Soveel huwelike misluk as gevolg van die verkeerde keuses, te min kennis en ‘n onvermoë om dit te versorg …

Huwelike verg toewyding, kommunikasie en bewondering. En net soos ‘n tuin moet ons ook ons huwelike voed. Ons moet ontslae raak van onkruid en die regte hoeveelhede water en sonskyn toedien. So nie, sal ons huwelike verwelk.

Jul verskille is eintlik seëninge..

Ja! In hul boek “The Marriage Garden”, skryf die outeurs H. Wallace Goddard en James P. Marshall dat die huwelik die ‘wet van die oes’ volg wat beteken dat slegs geduldige, wyse insette sal lei tot ‘n goeie oes, omdat mooi tuine nie net ‘n gevolg van gelukkige toeval is nie. Hulle glo dat mans en vroue soos meester-tuiniers is. ‘n Meester-tuinier is iemand wat die toestand van die tuin versigtig monitor en só die welstand daarvan verseker. “Verhoudings het net soveel versorging nodig as wat plante het”, meen die outers. Hulle voel egter dat die huwelik eerder “slim werk” as “harde werk” verg. Hulle glo dat ‘n vennootskap groei wanneer daar op die positiewe gefokus word. Hulle meen dat terwyl baie paartjies “kleiner, tuin-vareiteit irritasies het … is die gewaarborgde manier om die huwelik te versleg, deur eindeloos oor hierdie irritasies te praat.” Kyk na jul verskille as seëninge eerder as irritasies of groot bronne van konflik.

Promosie

Hoe kultiveer jy groen vingers?

‘n Mens staan nie een oggend op, besluit dat jy ‘n skou-tuin wil maak en val weg nie! Nee, jy leer by die mense ná aan jou en volg hul raad oor die ervaring wat hulle deur die jare met húl tuine opgedoen het. Jy win kennis in deur boeke te lees en met ander tuiniers en kwekery-eienaars te gesels en laastens gebruik jy jou eie instink. Dis dieselfde met die huwelik!

  1. Leer by die meesters. Gesels met jou ouers of mense wie se huwelike jy bewonder oor wat hulle deur die jare oor die huwelik geleer het. Luister na raad, maar moenie net op een bron staat maak nie (sif egter jou bronne wys en moet ook nie na die hele wêreld luister nie!)
  2. Win kennis in. Niemand is uit die staanspoor ‘n kenner nie. Nee, dit verg opleeswerk, naslaanwerk en ondersoek. Gaan vir voorhuwelikse berading, lees boeke en kyk videos wat jou kan leer hoe om dit reg te doen.
  3. Vertrou jou instink. Soms moet jy alles eenkant toe skuif wat almal jou vertel en waarlik jou eie instink volg. Hoekom dink jy groei jóú plantjie (huwelik) nie na wense nie? Almal sê dalk vol-son, terwyl jy in jou hart weet dat jou plantjie smag na skaduwee.

3 Maniere om jou tuin in stand te hou!

Met ‘n huwelik werk dit net soos met ‘n tuin. Wanneer alles op dreef is, kan jy nie net jou tuin los en hoop en vertrou dat dit prentjiemooi sal bly nie. Nee, jou huwelik het instandhouding nodig. Veral wanneer daar weerstoestande (omstandighede) heers wat nie noodwendig gunstig is nie. Só hou jy jou tuin in stand:

  1. Wys jou maat dankbaarheid (dien kunsmis toe): Dit begin by goeie maniere. Kan jy glo? Die ding is, deur goeie maniere te openbaar, laat jou maat menswaardig voel. Goeiemore, dankie, asseblief, en ‘ek is jammer’. Sê gereeld vir jou maat jy is lief vir hom/haar en dankie.
  2. Baklei regverdig (beskerm jou saailinge). Storms is een van die grootste dinge wat jou tuin kan verniel, so voorkom hulle sover moontlik. Veg vir ‘n oplossing – nie om jou maat seer te maak nie.
  3. Vergewe en vergeet (trek die onkruid uit). Jy sal jou maat móét vergewe in die een of ander stadium. Dit is ‘n gegewe! Almal sondig en niemand is perfek nie. So, soms moet jy deel hoe seer jou maat se sonde jou gemaak het, maar dan moet jy vergewe. En vergeet. As sondes nie begrawe en vergeet word nie, sal dit weldrae jou huwelik vernietig, net soos onkruid wat alles in sy pad verswelg.

Die wins van  GEE

As jy ‘n lower tuin wil he moet jy géé. Jy moet jou tyd, jou toewyding, jou liefde en jou versorging gee. Jy moet gee wat jou tuin nodig het. Water, kunsmis, rypbeskerming … En dieselfde geld vir die huwelik. Wees vrygewig: Met jou liefde, met jou komplimente, met seks.

Spasieer jul intimiteit reg …

Jy wil nie gate in jou tuin hê nie en daarom plant jy jou plantjies naby genoeg aan mekaar om digte bedekking te gee, maar ver genoeg om ruimte vir behoorlike groei toe te laat. Intimiteit werk dieselfde: Jy wil genoeg hiervan hê sodat jy nie ‘kaal’ voel nie, maar ook nie te veel sodat jy versmoor voel nie. Só doen jy dit:

  1. Smoor die elektronika. Ja, diep en betekenisvolle emosionele intimiteit kan slegs plaasvind as daar genoeg menslike interaksie is. As jy konstant op jou selfoon is, besig om teksboodskappe en eposse te stuur, sal dit nie gebeur nie. Soms is die enigste weg tot emosionele intimiteit om die rekenaar, televisie, videospeletjies en selfoon af te skakel, sodat jy en jou maat kan praat, deel en mekaar in die oë kan kyk.

WENK: Hou ‘n mandjie by die deur waarin jy jou selfoon (op ‘silent’) los vir ‘n uur na jy by die huis gekom het, sodat jy en jou maat kan gesels.

  1. Vermeerder jul tyd saam. Vir emosionele intimiteit om te heers, moet jy en jou maat genoeg kwaliteittyd saam deurbring. Hoe doen julle dit? Doen dinge saam – ook die minder lekker dinge – soos om skottelgoed te was en inkopies te doen. Hou een keer per week ‘n ‘date night’, middagete een of twee keer per week, of stap saam.

WENK: Bestee 30 minute elke aand om ononderbroke tyd met die kinders deur te bring.

  1. Skep ‘n pret-lysie. Om tyd te spandeer met dinge wat julle geniet, kan jul emosionele intimiteit versterk. Dink aan dinge wat julle gedoen het toe julle pasgetroud was. Plaas dit op jul pret-lysie. Was dit wynproe? Branderplankry? Het julle dit geniet om saam vreesaanjaende flieks te kyk?

WENK: Maak ‘n pret-lysie. Voeg al daardie items op ‘n lysie en maak seker julle doen ten minste een van daardie dinge op die lysie, ten minste een keer per maand.

Betrek die Groot Tuinier

Laat die Groot Tuinier (God) jou huwelik versorg en kultiveer deur Hom toe te laat om dit te plant, volgens Efesiers 5:25 – 33. Kyk na die belangrikheid van die huwelik as God se plan. Hy is ‘n wonderlike landskap-argitek! Hy het besluit hoe jou tuin uitgelê moet word, omdat hy die groter prentjie verstaan. Hy versorg ons tuine deur Sy genade in ons lewens toe te voeg.

Pluk uit die onkruid

Onvergewensgesindhheid lei tot patrone van ongesonde gedrag: Bitterheid, verwyte en onopgeloste konflik is alles vorme van onkruid. As jy ongeliefd voel, sal jy jou maat nie respekteer nie. En as jou maat nie gerespekteerd voel nie, sal hy sy liefde terughou. Dit is ‘n slegte onkruid-siklus en as dit nie wortel-en-tak uitgesmoor word nie, sal jou liefde nooit die heerlikheid van vergifnis, genade en doeltreffende kommunikasie smaak nie.

So, wat het jou huwelik nodig? In ‘n artikel op www.themarriageandfamilyclinic.com, skryf Aaron Anderson, terapeut en direkteur van The Marriage and Family Clinic in Denver, dat jy ‘n paar dinge nodig het vir jou huwelik om te groei:

  1. Goeie grond: Jy moet die regte tipe mens wees om ‘n huwelik te laat werk. Jy moet volwasse genoeg wees om te gee wat nodig is in ‘n verhouding en gereed wees vir hierdie lewenslange toewyding voor jy die stap neem.
  2. Die regte temperatuur. Soms is dinge net buite beheer (soos die weer!) Soms is daar ryp wat al jou plantjies uitwis, soos ‘n terminale siekte of spoke uit die verlede … Dit beteken nie dat jou tuin vernietig is nie, maar dat jy moet red wat jy kan en dalk van voor af (met dieselfde maat) moet begin, sodat dit beter as ooit groei.
  3. Snoeiwerk. Jy moet dooie takke afsny om plek te maak vir nuwe lewe. Net so moet jy die dooie takke in jou huwelik afsny – en dit is moeilik, want ons mense kweek graag gewoontes (slegte gewoontes ingesluit!) Kyk na alles wat die lewe uit jou smoor en sny dit af.
  4. Oestyd beteken nie dat jy terugsit en die vrugte van jou werk geniet nie. Oestyd verg ook harde werk. Jy gooi nie ‘n perfek ryp tamatie heel onder in die mandjie nie, doen jy?

Huwelike, soos tuine, neem tyd om te groei. Maar die oes is ryk vir diégene wat geduldig en versigtig na die grond omsien – Darlene Schacht

www.beliefnet.com; www.thegospelcoalition.org; www.verywellmind.com; www.christianitytoday.com; www.themarriageandfamilyclinic.com

Artikel deur Annelize Steyn

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!