Konflik is ‘n belangrike en onvermydelike deel van elke langtermynverhouding. Dit is nie lekker om te baklei nie, maar ‘n goeie rusie kan julle nader aan mekaar bring en onderliggende probleme uitstryk. Só doen jy dit met ons maandgids.

Promosie

VRYDAG NOMMER 1:

JUL JIPPEE-VRYDAG wenk:

Is dit tyd om ‘n netelige saak in jul verhouding aan te spreek? Soek ‘n neutrale plek. Moenie iemand se kantoor kies nie (dis ‘n magsplek), moenie ‘n slaapkamer of seksueel gelaaide area kies nie. Kies eerder die kombuis, wat die hart van jul huis is, of gaan buitentoe wanneer julle weet die gesprek kan in ‘n rusie ontaard.

Promosie

JUL FIRELIGHTER vir ‘n goeie gesprek:

“Hoe kan ek jou help wanneer jy kwaad is?”

Jou maat het ‘n rowwe dag gehad en ‘n lelike uitval met haar pa gehad. Jy probeer help, maar jy sê die verkeerde ding en maak dinge tien keer erger. Plus: Nou is sy kwaad vir jóú ook. Vra jou maat wat sy van jou nodig het wanneer sy kwaad is, sodat jy kan weet hoe om die situasie volgende keer te ontlont. Sy kan dalk vir jou sê dat sy net ‘n oor nodig het, of dat sy graag vasgehou wil word. Of dat sy in só ‘n scenario graag wil hê jy haar aandag moet aflei met jou skerp sin vir humor.

JUL WITWARM WENK:

Wanneer jy jou maat orale seks gee, moenie vergeet van jou hande nie! Span jou tong én jou vingers in vir dubbel die pret!

JUL BUCKETLIST PLAN:

Wanneer het jy en jou maat laas saam gesing (behalwe in die kerk)? As enige van julle ‘n instrument kan bespeel, gaan sit die kinders een aand vroeg in die bed, maak ‘n bottel wyn oop, gaan sit op die mat en sing saam met die kitaar of klavier … En as nie een van julle ‘n instrument kan bespeel nie, oorweeg dit om saam vir musieklesse te gaan, saam te oefen en te kyk wie die instrument eerste kan bemeester.

JUL INSPIRASIE-FLITS:

“Vrede is nie die afwesigheid van konflik nie, dit is die vermoë om konflik te hanteer op ‘n vredevolle manier.”- Ronald Reagan

JUL  DAAGLIKSE GEWOONTE:

Gelukkige paartjies kommunikeer oor die lekker dinge en oor die minder lekker dinge. Dis lekker om te gesels oor die nuwe reis, die opwindende werk … maar dis minder lekker om te praat oor jou angs, sy swak verhouding met sy kinders of jul ekonomiese situasie. Paartjies wat praat oor taai dinge se band versterk egter – en hul oorkoepelende kapasiteit vir geluk verhoog.

Kyk uit vir deel 2 van hierdie maandgids binnekort beskikbaar op ons webtuiste!

Artikel geskryf deur Annelize Steyn