Dis kosbaar vir ‘n paartjie om op hul oudag saam op die stoep te sit en ou herinneringe op te roep. “Onthou jy die dag toe ons…” Maar om sulke herinneringe te hê om op terug te val, moet hulle eers geskep word. Dis hoe jy dit doen…

Promosie

Geen paartjie gaan eendag gesels oor die dag wat hulle saam Oceans Eleven gaan kyk het nie… tensy hulle die hele fliek deur gevry het – só dat hulle nooit agtergekom het die ligte gaan aan nie, tot hulle eindelik hul oë oopgemaak het net om te sien hoe die dogtertjie in die ry voor hulle oopmond vir hulle sit en staar! En geen vrou gaan eendag die bos rooi rose onthou nie, tensy dit voorafgegaan is deur haar man wat vanuit ‘n besige Kaapstad straat vir haar op die tiende verdieping van haar werks-gebou geserenade het… Wat ons hiermee wil sê is: Dit is nie die geykte sjokolade, rooiwyn, blomme en fliek wat herinneringe bou nie. Maar as jy dit kreatief doen, kan dit wel mooi oomblikke skep.

Dít is hoe jy memories maak wat ‘n leeftyd sal hou:

1. Neem foto’s, heeldag en aldag
Vandag is dit so maklik om elke kosbare én elke alledaagse oomblik te dokumenteer. Ons selfone (met wonderlike ingeboude kameras) is heeldag by ons en daar is nie ‘n verskoning om ‘n oomblik te mis nie – tensy jou sel se battery pap is. Maak dus seker jy laai jou selfoon se battery getrou en maak gereeld ‘backup’s’ van jou foto’s. Sien ook toe dat jou foto’s op verskillende plekke gestoor is (op hardeskyf sowel as die virtuele wolk) sodat jy nooit hierdie kosbare tasbare bewyse van spesiale oomblikke verloor nie. Nog ‘n wenk: Laat druk gereeld jou foto’s en gebruik dit in rame, op fotodoeke (canvas) of in fotoboeke. Té veel van ons foto’s bly iewers in ‘n rekenaarlêer sonder dat ons ooit weer daarna kyk.

Promosie

2. Maak elke herdenking spesiaal
Slaan eerder Valentynsdag oor, maar maak seker jul huweliksherdenking word elke jaar behoorlik gevier. As dit op ‘n weeksdag val, sit verlof in en vier die datum hééldag. Herleef ook jul huweliksdag deur die venue te besoek waar julle getroud is, die restaurant te besoek waar julle jul eerste date gehad het, en kyk saam na jul trou DVD. Julle kan ook vir die model-en-sanger paar Heidi Klum en Seal na-aap en élke jaar jul troubeloftes hernu.

3. Vermy roetine soos die pes
Daarmee sê ons nie dat daar enigiets verkeerd is met ‘n geliefde ritueel nie. ‘n Goeie ritueel soos ‘n daaglikse wyntjie met sonsondergang is wonderlik! Maar moenie wegkruip agter die gerieflike verskoning van “Ons is nou maar eenmaal net Spur-mense” nie. Dit maak dat jy uitmis op wonderlike avonture net om die draai. Die Sjinese restaurant met sy plastiekstoele, die Meksikaanse restaurant wat altyd so ‘n feestelik lyk… dit geld ook vir ander dinge. Beproef verskillende plekke, verskillende cuisine en verskillende ervaringe. Ontmoet nuwe mense, ry nuwe paaie – dit maak julle ryker en skep meer geleenthede vir onverwagse ervaringe.

4. Doen saam iets met ewigheidswaarde
Gaan saam kerk toe of doen liefdadigheidswerk. Besoek ‘n kinderhuis, gaan stap met Wetnose se honde of wees mentors vir ‘n jong paartjie. Iets betekenisvol kan jul gees lig, julle goed oor julself laat voel en julle herinner waaroor die lewe waarlik gaan. Dit laat jou jou maat in ‘n ander lig sien en sal maak dat jy hom/haar meer as ‘n mens waardeer.

5. Waag kanse, aanvaar uitdagings
Dis belangrik vir ‘n paartjie om nie ‘n monotone lewe te lei nie. Wou julle nog altyd saam die Comrades gehardloop het? Of Everest geklim het? Wanneer dit finansieel swaar gaan, bring hierdie tye paartjies nader aan mekaar. Hulle onthou dinge soos: “Die dae toe ons geblikte spaghetti by kerslig geëet het.” Dit is bittersoet tye, maar die gedagte dat hulle dit saam deurstaan het, maak dat paartjies ‘n gevoel van oorwinning beleef en daardie tye word ‘n kosbare herinnering aan die band wat hulle deel.

6. Maak etenstye saam ‘n instelling
Dit is nie net goed vir ‘n huwelik nie, maar ook vir gesinstyd. Sorg dat julle minstens een maaltyd as gesin saam eet. Vestig hierdie ritueel reeds vóór jul kinders het. Wanneer die kinders jonk is, is aandete dalk ‘n goeie idee, maar wanneer hulle tieners raak, maak dalk van ontbyt ‘n vaste instelling. Min dinge bring mense so na aan mekaar as ‘n ete om ‘n tafel. Dit is intiem en ‘n manier om te konnekteer. Maak dié tyd ook tegnologie-vry, sodat julle elkeen werklik in liggaam en siel teenwoordig is.

7. Reis saam met mekaar
Sien die wêreld! Julle voel dalk heel tuis in jul eie hoekie van aarde, maar daar is min dinge wat ‘n paartjie so kan toets, so by mekaar kan bring en soveel herinneringe kan skep soos reis. Ons waarborg jou, as die gogga eers gebyt het, is daar nie omdraaikans nie. Vandag is daar ook opsies wat reis soveel meer toeganklik maak. Jy kan reis op ‘n stywe begroting en sommige paartjies reis selfs verniet danksy blogs en geborgde vakansies.

8. Klok in voor slaaptyd
Skep ‘n kosbare slaaptyd ritueel deur saam af te skakel en net weer by mekaar ‘in te check’. Bad saam, kyk saam na lawwe Facebook video’s, luister saam musiek of lees vir mekaar voor uit ‘n boek. Wat ook al julle doen, doen dit sáám en maak hierdie tyd ‘n tyd vir interaksie en fisieke kontak. Nie net sal julle emosioneel nader aan mekaar voel nie, die kans dat julle sekslewe ‘n hupstoot gaan kry hierdeur, is baie goed!

9. Neem saam deel
Neem saam deel aan enigiets. Of dit nou gholf, mini-gholf of Monopoly is! Kry ‘n speletjie waarmee julle teen ander paartjies of familielede kan meeding. Maak dit ‘n weeklikse of maandelikse instelling. Dis ‘n lekker manier om saam stoom af te blaas en lekker te lag! Dit skep ook ideale omstandighede vir kosbare herinneringe, soos: “Onthou jy die keer toe ons Charades gespeel het. Ek het liefde demonstreer en jy het gedink ek wys ‘n oorgewig operasanger!” Om saam teen ander mee te ding as ‘n span, is ‘n wonderlike manier om jul huwelik te versterk.

10. Versterk jul herinneringe
Wanneer julle saam ‘n unieke troue bygewoon het, gaan sit rustig die volgende oggend en gesels oor die interessante aand. As julle lekker vakansie gehou het in ‘n tent, sluit dit af deur ‘n ‘heildronk’ op die tent in te stel. Na ‘n stywe stap berg-op, masseer mekaar se voete en gesels oor die rowwe klim. Deur die herinnering te bevestig, versterk jy dit.

Hier is egter ‘n wenk… moenie só fokus op jou behoefte om die oomblik te dokumenteer, dat jy die oomblik self laat verbygaan nie. Deesdae is mense so besig om hul tapas te dokumenteer, dat die persoon wat oorkant die tafel is, amper ‘n bysaak raak. Trou fotograwe werk só hard vir die perfekte foto dat die spontaniteit van die oomblik agterwee bly… soms moet jy die oomblik net in jou brein fotografeer en vasvang. Jy kan dit altyd later in jou dagboek neerskryf. Dit is belangrik om saam te onthou. Onthou die goeie tye, maar onthou ook die swaar tye met die besef dat julle steeds by mekaar is as gevolg van én ten spyte van. Eendag, wanneer julle op die stoep sit, is dít wat julle sal laat hande vashou…

Addisionele bronne: www.magforwomen.com; www.penelopesoasis.com; Ben Casnocha op LinkedIn in die artikel Memories make your life more meaningful – Here’s how to have more of them.