Almal is rats en gereed vir 2020 se uitdagings en in Februarie is ons nog vuur-en-vlam, kiertsregop en vol ywer vir die jaar wat voorlê. Maar voel dit asof jou huwelik nog sukkel om sand uit sy oë te vryf?
Toe jy en jou maat getroud is, was die liefde soos ‘n jong drakie wat die wêreld vol gehardloop het, agter bome weggekruip en in plasse gebons het! Nou is die draak groter en hy is, wel … vas aan die slaap. Ons vertel jou hoe om om die slapende ondier weer wakker te kielie.
4 BLOU MAANDAG wenke vir jou maand:
- Elke vuur het suurstof nodig en ‘n draak het spasie nodig om te beweeg! Wat ons eintlik wil sê, is dat vir jou huwelik om weer vlam te vat, jy soms bietjie van ‘n afstand af moet blaas. Bestee tyd saam met mense wat ‘n positiewe invloed op jou lewe het, dinge wat jou siel voed en kom saans terug na jou maat toe met ‘n emosioneel vol tenk. So goed soos wat nabyheid vir jou huwelik is, so goed is ruimte ook soms.
- Terg die draak. ‘n Passievolle huwelik behels ‘n fyn balans tussen dít wat jy wys en dít wat jy wegsteek. Nee, ons praat nie van geheime nie, maar van daardie ragfyn bra waarvan die kant net effens uitloer, van daardie sweempie onafhanklikheid. Misterie en raaisels is goed. Intimiteit beteken nie dat jy elke stukkie detail van jouself moet deel nie.
- Prioritiseer passie. Solank jy die draak ignoreer, gáán hy slaap. Jou maat is jou beste vriend, mede-ouer, minnaar, moontlik jou sakevennoot ensomeer. Hoe meer rolle, hoe meer word die aandag tussen daardie rolle verdeel, in plaas daarvan om te fokus op dié van minnaar. Onthou om, ongeag al die rolle wat jou maat vervul, hom/haar as jou minnaar te hanteer, eerder as jou huismaat.
- Raak kreatief met selfondersoek. Jy kan slegs ‘n goeie minnaar wees as jy self passievol voel. Werk aan jou sensuele self. As jy passievol wil wees, moet jy passievol vóél. Wat maak jou opgewonde? Wat laat jou lewendig voel? Dit is daardie innerlike vlam wat jou onweerstaanbaar maak.
4 Firelighters vir gesprekke met jou maat, dié maand:
- Is gesprekke met ons ekse okay? En as dit is, wat is die grense wat jou gemaklik sal laat voel?
- Hoeveel van ons huwelik mag ons met ander mense (‘n ma, ‘n sussie of ‘n beste vriend) bespreek en watter onderwerpe is off limits?
- Is dit nodig dat ons toegang het tot mekaar se sosiale netwerke en dat ons die wagwoorde op mekaar se toestelle ken?
- Hoeveel seks is “genoeg seks” in jou oë?
Witwarm wenk vir die maand:
Beproef seks as ‘n pynstiller. Het jy ‘n hoofpyn? Maak die gout jou klaar? Spring in die kooi. Orgasme stel endorfiene vry, wat natuurlike pynstillers is. Dit stel ook oksitosien vry, wat jou en jou maat nader aan mekaar en gelukkiger laat voel. Die tipiese vroulike orgasme hou sowat 25 sekondes, maar die voelgoed-hormone bruis dadelik deur jou lyf. Studies het bewys dat seks jou immuunstelsel ‘n hupstoot kan gee.
‘n Bucket list plan vir jou Februarie-date night…
Beplan ‘n deurnag-pajamapartytjie! Wanneer laas het jy en manlief gedeurnag? Onthou jy hoe julle, toe julle net begin uitgaan het, tot in die vroeë oggend-ure op die telefoon kon klets? Of hoe julle saam, buite die studente kuierplek, uitgehang het tot sonsopkoms, net omdat nie een van julle terug wou gaan koshuis toe nie en elke oomblik by mekaar wou wees? Beplan ‘n deurnag wat ‘n fliek (nie net flieks die heel nag nie), musiek, kuier, eet en speletjies insluit. Gaan Saterdagoggend vroeg winkels toe en gaan doen saam inkopies vir jul deurnag. ‘n Bordspeletjie of ‘n pak kaarte, springmielies, ‘n multivitamien met ‘n energie-booster of ‘n energiedrankie, ‘n goeie bottel wyn of drie, sjokolade, nuwe pajamas ensomeer. Gaan laai die kinders af, neem ‘n lekker lang middagslapie en maak gereed vir jul 12-uur lange pajamapartytjie!
Jou Februarie-inspirasie
“Kettings hou nie ‘n huwelik bymekaar nie. Dit is draadjies, honderde fyn draadjies wat mense deur die jare aanmekaargestik het.”- Simone Signoret
Dié maand se daaglikse gewoonte: Vra waarvoor jy nodig het
“As hy my werklik liefgehad het, sou hy geweet het wat ek nodig het.” Dis die domste woorde ooit! Hoe moet jou maat weet as jy nie vir hom/haar sê wat jy nodig het nie? Jou maat kan nie gedagtes lees nie. Julle het verskillende gedagtes, verwagtinge en ervaringe. Gesonde huweliksmaats vermy aannames soos die pes en maak daarvan ‘n gewoonte om mekaar te vra wat die ander een nodig het, en eerlik op daardie vraag te antwoord. Begin vandag om hierdie goeie gewoonte te kweek. Praat met jou maat oor jou begeertes.
Artikel deur Annelize Steyn
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!