As jy glo dat jou man emosioneel so beskikbaar is soos ’n opreg-geteelde Persiese kat, deel jy die sentiment van baie vroue wêreldwyd. Natuurlik troos dit jou nie dat Manlief soos die res van sy spesie is nie, want dit los steeds nie jou probleem op nie – hóé hanteer en dring ’n mens deur tot so ’n wese?

Promosie

Jy onthou die laat aande as studente, toe jul uitgerekte gesprekke tot lank ná middernag geduur het. Oor sy kindertyd, sy hartstogtelike passie vir die Rolling Stones en sy sterk uitsprake teen aborsie. Jy het aan sy lippe gehang en geglo hierdie man is vir jou uit die hemel gestuur. Sy ywer was aansteeklik, sy ambisie was sexy, hy kon so diep raak dat jy party keer gewonder het of jy presies verstaan wat hy sê, en boonop kon hy lekker vry!

Wel, dit is nou twaalf jaar later en hy gaan klim nege-uur in die bed. Hy is so diep soos ’n opblaasswembad met karakters uit Finding Nemo en, hoewel hy nog ewe lekker vry, raak julle nie meer in mekaar se arms aan die slaap nie. Emosioneel is hy skoonveld en jy staan verslae!

Vir sommige vroue is dit ’n hande-in-die-hare-situasie. Manlief lê saans voor die televisie, weier om ’n woord met jou te praat, en as jy wel dieper wil delf, word jy met stomp antwoorde kortgeknip. Of jy kies jou tyd goed en besluit om die kwessie van ’n huwelikseminaar met hom te bespreek, terwyl julle kerk toe ry. Jy sê vir hom julle bestee min tyd saam en jy wil graag ’n bietjie in voeling met hom kom. Skielik word jy afgejak en verander hy summier die onderwerp! Om nie van seks te praat nie … dit is deesdae so meganies dat jy maar net sowel ’n opblaaspop kon gewees het.

Promosie

Is dit nie ongelooflik en onbegryplik nie? Nou moet ons natuurlik ook onthou dat die manne mos van Mars af kom, so in elke huwelik is daar tye wanneer hy noodwendig in sy grot gaan kruip. Baie vroue wag geduldig tot hy eendag weer gereed is om die sonlig te face, en ander is nie so geduldig nie. Met rede… sommige mans lyk nie of hulle óóit weer uit hul grotte gaan tree nie en in baie huwelike kan dit tot ernstige probleme lei.

‘Geestelike wreedheid’ lei tot egskeidings…

Op die webtuiste www.marriagebuilders.com skryf William F. Harley dat die mees algemene rede wat vroue aanvoer as hulle hul mans los, “geestelike wreedheid” (mental cruelty) is. “Wanneer wetlike gronde vir egskeidings gegee word, rapporteer ongeveer die helfte van vroue dat hulle emosioneel mishandel word, maar die geestelike wreedheid wat hulle beskryf, is selde die gevolg van hul mans se pogings om hulle tot raserny te dryf. Dit is gewoonlik eerder mans wat ongeërg is, faal op die gebied van kommunikasie en ander vorme van verwaarlosing openbaar,” verduidelik hy.

Nog ’n rede wat vroue aanvoer, is verwaarlosing self (wat emosionele en fisieke verwaarlosing insluit). Mans wat weg van die huis af werk en hul vroue vir weke lank alleen los, val in dié kategorie. Wanneer al die vorme van verwaarlosing saam gegroepeer word, is dié rede ver voor die ander, en voer verbasend min vroue redes soos fisieke mishandeling, ontrouheid, alkoholisme, kriminele gedrag of bedrog as rede vir hul egskeidings aan.

Is vroue te veeleisend?

Die klagte wat William by vroue hoor is tipies: “Hy ignoreer my, behalwe as hy seks wil hê, hy sit voor die televisie wanneer hy met my kon praat, hy bel my selde om te hoor hoe dit gaan, hy maak my gevoelens seer en vra nooit om verskoning nie. In plaas dáárvan vertel hy my eerder ek is oorsensitief.”

Baie mans voel werklik dat hulle sonder skuld is, meen William. Hulle glo dat hulle alles doen wat hulle kan om hul vroue tevrede te stel, maar dat niks ooit genoeg is nie. Sommige meen selfs hul vroue is bederf en het onrealistiese verwagtinge. Maar is dit regtig so? Wat wil vroue regtig hê? ’n Man wat ’n sielsgenoot is, iemand wat hulle kan vertrou en daar is vir hulle as hulle ’n probleem het, wat hulle gevoelens in ag neem as besluite geneem word. Iemand by wie hulle emosioneel aanklank kan vind, meen William. Nie te veel gevra nie …

Toewyding aan ’n ontwykende leefstyl

Sommige kenners meen die probleem strek baie diep en dat dit nie noodwendig so maklik is om op te los nie. In sy boek, Distant, skryf Les Carter: “Meer as vyf en twintig duisend beradingsessies het my gewys dat die algemeenste huweliksprobleem wat ek teëkom, die geval is van ’n emosioneel ywerige vrou wie se man nie met haar op ’n diep, betekenisvolle en persoonlike vlak wil omgaan nie.” In sy praktyk spesialiseer Les in die behandeling van emosionele stres wat, as dit onbehandel gelaat word, in groot probleme kan omskakel. Hy hoor gereeld die volgende woorde:

  • “Net sodra ek dink dat ons regtig met mekaar kontak gemaak het, doen hy iets om te bewys dat hy nie ’n dooie ding verstaan wat ek gesê het nie,”
  • “Ek dink die man is salig onbewus van my gevoelens.”
  • “Wat gaan dit van my verg om tot hom deur te dring?”
  • “Hy gee meer vir sy werk/sport/stokperdjie om as vir my.”

Namate die verhouding op dié trant voortbeur, dra gevoelens van ontnugtering tot frustrasie by en is vroue met reg ongelukkig, meen hy.

Is dit moedswilligheid?

Waar kom dit vandaan en hoekom tree mans so op? Volgens Richard P. Firzgibbons (www.maritalhealing.com) is daar twee groot oorsake vir emosioneel afsydige gedrag. Die eerste groep mans is die produk van pa’s wat dieselfde probleem gehad het en die tweede groep se vermoë om te vertrou, is diep gewond deur trauma van hul ouers se egskeiding. Hierdie mense ervaar dit moeilik om liefde te gee en te ontvang. En hoekom kan ’n eens emosioneel beskikbare man mettertyd afsydig word?

“Hoewel sommige eggenote gedurende die eerste jare van ’n huwelik vrylik van hulself gegee het, kom emosionele wonde van wantroue uit die kindertyd en adolessensie, onder die invloed van verskeie tipes stres na die oppervlak. Dit kan daartoe lei dat hulle onttrek of hul maats kritiseer in ’n onderbewustelike poging om hulself te distansieer.” Dit kan ook wees dat ’n maat liefde en vrygewigheid van sy eggenoot weerhou as gevolg van seerplekke wat deur die jare tot die ontwikkeling van ’n vrees vir weerloosheid gelei het en wat wantroue, woede en hartseer tot gevolg het.

Mans vermy uitgerekte prosessering

Om emosie uit ’n man te trek, gaan teen sy grein in, net soveel as wat dit vir ’n vrou onnatuurlik is om emosie te onderdruk. Mans is nie so geneig soos vroue om persoonlike en sensitiewe onderwerpe aan te raak nie, meen Les. Hulle stel nie daarin belang nie, en het ’n natuurlike drang om uitgerekte prosessering (wat so nodig is vir intimiteit en persoonlike interaksie) te vermy en direk by die punt (en oplossing) te wil kom. Wanneer ’n vrou haar man dus dwing om hierdie emosionele sy van ’n probleem te hanteer, raak hy gefrustreerd en soek hy ’n manier om sy deelname in hierdie prosesseringsproses te beëindig. Hy kan kies om te onttrek, haar op ’n logiese pad probeer stuur, of selfs ontplof.

’n Sneeubal-effek

Emosioneel onbeskikbare mans of, in Les se woorde, ‘ontwykende mans’, ontdek verskeie manier om diepgaande gesprekke (wat hulle as nutteloos en potensieel skadelik beskou) te vermy: Hulle kry stilstuipe, gee voor om saam te stem, raak vergeetagtig, stel uit, raak lui, kry woedeuitbarstings, ontwikkel werkoholisme, gee onverdeelde aandag aan ’n stokperdjie of sport, en doen hul bes om onbeskikbaar te wees. So ’n man kan selfs sê wat hy weet sy vrou op daardie oomblik wil hoor – om konflik te vermy – maar sonder enige intensie om dit deur te voer. Sy vrou werk hierdie rebellie teë deur in trane uit te bars, hom te probeer oorreed, op vriendinne se skouers te huil, buierig te wees, dieselfde versoeke te herhaal, hom die skuld te gee, en later op te gee. Sodra hierdie sneeubal rol, is dit moeilik om te stop!

Dié algemene probleem, meen hy, kom in die huise van gedrewe, sukses-georiënteerde mense voor, asook in laid back verhoudings. Sommige deelnemers se verhoudings met ander mense is oor die algemeen swak, terwyl ander onder buitestanders baie gewild is. Les noem dit die ‘ontwykende en emosioneel ywerige verhoudingspatroon’. Hy het sewe faktore geïdentifiseer wat die huwelik in hierdie opsig affekteer.

  1. Kommunikasie word ’n magspel. Ontwykende gedrag skep ’n gevoel van mag, en as ’n emosioneel ywerige vrou reageer deur haar eie oorweldigende styl te gebruik (sonder om raak te sien dat hy juis vrees om beheer te word) doen sy presies dít wat sy eintlik moet vermy. Selfs ’n man wat omgee, put hieruit ’n mate van bevrediging deurdat hy dink: ‘Sien? Ek het mag! Ek kan haar emosies beheer, my taktiek het gewerk.’
  2. Hy vermy toewyding en persoonlike toerekenbaarheid. Vroue kla dikwels dat hul mans hulle nie aan enigiets toewy nie, en dat dit moeilik is om hul mans om vas te pen. Ontwykende mans hou egter nie daarvan om vir spesifieke planne aanspreeklik gehou te word nie. Hulle verwar ‘toewyding’ met ‘slawerny’, sien versoekings as dwang en omseil dit deur vaag op te tree. Toewyding laat hulle weerloos voel en daarom speel so ’n man dikwels ‘veilig’ deur so min moontlik van sy planne, voorkeure en gevoelens bekend te maak. Soms lieg hy blatant deur nie deur te voer wat hy belowe nie, en omdat hy nie betroubaar is nie, ervaar sy vrou isolering in die huwelik.
  3. Leierskapsrolle word vaag. Saam met hierdie magspel en ontoerekenbaarheid, ontstaan swak gedefinieerde leierskapsrolle. Die ontwykende man systap situasies wat sy vrou se kritiek kan ontketen en dit sluit situasies in waarin hy die leiding behoort te neem. So ’n man weet leierskap gaan noodwendig soms met kontroversie gepaard, en hulle verkies om laag te lê, maar eindelik offer hy sy gesin se langtermynbehoeftes vir die korttermyndoel van ‘vrede-vir-die-oomblik’ op.
  4.  Die verhouding staan sekondêr tot prestasie. In gesonde huwelike weet maats dat mense foute maak en hulle laat ruimte vir konflikoplossing. Ontwykende mans wil egter nie emosioneel weerloos wees nie en hierdie mans hardloop weg van konflik af, reguit prestasie toe. Hulle is doelgeörienteerd en wil ’n taak so gou moontlik afhandel om aandag aan iets anders te gee. Só ’n man gee nie om om tyd aan werk of ’n visvanguitstappie af te staan nie – hulle weet hoe om dit te doen. Verhoudings verg egter vir ’n man om te wéés, en nie te dóén nie, en vir baie mans is dit ’n vreesaanjaende, ongemaklike konsep.
  5.  Seks word blote fisieke bevrediging. In ’n gesonde verhouding is seks ’n manier om in voeling met jou maat te bly en binding tussen ’n paartjie te onderhou. Vir ontwykende mans is seks egter sonder emosie en slegs vir fisieke bevrediging en beheer bedoel. In ekstreme gevalle sal ’n ontwykende man vir lang periodes geen seksuele belangstelling in sy vrou toon nie. Hy weet dat dit sagte mededeelsaamheid vereis en dit is iets wat hy verkies om te vermy. Hy sal die vreugde van seks opoffer, sodat hy nie emosionele intimiteit hoef te trotseer nie.

’n Algemener uiterste is mans wat bloot hul enjins aanskakel om bevrediging te kry, voordat hulle in hul gemaklike doppe terugglip. Op dié manier minimaliseer ’n man emosionele intimiteit, sonder om die lekkerte van seks prys te gee, en sy vrou se emosies word agterweë gelaat. Ongelukkig ontwikkel so ’n vrou konflikterende gevoelens oor seks in die huwelik. Deels wil sy dit hê, en sy sien dit as ’n wonderlike kommunikasiemiddel, maar sy is tog bang vir die seer wat gaan volg as sy agterkom dat haar man slegs na fisieke verligting op soek is. As hierdie konflik lank genoeg aanhou, sal een van die eggenote dikwels na buitehuwelikse, seksuele bevrediging, in die vorm van ’n affair, pornografie, of flankeerdery gaan soek.

  1.  Persoonlike insig is nie op dieselfde vlak nie. Gesonde mense is gretig om hul huwelik te verbeter. Hulle is bereid om insig en inligting te absorbeer en hul verhouding te bevorder. Vir ontwykende mense is dit te veel moeite en ’n emosioneel afsydige man is nie regtig daarin geïnteresseerd om op persoonlike, filosofiese vlak uitgedaag te word nie. Dit maak hom weerloos en hy verkies ’n gemaklike roetine. ’n Emosioneel ywerige vrou, daarenteen, lees selfhelpboeke, geniet filosofiese gesprekke en woon seminare by om intellektueel te groei. Later gee sy moed op en besef sy dat sy besig is om haar man te ontgroei.
  2.  Albei partye voel soos slagoffers. ’n Ontwykende man se beleid is dikwels: ‘Los my uit, ek sal jou uitlos en ons sal goed oor die weg kom.’ Hoe minder uitdagings daar is, hoe minder konflik is daar, en hoe beter voel hy. Die vrou wat egter nie intimiteit en diepte kry nie, protesteer, en die man wonder waarom hy met ’n klaende, ongelukkige vrou opgeskeep moet sit. So ’n man sien homself as die slagoffer van onredelikheid. Die emosioneel ywerige vrou voel ewe veel soos ’n slagoffer. Albei eggenote stem saam dat die huwelik ten gronde gaan, en albei kan uitwys presies hóé die ander een daartoe bydra. Ontwykende gedrag is só skadelik, meen Les. Nie net vir die vrou nie, maar ook vir die man, aangesien dit hom daarvan weerhou om die bevrediging te ken wat God vir hom bedoel het.

Wat kan jy daaraan doen?

As ’n huweliksituasie so ver gevorder het dat bogenoemde faktore duidelik sigbaar is, is dit vir ’n emosioneel onbeskikbare man dikwels moeilik om sy aandeel in die situasie te begryp, en sal dit waarskynlik professionele berading verg om hom die nodige insig te gee.

Begin deur self te verander.

Begin deur op te hou verantwoordelikheid vir jou maat se foute aanvaar. Hy sê dalk dat jy hom so afsydig gemaak het met jou voortdurende gekerm, maar dit is nie waar nie, selfs al dink hy dit is. Hy sou dieselfde reageer, selfs al was hy met iemand anders getroud. Moenie jou maat probeer verander nie, dit gaan die probleem slegs vererger. Jy wil graag verandering hê, maar jy weet dat geen persoon gaan verander as iemand anders hom dwing om dit te doen nie.

’n Ontwykende man gaan homself verander, slegs as hy die ruimte het om dit te doen. Ongelukkig beteken dit ook dat hy kan kies om níe te verander nie. Dit beteken nie dat jy hoef op te gee nie. As jy glo hy ontwyk onderwerpe wat bespreek moet word, en hy raak ontwykend, kan jy vir hom sê dat dit vir jou frustrerend is, sonder om hom te konfronteer. In die hitte van die oomblik kan ’n mens dinge sê wat jy nie andersins sou sê nie.

Probeer jou benadering verander. Hou jou kant skoon. Dalk is die verbetering in jou lewe net die katalisator wat jou maat nodig het om te verander. En selfs al kry jy nie waarvoor jy gehoop het nie, sal jy steeds ’n stabieler en ’n meer tevrede individu wees.

Jou bereidwilligheid om aan jou eie probleme te werk, sal die sleutel tot die vind van persoonlike vrede wees, en daar is die potensiaal om daardie sukses in jou huwelik te behaal (www.marriagemissions.com) .

Vertel jou man van ‘die huis’

Sommige mans is blote Adams en besef nie dat hul reaksie jou so seermaak nie. Hierdie mans kan soms beter verstaan deur William se denkbeeldige huis te visualiseer. Probeer dit soos volg vir Manlief verduidelik.

Elke man het ’n denkbeeldige huis, en elke kamer in die huis verteenwoordig een van sy rolle. Daar’s ’n kamer vir sy werk, een vir gholf, een vir sy houtwerk, een vir sy kinders … en een vir sy vrou. Soos wat die dag verloop, besoek hy die verskillende kamers waar hy met die rol gekonfronteer word wat die kamer verteenwoordig. In die kamer waar hy werk, neem hy die rol van uitvoerende direkteur in, op ’n Saterdagoggend gaan hy gholfbaan toe en word die wedywerende vriend. By sy seun se sportdag is hy die toegewyde pa en saam met sy honde die liefdevolle baas.

Wanneer hy in een kamer is, word al die ander uitgeblokkeer, sodat hy sy onverdeelde aandag aan hierdie rol kan gee. Dit doen hy die beste as daar nie afleidings is nie, en hy hanteer hierdie situasie met al die energie en kreatiwiteit sodat hy die beste kan presteer in elke rol wat hy vertolk. As ’n man in die eggenootrol is, probeer hy aan sy vrou se behoeftes voldoen, en dit is ook die kamer waarheen hy gaan as hy ’n behoefte aan seks het.

“Wat vroue die meeste frustreer, is dat hulle tot slegs een kamer in hul mans se speel-speel huisingeperk word, in plaas van in elke kamer. Hulle wil met ander woorde in ’n mans se hele lewe geïntegreer word, en nie eenkant in die hoek geplaas word nie. Sonder sulke integrasie kan daar nie emosionele binding wees nie, geen eenwording van gees nie, geen gevoel van intimiteit nie, en, in baie gevalle, geen seks nie.

Sommige mans verstaan net nie hoe belangrik dit vir hul vroue is nie, en die oomblik as hulle die besluit neem om hul vroue in elke ‘kamer’ van die huis in te nooi, verander die huwelik handomkeer,” verduidelik William.

Die beleid van gesamentlike ooreenkoms

William gebruik ook die “beleid van gesamentlike ooreenkoms”. Dit beteken dat ’n paartjie nooit iets behoort te doen sonder ’n entoesiastiese ooreenkoms met mekaar nie. Dit help mans om hul vroue in ag te neem as hulle ’n besluit neem. Baie mans kla dat hul vrouens heeltemal sal oorneem as hulle hul vroue in elke kamer van hul denkbeeldige huis innooi, en dat dit hulle van al hul vrede en vryheid sal beroof.

Die beleid van gesamentlike ooreenkoms voorkom dat dit gebeur. Dit beteken dat die man en vrou albei entoesiasties moet wees, sonder dat een van hulle hul identiteit verloor of hulself vir slawerny beskikbaar stel. Die geheim is om een in doel en gees te word, en nie mekaar te oorheers of te beheer nie.

Vir paartjies wat reeds emosioneel gebind het, is dit ’n maklike beleid om te volg, maar emosioneel afsydige paartjies gaan dink dat dit ’n onmoontlike taak is! Hulle is daaraan gewoond om te doen wat hulle wil, sonder om veel ag te slaan op die uitwerking wat dit op die ander party het. So ’n paartjie moet egter net deurdruk. Namate die beleid geïnkorporeer word, voel so ’n paartjie al hoe meer dat die een vir die ander omgee en mettertyd raak die emosionele binding al fermer en die beleid al makliker om te volg.

Mans wat hierdie roete volg, dink meer deur die dag aan hul maats en bel hul maats as daar enige onsekerheid is. As mans hul vroue in ag neem, skep hulle ’n aanpasbare leefstyl, en dit help om begrip en emosionele binding, intimiteit en romantiese liefde daar te stel. Mans leer hoe om aan hul vroue se gevoelens te dink en in hul belangrikste, emosionele behoeftes te voorsien, meen William.

Jy kan soveel doen om jou maat spesiaal en veilig te laat voel. Doen moeite om hom gelukkig te maak en deel daaglikse lewenservaringe met hom. Kyk waarin hy belangstel en vra hom daaroor uit. Werk aan die romantiese sy van die verhouding – baie dinge kan in die slaapkamer begin! Prys en komplimenteer jou maat en vergewe hom vir die kere toe hy jou seergemaak het. Wees fisiek na aan hom en onthou om altyd saam pret te hê, en die stapel rekeninge  soms eenkant toe te skuif.

Miskien identifiseer jy met die emosioneel ywerige vrou waarna daar in die artikel verwys word, en praat en glimlag jy kopskuddend as jy hier lees. Miskien is jou situasie veel ernstiger. Onthou egter om nie toe te laat dat dit voortduur nie. Emosionele afsydigheid is ’n probleem wat jul huwelik dramaties kan affekteer en hoe ongelukkiger dit jou maak, hoe meer aandag vereis dit. Doen daarom moeite om jul probleem te hanteer, sodat jy nie een van daardie vroue word wat ‘geestelike wreedheid’ as rede in die skeihof hóéf aan te voer nie …

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!