Het jy enige praktiese dilemmas in jou huwelik? In dié artikel gee intiem oplossings vir daardie klein uitdagings wat ’n huwelik kan knou! Ons wys jou hoe om geld, tyd, vrede, orde en heelwat meer vir jou huwelik te wen.
Soms lyk die probleem emosioneel en reusagtig, maar iewers skuil ’n baie eenvoudige en praktiese oplossing. Sandra en Stefan kon byvoorbeeld saans tot slaaptyd lank stry omdat hy wou sit en televisie kyk terwyl sy skottelgoed gewas het. Baie gou het dit in ’n emosionele heen-en-weer rondslinger van verwyte ontaard: “Jy help my nóóit in die huis nie en dit voel asof jy my sien as ’n huishulp en niks meer nie,” het sy gehuil. Waarop Stefan sou terugbyt: “Ek wens jy wou minder soos ’n huishulp optree en meer soos ’n vróú in die slaapkamer…”
Hul eerste beradingsessie was reeds bespreek, toe ’n vriendin ’n praktiese oplossing voorstel. Aangesien hierdie rusies altyd saans na ete begin het, het sy hulle aangeraai: “Koop ’n skottelgoedwasmasjien. In ons huis is dit ’n staande reëling – Michael pak die skottelgoed in die masjien saans na ete (dit neem hom vyf minute) en dan kan ek lekker ontspan ná ek voor die stoof gestaan het. Die volgende oggend is dit my beurt om die skottelgoed uit te pak.”
Sandra en Stefan het die raad ter harte geneem en dit het baie spanning in hul huwelik uitgeskakel! Omdat daar reeds skade aan die huwelik aangerig is, het hulle nie hul beradingsessies gekanselleer nie, maar dié praktiese stap het hulle gehelp om in die regte rigting te beweeg.
SÓ WEN JY GELD VIR JOU HUWELIK!
“Ons gunsteling vakansieplek is in die Kaap (ons woon in Gauteng). Dis spesiaal, want dis waar ons ons wittebrood gehou het en waar albei ons kinders verwek is! Maar met dié dat finansies deesdae druk, sukkel ons om vier vliegkaartjies te bekostig. My man wil ry, maar met twee woelige kinders in die kar is dit nie vir my ’n opsie nie.”
OPLOSSING:
Teken in op plaaslike lugrederye se nuusbriewe. Op dié manier is jy een van die eerstes wat uitvind van uitverkopings op vliegkaartjies. Maak ook gerus gebruik van www.travelstart.co.za. Dié webtuiste gee jou die geleentheid om die vlugpryse van verskillende rederye met mekaar te vergelyk en dan sommer ook te bespreek. Hou in gedagte dat lugrederye se pryse gewoonlik dramaties begin styg sowat drie tot vier weke voor vertrek, so maak seker julle bespreek vroegtydig kaartjies. Vir diegene wat internasionaal wil vlieg, kyk na vlugte met stop-overs. Dis aansienlik goedkoper (maar vermy vlugte wat langer as tien ure oorstaan, anders sal julle doodmoeg wees teen die tyd wat julle anderkant aankom en ’n dag se reis verloor net om te “herstel”).
SÓ WEN JY TYD VIR JOU HUWELIK
“Ons het letterlik nooit tyd vir mekaar nie. Wanneer ons al ons ander verpligtinge nagekom het teenoor almal, is dit negeuur in die aand en al wat ons dan wil doen, is om te slaap! Hoe wen ons hierdie tydmonster?”
OPLOSSING:
Deur drie eenvoudige, doeltreffende reëls in jou huwelik toe te pas. Ons almal weet dit, maar implementeer dit selde. Doen dus van vandag af die volgende:
- Stel die wekker vir 30 minute vroeër. In die begin gaan jy dalk sukkel om jou oë oop te kry, maar deur die dag te begin in mekaar se geselskap, waar julle rustig kan gesels, weer in voeling kan kom met mekaar en net ’n bietjie kan cuddle, kan wondere verrig vir jul huwelik.
- Sê “nee” vir ander en “ja” vir mekaar. As julle sukkel om uitnodigings van die hand te wys, oefen om “nee” te sê. Maak ’n punt daarvan om minstens een naweek in ’n maand “nee dankie” te sê vir ander en “ja, asseblief” te sê vir mekaar.
- Teken dan die afsprake met mekaar in jul dagboeke aan. Merk dit sommer ook as belangrik en maak daarvan ’n beginsel om nooit te kanselleer nie!
SÓ WEN JY VREDE IN JOU HUWELIK
“Ek het grootgeword met die idee van uiteet as ’n groot bederf. Toe ek my eie geld begin verdien het, het ek en my vriendinne graag gaan uiteet. Dis lekker sosiaal en ek geniet die atmosfeer en die feit dat ek nie self kos hoef te maak nie! My man sien dit glad nie so nie en weier om my uit te neem vir ete. Hy voel dis geldmors… en ek voel afgeskeep.”
OPLOSSING:
As trouble in paradise veroorsaak word deur rusies rondom maaltye en geldbesteding, maak ’n plan wat sin maak. Bespaar geld deur een keer per maand die koskas te stroop! Dit moet ’n instelling word en moontlik die laaste week van die maand gebeur. Die idee is om glad nie inkopies te doen in daardie laaste week nie, maar kreatief te raak met wat oor is in die koskas, yskas en vrieskas. Daardie beesvleis wat al maande lank onder in die vrieskas lê, die blikkie chickpeas in die kas. Daardie armsalige enkele tamatie, botterskorsie en halwe wortel. Ons almal het blikkies en pakkies in die huis en selfs vars goed wat later uitgegooi word omdat dit verval het. Maak dit julle missie om die kas skoon te eet sonder om by te koop – manlief moet help dink! Só kan julle daardie week se inkopiegeld spaar en dít gebruik vir ’n lekker uiteet teen die einde van die week (goodfinancialcents.com, likealocalguide.com).
SÓ WEN JY ORDE IN JOU HUWELIK
“Ek en my man het soveel drome – dinge wat ons wil sien en wil doen, maar voor ons ons oë uitvee, is nog vyf jaar verby sonder dat ons by enige daarvan uitgekom het. Is daar ’n manier waarop ons dit kan struktureer sodat die lewe nie by ons verbygaan nie?”
OPLOSSING:
Ja, beslis. Stel langtermyn doelwitte. Maak ’n afspraak met manlief, kry ’n notaboekie en ’n pen. Skryf jul visie neer – waar sien julle julself oor 20, 30 of 50 jaar? Dit sal julle help om jul langtermyn doelwitte vas te stel. Lys hulle. Kies nou een daarvan wat julle beoog om binne die volgende jaar te bereik. Gestel byvoorbeeld dit is om deur Afrika te reis met ’n 4×4. Skryf dit groot uit, laat lamineer dit en plak dit iewers waar julle dit elke dag kan sien (soos teen die yskas). Kies nou ook een mediumtermyn doelwit wat julle in die volgende paar maande kan bereik wat julle nader aan jul langtermyn doelwit gaan bring (om byvoorbeeld die regte toerusting vir jul reis bymekaar te maak). Besluit nou wat kan julle hierdie week doen (gaan kyk na potensiële voertuie en toerusting), en wat kan julle vandag nog doen (doen aanlyn navorsing en vergelyk pryse). Kies een ding op ’n keer, fokus daarop, laat dit gebeur – merk dit dan met ’n regmerkie en kies die volgende. ’n Goeie idee is om elkeen ’n afsonderlike bucket list op te stel, sowel as ’n gesamentlike bucket list vir julle (as paartjie) en dan ook een vir julle as gesin.
PRAKTIESE INSPIRASIE!
Jou praktiese liefdesritueel-idee: Maak van Saterdagoggende ’n geleentheid en begin só die naweek op ’n positiewe noot saam met jou maat. Kook saam ontbyt. Hy kan byvoorbeeld die koffie maak, terwyl jy tafel dek. Hy kan die roosterbrood maak en jy die eiers. Speel mooi musiek en geniet mekaar se volle aandag in die oomblik.
JOU PRAKTIESE ONTHOU-QUOTE:
“Burn the candles, use the nice sheets, wear the fancy lingerie . Don’t save it for a special occasion, today is special.”
Deur Annelize Steyn