Jy is verlief op haar en alles gaan só goed in julle verhouding. Alles is perfek en soos ’n feëverhaal – behalwe vir een netelige sakie . . . sy het kinders van haar eie!

Promosie

Soos die pad na ’n man se hart deur sy maag is, só is die pad na ’n vrou se hart deur haar kinders en jy sit alles in om die klein kinders se guns te wen! Jy dra geskenkies aan, vat hulle dieretuin toe, lees stories vir hulle voor hulle gaan slaap – en dit werk baie goed – hulle is mal oor jou en vra vir hul ma of jy hulle nuwe pappa is . . . Dan besluit julle om te trou. Jy het nog nie kinders van jou eie nie en skielik is jy ’n pappa van twee woelige kleintjies. Wat is die slaggate, en hoe kan julle dit vermy of bestuur?

As stiefpa mag jy ervaar dat konflik ontstaan oor:

  • Verskillende style van ouerwees, dissipline en elke ouer se unieke verhouding met hulle eie biologiese kind. As kitspa mag jy maklik voel dat jou stiefkind nie jou outoriteit aanvaar nie en jou vrou die kinders beskerm.
  • Stiefboeties en -sussies het hul eie unieke konflikte omdat hulle maklik bang is die ander een word voorgetrek.
  • Jy mag afgeskeep en/of gebruik voel, of dat jy swak ondersteun word.
  • Die rol wat jou vrou se eksman nog in haar kinders (en dan noodwendig ook in haar) lewe speel.
  • Kuier van die kinders by hulle biologiese pa. As die kinders elke keer weer na ’n kuier moeilik aanpas by die huis of antagonisties teenoor jou optree wanneer hulle by hul pa gaan kuier het, maak dit dinge baie moeilik en jou geduld mag uitgedaag word.
  • Jy en jou stiefkinders mag dalk net regtig nie baie van mekaar hou nie! Jou rol in hulle lewens het tog begin met jou verhouding met hulle ma en nie noodwendig met hulle nie.
  • Jou stiefkinders mag baie sukkel met die aanpassing na hul biologiese ouers se egskeiding, konflikte wat daar nog tussen hulle ouers aan die gang is en hulle verwardheid oor lojaliteit teenoor jou. (Dis baie menslik vir hulle om verwardheid te ervaar, al is hulle baie erg oor jou. Jy simboliseer iets in hul ma se lewe wat verseker beteken dat hul ouers nie weer by mekaar kan uitkom nie.)
  • Jy mag vreeslik hard probeer en as jou pogings nie dadelik hulle harte wen nie, mag jy baie ontmoedig voel.

Wenke vir ’n beter kans tot sukses in ’n hersaamgestelde gesin:

Promosie
  • Herinner jouself julle is almal net mense – werk daaraan dat almal realistiese verwagtinge moet probeer hê. Moenie verwag dat jy of enige een van die gesin perfek moet wees nie. Lees oor saamgestelde gesinne, asook kinderontwikkeling.
  • Praat baie met jou vrou oor hoe jy voel, en dink en luister na hoe sy voel. Waak daarteen om verdedigend te raak of te kritiseer. Baie luister sonder om te verdedig, aan te val of te kritiseer, is noodsaaklik. Julle moet vir mekaar kan sê: “Hierdie is vir my moeilik” of “Ek moet nog leer hoe om dít te doen”.
  • Lees soveel as moontlik oor hoe saamgestelde gesinne beter kan funksioneer en oor kinderontwikkeling (sodat jy weet wat van elke ouderdom kind verwag kan word en wat nie).
  • Aanvaar dat almal deur verliese van hoop (op ’n gelukkige primêre gesin wat vernietig is deur die kinders se ouers se egskeiding) gaan. Hulle ervaar dus seer, verwardheid en groot aanpassings, wat verband hou met emosionele trauma wat van lankal af saamkom.
  • Probeer eerder om die kinders se “oom” te wees as hulle dissiplineerder. Dit laat hulle ’n veilige band met jou ontwikkel.
  • Probeer doelbewus met elke kind as individu ’n band vorm deur regtig in hulle as individue belang te stel. Maak beurte met elke kind alleen (wanneer hulle al veilig voel saam met jou alleen).
  • Doen ook prettige dinge saam. Vermy dat jy net die kind “leer om die regte dinge te doen”.
  • Gee jouself kans om saam met hulle te groei en te leer hoe dinge vir julle kan werk. Moenie bang wees om vir ’n kind te sê: “Ek dink hierdie ding wat ek laas keer gedoen het, het dalk nie so goed gewerk nie. Dink jy ons kan dalk ’n ander manier probeer sodat dit vir ons albei lekkerder/beter uitwerk?”, en dan probeer jy maar net weer.

Moenie moed opgee nie! Kinders is baie aanpasbaar en hulle wil eintlik baie graag die grootmense in hul lewens tevrede stel.

 

Deur Dr Wilmé Steenekamp