Jy weet hy hou van kinders, dat sy gunsteling kleur blou is en dat hy taxi’s nie kan uitstaan nie. Maar eendag, ná ’n paar jaar se getroude lewe, sê hy iets wat die mat onder jou uitruk! Hoe nou?

Promosie

Jy is stomgeslaan. Hier sit julle in jul beste vriendin se sitkamer en jou man verklaar hy is mal oor keker-ertjies. Keker-ertjies! Jy ken die man wat langs jou sit al nege jaar en nog nooit in jou lewe het die gedagte by jou opgekom om dit ooit in kos te gebruik nie, want nog nooit het jy gedink dat dit iets is waaroor jou hemelse man liries sal raak nie! Jy bly tjoepstil, want ná bykans ’n dekade behoort ’n mens mos jou maat se voorkeure en afkeure te ken … of nie?

As jy iets nuuts van jou maat ontdek wat jy nie voorheen geweet het nie, is dit geensins ’n skande nie. Deur ’n mens se lewe saam kom daar nuwe situasies, uitdagings en avonture oor jul pad wat jou kans gee om daardie dele van jou maat wat jy nie ken nie, te ontdek. Om die waarheid te sê – dit is waarna jy moet streef. Onthou, wie jy is, is nie in yster gegiet die dag wat jy trou nie en dit is vanselfsprekend dat jul voorkeure, afkeure en belangstellings deur die loop van jul getroude lewe sal verander.

Die enigste verskil is, toe julle mekaar pas ontmoet het wou jy álles van hom af weet en julle kon ure lank gesels oor drome en ideale. Toe gebeur die lewe en deesdae is julle té besig en gewoond aan mekaar om veel om te gee. Wel, dit is tyd om weer om te gee!

Promosie

Só doen jy dit:

  1. Skeduleer een aand in sy dagboek sowel as joune. Maak die tyd so sesuur.
  2. Trek gemaklik aan en bestel ‘n lekker wegneem-ete. Maak ook ‘n goeie bottel wyn oop en kry twee glase gereed.
  3. Jy het twee notaboekies en twee penne nodig. Trek ‘n vertikale lyn deur ‘n paar bladsye van die boekies.
  4. Julle gaan nou vrae beantwoord. In die eerste kolom beantwoord jy die vrae oor jouself. In die tweede kolom beantwoord jy die vrae oor jou maat.
  5. Wanneer julle alles klaar voltooi het, keer terug na vraag een en lees jul antwoorde vir mekaar. Wanneer jou maat iets geskryf het wat jou verras, gesels daaroor.
  6. Daar is nie ’n telling nie – jy kan nie sien hoe “goed” of “swak” jy gevaar het nie. En die doel is allermins om te wys hoe ’n huweliksmislukking jy is. Dit is eerder bedoel om julle te help om mekaar beter te leer ken en besprekingspunte te ontlont. Geniet dit!
VRAE:
  1. Wat is jou/jou maat se gunsteling kleur?
  2. Wat is jou/jou maat se gunsteling kos/watter kos kan hy/sy nie uitstaan nie?
  3. Is jy/jou maat ’n oggendmens of ’n naguil?
  4. Watter tipe gedrag van ander mense maak jou/jou maat woedend?
  5. Waarvoor is jy/jou maat bang?
  6. Wie is jou/jou maat se gunsteling skoonfamilielid?
  7. As jy/jou maat enigiets aan homself/haarself kon verander, wat sou dit wees?
  8. As jy/jou maat enige plek in die wêreld kon besoek, waarheen sou jy wou gaan?
  9. Wat is jou/jou maat se gunsteling liedjie?
  10. Wat laat jou/jou maat lag?
  11. Wie is jou/jou maat se drie beste vriende?
  12. Wat laat jou/jou maat op die oomblik die meeste stres ervaar?
  13. Wat is jou/jou maat se grootste lewensdroom?
  14. Wat is jou/jou maat se gunsteling televisieprogram/fliek?
  15. Watter skoengrootte dra jy/jou maat?
  16. As jy/jou maat iets versamel het, wat sou dit wees?
  17. Wat is jou/jou maat se gunsteling toebroodjie?
  18. Wat is jou/jou maat se gunsteling soort ontbytpap?
  19. Vir watter rugbyspan skreeu jy/jou maat?
  20. Vir wie het jy/jou maat gestem in die laaste verkiesing?
  21. Wat wens jy/jou maat het die ander een nie gedoen nie?
  22. Skryf een van jou/jou maat se unieke talente neer?
  23. Wat is jou/jou maat se gunsteling stad om te besoek?
  24. Wat is jou/jou maat se gunsteling restaurant?
  25. Wat is die een ding wat jy/jou maat nog altyd begeer het?
  26. Wie is jou/jou maat se gunsteling akteur/aktrise?
  27. Wat is jou/jou maat se gunsteling seksposisie?
  28. Hoeveel keer per week wil jy/jou maat seks hê?
  29. Wat is die titel van jou/jou maat se gunsteling boek?
  30. Wie is jou/jou maat se gunsteling skrywer?
Antwoord nou die volgende net vanuit jou oogpunt. Vergelyk jul antwoorde en gesels oor die aspekte waar julle verskil:
  • Romanse is definitief nog deel van ons verhouding. JA/NEE
  • My maat waardeer die dinge wat ek in ons huwelik doen. JA/NEE
  • Ons sekslewe is die meeste van die tyd bevredigend. JA/NEE
  • Aan die einde van die dag is my maat bly om my te sien. JA/NEE
  • Wanneer ons gesels, is dit ’n gee/neem situasie. JA/NEE
  • My maat luister na my. JA/NEE
  • Ons lewenswaardes en doelwitte jel. JA/NEE

Sit nou die pen en papier neer en lees die volgende stellings hardop.

Elkeen kry ’n beurt om te sê of hulle met die stelling saamstem of verskil. As daar verskil word, verduidelik hoekom:
  • Valentynsdag is vir my belangrik.
  • Ek hou van ons troeteldiere binne-in die huis.
  • Ek geniet kosmaak.
  • Ek dink dit is aanvaarbaar om vir ons ouers finansiële raad te vra.
  • Ek geniet kampering.
  • Ek dink dit is okay vir ’n paartjie om voor die huwelik saam te bly.
  • Ek sou aanneming oorweeg het as biologiese kinders nie vir ons moontlik was nie.
  • Dis vir my belangrik om ’n kind van my eie geslag te hê.
  • Ek hou nie van rook nie.
  • Ek verkies dit om te lees eerder as om televisie te kyk.
  • Ek hou daarvan dat mense by ons kom kuier eerder as om te gaan kuier.
  • Ek hou by die spoedgrens.
  • Ek gee nie om om soms alleen vakansie te hou nie.
  • Ek sal daarvan hou om ’n kunsmuseum te besoek.
  • Ek glo die man moet die broodwinner in die huis wees.
  • Ek verkies om veras te word eerder as om begrawe te word.
  • Ek voel gemaklik om seks te bespreek.
  • Goeie seks eindig in gelyktydige klimaks.
  • Gebed is ’n belangrike deel van my lewe.
  • Ek dink ons moet ’n gedeelde bankrekening hê.
  • Ek dink dit sal okay wees om geld by ons ouers te leen as ons dit nodig het.
  • Oormatige drinkgewoontes is onaanvaarbaar.
  • Ek dink dit is okay om my ma een keer per dag te bel.
  • Seks is die belangrikste deel van ’n verhouding.
  • Ek glo dat gebede beantwoord word.
  • Ontrouheid eindig in egskeiding.
  • Warmte is belangrik in ’n gelukkige huwelik.

Onthou dat hierdie temas gesprekke moet ontlont, nie rusies nie! Hierdie gesels-aand moet aan beide van julle die gemaklikheid en sekuriteit gee om openlik met mekaar te gesels. En as julle nie deur alles kom nie, beteken dit dat julle lekker kan redeneer! Doen jul kenmekaar dan oor ’n week of twee. Dit is bykans ’n gegewe dat een van julle in die een of ander stadium aangenaam verras sal word!

Artikel deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: marriage.about.com; utlines/a/knowspouse.htm

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!