Dit klink idillies en die media skets ’n romantiese prentjie van ma-wees. Een waar jy met ’n baba aan jou bors en ’n tevrede glimlag sit, terwyl manlief Jungle Juice aandra en julle in bewondering na die nuwe mensie in jul lewens staar . . .
Ja, dit ís hoe dit is. Soms. Daardie oomblikke is egter déél van die rit op die spoedtrein wat ons ouerskap noem. Meestal is jy moeg en is daar nie tyd om asem te skep nie. Die tamheid lei tot irritasie en frustrasie.
Jy het nie ’n partner in crime nie, want hoewel jy steeds met kraamverlof is, moet manlief terug werk toe. Moontlik is borsvoeding ’n nagmerrie, koliek is deel van jou pakkie en om daardie laaste kilo’s af te skud, is toe nou nie so maklik soos wat Gwyneth Paltrow dit laat klink het nie.
Wanneer ouerskap ’n groter uitdaging is as wat jy gedink het, kan dit baie spanning in jou huwelik veroorsaak. Daarom is dit belangrik om te luister wanneer kenners waarsku dat ’n baba beslis nie huweliksprobleme kan oplos nie, maar waarborg om onderliggende probleme na die oppervlak te bring of selfs huidige probleme te beklemtoon.
In die artikel “Couples in the trenches” op parents.com skryf Pamela Stock: “Om die sprong van paartjie-wees tot by baba-maak-drie te maak, is opwindend en wonderlik. Dit is ook uitputtend, hinderlik en kommerwekkend – ’n kombinasie wat toksies kan wees vir die romantiese verhouding wat in die eerste plek van julle ouers gemaak het.”
Dus, vir ’n huwelik om baba-gereed te wees, moet soveel moontlik probleme uitgestryk wees en ’n paartjie se huwelik moet gesond wees. Maar – en hier is die vangplek – jou huwelik kan die toonbeeld van perfeksie wees en stééds onder die teenwoordigheid van ’n nuwe lewe in die huis ly. Om die waarheid te sê, soms is ’n nuwe ma só verlief op haar baba dat sy skoon van manlief vergeet!
Vir Shanie* het die konflik reeds in die hospitaal begin ná sy haar eerste baba gehad het. Sy was uitgeput en op haar senuwees, en het die familie gevra om haar en haar man die eerste twee dae te gun om aan mekaar en hul nuwe baba gewoond te raak voor hulle kom besoek aflê. Maar Baba was skaars twee ure oud toe haar hele skoonfamilie luidkeels gedurende besoektyd in haar kamer ingestorm het (terwyl sy besig was om te borsvoed).
Sy het op haar tande gebyt, maar haar skoonouers het hulle ingewag (en hulself reeds tuisgemaak in die gastekamer) toe sy en haar man vir die eerste keer by die huis aankom met hul nuweling. Shanie was woedend en het van Gert* verwag om sy ouers te vra om hulle hul privaatheid te gun, maar hy het weer gevoel sy ouers wil net help en het besluit om tjoepstil te bly.
Familie, oupas en oumas is maar een van die aspekte wat nuwe probleme kan ontketen na die baba gearriveer het. As ’n paartjie gelukkig is, is daar vier grootouers wat elk ’n groot rol in die nuwe baba se lewe speel. Konflik kan ontstaan wanneer hulle baklei vir baba-oppas-regte, of weier om enigsins te help wanneer hul hulp benodig word! Ook wanneer hulle kritiek lewer of (ongevraagde) raad wil bied oor kinderopvoeding.
Die kwessie van kinderopvoeding kan ook spanning tussen julle twee veroorsaak. (Hy het iewers gelees ’n fopspeen is sleg vir jou baba se tande, jý sal enigiets inspan vir ’n uur of wat se rus en vrede!) En wanneer hy jou boonop nie daardie rus en vrede gun nie, maar saans met die intrapslag vra: “Hoekom is die huis so deurmekaar?”, wil jy slange vang!
Tyd is nog ’n uitdaging wat julle moet trotseer. Waar julle vroeër al die tyd ter wêreld tot jul beskikking gehad het, het julle nou nie meer tyd om eens saam ’n glas wyn te drink nie. Seks – wat is dit? As jy die moegheid, stres en bui-skommelinge in ag neem, is daar nie lus óf tyd hiervoor nie.
Jou huwelik gaan ’n droogte beleef. Aan die een kant sal julle moet verlief neem daarmee dat daar nou ’n bietjie minder tyd en energie in jul huwelik is vir die romanse en verdraagsaamheid wat voorheen daar was, maar aan die ander kant gaan dit nie gou beter raak nie, so julle sal daar rondom moet beplan.
Wenke vir ’n huwelik om ’n baba te oorleef
- Skeduleer seks. Dis nie noodwendig negatief nie – deur seks te skeduleer, skep julle afwagting . . . fantastiese voorspel! Gun jouself genoeg tyd om fisiek gesond te word, maar moenie seks té lank uitstel nie.
- Die huishoudelike take gaan verdubbel. Kry dus nóú reeds ’n bediende of stem ooreen om die take gelykop tussen julle twee te verdeel (met ’n duidelike lys van verantwoordelikhede sodat elkeen weet wat van hom/haar verwag word).
- Behou perspektief. Wanneer jy lus is om manlief se kop af te byt, onthou dis die slaaptekort en hormone se skuld.
- Betrek jou man by die versorgingstaak. Daar is twee ouers in hierdie som. Deur die voorreg van kinderopvoeding van hom te weerhou, doen jy hom (én jouself) net ’n onreg aan. Hy kan byvoorbeeld help met ’n nagvoeding en oor die naweek instaan sodat jy jou batterye kan herlaai.
- Wees ’n bietjie selfsugtig. Wanneer jou ma dus ingedoen voel omdat jy die baba vir ’n uur by jou skoonma los, moet jou nie laat intimideer nie. As ongewenste gaste hulself vir ete nooi, sê ferm en eerlik dat jy nie in dié stadium kans sien hiervoor nie. As jy ’n blaaskans nodig het, laat manlief na die baba kyk sonder om skuldig te voel.
Wat jy ook al doen, onthou jou huwelik! Julle het hierdie baba uit liefde gemaak en dis ’n strawwe tyd, maar eendag gaan hierdie klein bondeltjie die huis verlaat en dan gaan jy en jou maat agterbly. Maak sáám die beste van ’n uitdagende, maar wonderlike tyd!
*Skuilnaam is gebruik.
Deur Annelize Steyn