig, seksuoloog, verhoudings- en huwelik­sterapeut, sielkundige, kliniese hipnoterapeut en outeur, antwoord:

Ongelukkig is ’n hymenektomie gewoonlik nie die antwoord vir pyn tydens seksuele omgang nie. Pyn kan veroorsaak word deur vaginismus, vulvadinia, dyesthetic vulvadinia, vestibulitis of dyspareunia. In die meeste gevalle vererger die pyn na ’n hymenektomie omdat die oorsaak van die pyn nie aangespreek word nie. Die behandeling van die pyn sal afhang van watter diagnose gemaak is. Dit is nodig om dit baie duidelik te stel dat die pyn wat ervaar word ware pyn is. Dit is nie in jou kop nie! Die oorsaak van die pyn kan egter wel ook emosion­eel van aard wees. Angs of vorige seksuele trauma kan byvoorbeeld ’n rol speel. Jy verwag seks gaan seer wees, jy raak angstig en gespanne en die pubococcygeus-spiere (bekkenvloerspiere) trek saam en dan is dit seer. Daar is baie paartjies wat met hierdie probleem sukkel, sommige só erg dat penetrasie heeltemal onmoontlik is. Daar is egter hulp. Moenie probeer om die probleem self te hanteer nie. Daar is vandag ’n verskeidenheid weten­skaplik gefundeerde en uiters suksesvolle mediese en sielkundige behandelingsmodelle. Julle het professionele hulp en ondersteuning nodig. Met ’n multi-professionele spanbenadering waar ’n seksuoloog/psigoterapeut en ’n elektro-fisioloog betrokke is, is die suksessyfer baie hoog.

Promosie