Jy beplan ’n romantiese aand saam met manlief en deel van die voorspel is ’n heerlike tuisgemaakte ete by kerslig. Onthou egter om jou spyskaart fyn te beplan, want die verkeerde koskeuses kan ’n demper op jul seksplannetjies plaas!
- Knoffel, uie, vis en kos vol speserye soos Mexikaanse of Spaanse kos. Jy weet dit al teen dié tyd, maar hierdie bestanddele is nie genadig op die asem nie en die asem is wat ons nodig het vir ’n lekker vrysessie.
- Deel van jou verleidingspel is waarskynlik ook ’n mooi nagrokkie wat jou magie ontbloot of deurskyn oor die middellyf. Dus is een van die groot dinge wat jy ten alle koste wil vermy ’n pensie! Vermy dus soutskyfies, brood, pizza, kaas en pasta!
- Die laaste ding waarmee jy wil sit voor ’n sessie bedpret is ongemaklikheid en maagpyn as gevolg van gasse in jou maag! Vermy dus bone, peulgroente, Brusselse spruite, kool, broccoli en die meeste groentesoorte.
- Gaskoeldrank is nog iets om te vermy voor bedtyd. Die gasse kan ontydige windopbreek-oomblikke meebring – beslis nie baie romanties nie!
- Ons Suid-Afrikaners geniet ons rooivleis, maar min dinge is so onaantreklik soos ’n stukkie vleis tussen jou tande! Bly dus eerder by hoender of maak seker jy flos!
- Wees versigtig vir ’n espresso! Mens besef dikwels nie wat jou verdraagsaamheidsvlakke ten opsigte van kafeïen is nie, tot iemand anders dit vir jou uitwys. Kafeïen kan jou kop in vierde rat sit en wanneer die high van die stimulant uitgewerk het, val jy hárd – wat jou moeg en buierig kan laat voel!
- Vetterige, sout pizza is die laaste ding wat jy in jou maag wil stop voor seks. Pizza is nie juis ’n “ligte maaltyd” nie. Boonop het die laag tamatiesous hoë suurvlakke wat ’n katalisator is vir sooibrand (veral saam met die hoëvet kaas bo-op!).
- Sekere kossoorte kan ’n mens moeg en lui laat voel. Dit is gewoonlik ryk kosse en poeding. Hou dus jou spyskaart vir die aand lig en gesond en julle behoort die vrugte daarvan te pluk!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: foxnews.com; cosmopolitan.com; voices.yahoo.com