Liefde is ’n universele taal en tog bewys mense hul liefde aan mekaar op derduisende verskillende maniere. Sommige gebruike is fassinerend, ander is verregaande. By sommige vreemde kulture kan ons leer wat om te doen en by ander nie juis nie.

’n Paar dekades gelede was die “opsitkers” nog ’n stoere gebruik onder Afrikaners. Ouers sou ’n opsitkers laat brand as ’n kêrel kom vry het, en daar is gepraat van “sout op die opsitkers gooi” sodat dit langer kon brand en ’n paartjie gevolglik dus langer kon vry.

Vir die Koreane sal die opsitkers egter so vreemd klink soos wat húl maandelikse Valentynsdag klink. Ja, Koreane vier hul liefde die 14de van elke maand.

En in Rusland word Vrouedag op 8 Maart gevier, waartydens vroue behoorlik bederf word met blomme, sjokolade en dies meer . . . én hulle kan terugsit terwyl die Adams die huishoudelike take op dié dag oorneem!

In Japan moet vroue op Valentynsdag vir hul mans sjokolade koop. Maar wag – ’n maand later, op White Day, moet die manne weer húl liefde bewys – deur twee keer soveel op hul Evas te bestee! As dit nie ’n goeie voorbeeld van regverdige rolverdeling is nie, weet ons nie wat ís nie . . .

’n Gewigtige scenario

In Sonkarjävi, Finland, is dit die gebruik om een keer per jaar ’n sporttoernooi te hou waar ’n man se vrou (of meisie) oor sy skouer gegooi word en deelnemers dan verskeie uitdagings moet voltooi (met die dame wat steeds oor sy skouer hang). Dis blykbaar ’n groot eer om dié toernooi te wen en jy gaan huis toe met bier só gewigtig soos jou vrou!

Wat ons hieruit kan leer? Soms moet jy swaar dra in die huwelik om die soet te kan proe!

Neem ’n groot hap!

In Rusland word ’n soet brood genaamd karavaya deur ’n pasgetroude paartjie gedeel. Die brood word versier met koring vir voorspoed en skakels vir getrouheid. Die persoon wat die grootste hap vat (sonder om hul hande te gebruik), word beskou as die hoof van die huis!

Wat ons hieruit kan leer? Daar is altyd tyd vir ’n tikkie pret. Ons weet tog wie altyd die hoof van die huis is. Én wie die nek is wat daardie hoof draai . . .

Walvis-lobola

Gedink die lobola-eise in Suid-Afrika is ’n bietjie dik vir ’n daalder? Wel, wees dankbaar dat Fiji nie jou tuisland is nie! Hier moet ’n voornemende jongman sy skoonpa van ’n walvistand voorsien (ook genoem ’n tabua) wanneer hy om sy dogter se hand vra! Nou ja, dit herinner aan die tipiese sprokies waar jongmanne aan lewensbedreigende uitdagings moet deelneem om die prinses se hand te wen . . . eintlik is dit nogal romanties!

Wat ons hieruit kan leer? Om te veg vir ’n huwelik, is nie so outyds nie.

Sluit jou liefde op

In Rome het mense begin om liefdeslotte aan Ponte Milvio vas te maak (waarna die sleutels in die rivier gegooi word as teken van ewige liefde). Blykbaar is dié gebruik geïnspireer deur Federico Moccia se boek I Want You. Dié gebruik het soos ’n veldbrand versprei en selfs Pretoria het sy eie liefdesbrug in Magnoliadal (’n inisiatief deur INTIEM) waar jy en jou maat jul liefdeslot kan vasmaak.

Wat ons hieruit kan leer? Bewys jou liefde met behulp van simbole! Dis tasbare herinneringe aan goeie tye en dit kan help om jou deur die swaar tye te dra.

Jou lot in hoenderlewer?

Die Daur-mense van China het ’n vreemde gebruik. As ’n paartjie verloof raak, moet hulle saam ’n hoender dissekteer! (Ja, ons kan ook aan meer romantiese date nights dink as dít!) As die hoenderlewer gesond is, dui dit blykbaar op ’n goeie toekoms. Dit beteken dat die paartjie mag voortgaan met hul trouplanne – só nie, moet hulle aanhou soek vir ’n profetiese lewer!

Wat ons hieruit kan leer? Ja, elke huwelik het seën nodig om te kan floreer, maar dis beslis nie die tipe seën wat jy in ’n hoender se ingewande gaan kry nie.

’n Tranetrekkery!

Onder die Tujia-mense van China is dit gebruiklik vir die voornemende bruid om vanaf ’n maand voor die troue elke dag ’n uur lank te huil! ’n Paar dae later val haar ma in met die gehuilery en nog later begin al die vroue in die familie huil. Hoewel dit vir ons na ’n gesanik klink wat ietwat straf op die ore kan wees, klink die verskillende geluide vir hulle soos ’n lied!

Wat ons hieruit kan leer? Die huwelik het wel ’n paar trane, maar jy moet daarna streef om méér trane van vreugde te stort as trane van hartseer.

Die liefdeslepel

In Wallis gee ’n man aan sy meisie of vrou ’n uitgekerfte houtlepel as simbool dat hy altyd aan haar sal voorsien. As sy nie dieselfde voel nie, gee sy die houtlepel terug. Só nie, moet sy dit vir ’n paar dae lank om haar nek dra!

Wat ons hieruit kan leer? Ons is mal oor hierdie gebruik! Weereens word die liefde gesimboliseer, die rol van die man as hoof en voorsiener van die huis word bevestig sonder dat dit op sy vrou afgedwing word.

 Groter, beter, botter!

In Mauritius hoef jy geensins te dieet voor die groot dag nie. Om die waarheid te sê, jy moet die ponde pak! Hier is ’n groot vrou vir ’n man ’n statussimbool wat wys dat hy (in oorvloed) aan sy gesin kan voorsien! Ongelukkig het dit ’n baie ongesonde gebruik geword. Vroue word gedwing om te eet en ly gevolglik aan gesondheidsrisiko’s.

Wat ons hieruit kan leer? Hoewel dit lekker klink om ’n bietjie te ontspan oor die kilojoules in die troukoek, is dit tog maar wys om ’n gesonde leefstyl te handhaaf sodat jy en jou maat lank en gelukkig saam kan leef!

Pronk soos ’n papegaai

In die oerwoude van Papua New Guinea verf die stamhoofde hul lywe en trek hulle kleurvolle kostuums aan om potensiële minnaars te beïndruk. Hulle dans en sing behoorlik soos voëls wat ’n paringsdans doen en dit is ’n veelkleurige feestelikheid!

Wat ons hieruit kan leer? Hofmakery is beslis nie uitgedien nie. Jy moet werk vir haar guns . . . en sy vir joune!

Moenie lag nie, moenie!

Jou troudag is veronderstel om ’n feestelike geleentheid te wees, nie waar nie? Wel, in die Kongo moet jy jou gelukkigheid vir jouself hou. Verloofde pare mag nie glimlag nie – nie een keer sedert die seremonie regdeur die onthaal nie. Want sou hulle dit doen, sou dit kwansuis wys hulle is nie ernstig oor die huwelik nie.

Wat ons hieruit kan leer? Terwyl ons nie so ver sal gaan soos om die paartjie te verban om te glimlag nie, is dit ’n goeie gebruik om klem te lê op die erns van hierdie heilige instelling – iets waaraan elke paartjie op hul troudag herinner behoort te word.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.lifebuzz.com, www.brides.com, www.oprahshow.com.