Deel 3: Wat beteken dit werklik om ’n priester van die huis te wees? En hoe maak jy dit prakties op jou lewe van toepassing?
Priester-man . . . ’n bietjie van ’n vreemde en amper oudmodiese woord in die tyd waarin ons leef, of hoe? ’n Mens hoor dit gewoonlik deesdae net wanneer iemand op ’n grappige wyse na ’n predikant verwys! Dalk is dit nog vreemder, maar die Nuwe Testament noem diegene wat Jesus volg só (1 Pet. 2:5, 9; Open. 1:6; 5:10; 20:6).
EK, ’N PRIESTER? WATWOU! UHM, EN HOE NOU?
Priesterskap is belangrik in die Bybel. Dit kom meer as 700 keer in die Ou Testament en ongeveer 80 keer in die Nuwe Testament voor. Die Bybel self gee ons ’n mooi definisie daarvan: “’n Mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring” (Heb. 5:1).
Jesus Christus dra ook hierdie titel. Hy is die Hoëpriester wat Homself geoffer het as losprys vir ons verlorenheid. Ons priesterskap word bepaal deur hierdie voorbeeld van Christus. Dit beteken dat ons, uit dankbaarheid vir ons verlossing, onsself “as lewendige en heilige offers” aan Christus gee ter wille van ons wêreld en sy mense. Nie meer net “offers” nie, maar “ek, die offer” (Rom. 12:1, 2).
Só hoe werk dit dan “rubber op die teer” in ’n mens se lewe? Veral vir my as man in ’n huwelik of as pa van my kinders? Kan/moet ’n man as priester leef? Wat beteken dit in die alledaagse, gewone, dag-tot-dag maalstroom?
KOM ONS KYK NA ’N PAAR GELEENTHEDE . . .
Sigbaarmaker: Ons eerste en belangrikste funksie is om Christus sigbaar en tasbaar te maak in ons huwelik en gesin. Woorde en beloftes sonder die innerlike fondament van die vrug van die Gees is dodelike gif vir ons gesinslede se verhouding met Jesus. Ons eerste offer as priester is . . . onsself! Moet asseblief nie Christus aan jou lewensmaat en gesin opdis as jy jouself nie aan Hom oorgegee het en as Sy volgeling leef nie.
O, so ek moet perfek wees? Inteendeel. Ons mense ken ál ons tekortkominge, veel beter as wat ons dink (of hoop). Hulle wil sien hoe ons in gebrokenheid vir Jesus met toewyding volg. Hiersonder is al ons pogings tot priesterskap hol, leeg . . . en uiteindelik ’n struikelblok vir hul geloofslewe.
Doendinge: Wy sommer nou, terwyl jy lees, opnuut jou lewe aan die Here toe. Vra vir jou vrou en kinders waar jy nodig het om te groei en Jesus meer getrou te volg. (Luister mooi, die waarheid sal seermaak, maar dis hoe dit voel om geoffer te word!)
Tussenganger: Bid vir jou vrou en kinders. Gaan staan in die gaping. Bring hulle na die Here toe. Dis een van die kragtigste maniere waarop ek en jy in hulle lewens kan invloed uitoefen. Vra vir hulle waarvoor jy kan bid. Sê vir julle waarvoor jy gebid het. Hoor by die Here waarmee jy jou gebede kan vul. Bid ook persoonlik vir jou mense, nie net in die “geheim” nie. Bid tydig en ontydig. Een van my beste ervarings van ’n “ontydige” gebed was in die aankomssaal van ’n lughawe in die middel van die stroom mense. Ek is toegebid in daardie oomblik deur ’n ander (baie ouer) leraar, en dit het ’n ontsaglike impak op my gehad.
Doendinge: Gebruik die bidkans tydens etes vir meer as net pa of oupas se rympie. Gryp die “ontydige” kanse aan om vir jou mense te bid . . . voor die groot eksamen by die skool klaarmaak, tydens jou weeklikse date-night met jou vrou, in enige oomblik van vreugde of hartseer.
“First responder”: In die Divergent-filmreeks is een van die “factions” se naam Dauntless. Dis vir my ’n pragtige, ou Engelse woord en beteken min of meer iets soos dapper, vreesloos, vrymoedig of waaghalsig. Dit is vir my ’n raak opsomming van een van die belangrikste eienskappe van ’n pa, of priester-man. God roep ons om onsself te gee, soos Christus. As daar seer, ongelukkigheid of konflik in die verhoudings in my lewe is, om ’n rugby-metafoor te gebruik, “vra ek vir die bal”.
Ek en jy kan nie in ons hoekie wegkruip en hoop dinge waai oor of kom vanself reg nie. Ons pak dit. Eerste. Waagmoedig en dapper. Let wel, dis nie ons verantwoordelikheid alleen nie. Probleme word saam hanteer en ek en jy “bemiddel” ook tussen ons gesinslede vir ’n oplossing. Maar ons roep halt, blaas die fluitjie, trap die rem . . . of hoe ook al. Ons gaan eerste.
Doendinge: Dink vir ’n oomblik ná oor wat tans “slepende” is in julle gesin of huweliksverhouding . . . jip, daar het jy dit. Maak ’n plan of twee. Gereed, gaan!
Soos iemand gesê het: “The way up is down.” ’n Priesterman se sukses lê in wat hy gee. Meer selfs . . . dit lê in Wie hy gee.
Deur Jan Venter, leraar by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie in Centurion.