Veiligheid is vir ons almal belangrik, en só baie van ons bly agter hoë heinings om ons en ons besittings veilig te hou. Maar die misdadiger wat sekerlik die meeste skade in ons lewens aanrig, is daardie dief wat ons tyd kom steel …
Ons is die hele tyd besig met werk, huistakies, seker maak die kinders bly uit die moeilikheid… en, sug, dan het jy geen energie meer oor om gehaltetyd saam met jou man te spandeer nie. Wat nog te praat van tyd vir seks!
Dit is ’n algemene frustrasie.
As jy koek bak, kan jy nog die sjokoladestukkies wat daardie ekstra lekkerte gee vergeet, maar in jou huwelik is liefde maak soos die meel of bakpoeier. Sonder dit is daar min kans op sukses!
Van die grootste sondebokke hoekom mense voel hulle het nie energie of tyd vir seks nie, is lang werksure, tyd op pad werk toe en terug, spanning en moegheid. Nou hoe dan gemaak met ons besige lewens waar daar so baie vereistes aan ons gestel word?
Een leser skryf op Facebook: “Ja-nee kyk, die lewe vat maar baie uit ’n mens uit, maar as daar geen seks is in jou huwelik nie, dan is daar nie ’n huwelik nie … maak tyd daarvoor! Ons het deur ’n droë tyd gegaan en ek en my man was alewig bakleierig. Nou stuur ek deur die dag ‘oulike’ boodskappe en hy kan dan nie wag om by die huis te kom nie.”
’n Ander Facebooker skryf: “Ons het besluit op play dates. Ek het ’n paar van ons gunstelinge in papiersakkies gepak (benodigdhede en so aan) en bêre dit in ons kas – reg om te gebruik. Ons tyd saam is reeds min. So nou hoef ons nie eers verder tyd te mors nie, ons kyk net na die kaartjies wat op is en kies een wat lekker lyk, gryp dan die sakkie en kan begin speel …”
Nog ’n leser skryf: “Ons het ook ’n droogtetydperk ervaar, maar daai vonk is terug en beter as ooit! Ons begin al twee dae voor die tyd om sms’e heen en weer te stuur, sodat die opwinding opbou en dan gaan kruip ons vroeg in op die spesiale aand sodat ons genoeg tyd aan mekaar kan gee! Dan begin die hele ritueel weer van voor af! Baie lekker en dit maak jou huweliksband net soveel sterker!”
Gustav en Elna Muller, huwelikskenners en sprekers, waarsku: “As ’n huwelik eers in die moeilikheid is, is paartjies gewoonlik spyt dat hulle nie hierdie fasset van die huwelik beter opgepas het nie, self al verg dit om tyd te maak en energie te bêre daarvoor.”
Navorsers het ook bevind dat hedendaagse paartjies veel minder seks het as ons eweknieë in die 1950s! (Ja, ons weet dis moeilik om só aan jou ouers te dink as daar oor sulke onderwerpe gepraat word, maar dis waar – dit wil lyk asof ons ouers meer seks gehad het as wat ons doen!). Dit word deels toegeskryf aan vroue wat ook nou ’n voltydse beroep het, maar ook terselfdertyd kinders grootmaak.
Is julle jong dae se asemrowende seks, wat selfs Hollywood iets by kon leer, dan nou iets van die verlede? Hier is ’n paar idees wat jy kan gebruik om die woema weer terug te sit in ’n moeë liefdeslewe:
- Julle kan seks skeduleer: besluit Woensdagaand is net júlle s’n. Of julle dan nou seks het of nie, gebruik die tyd om net weer in pas te kom met mekaar. Gee julle volle aandag aan mekaar, gesels en cuddle sommer net. Skakel die televisie, die selfone en die ipads af!
- As julle tyd beperk is, maak die meeste daarvan! Daardie ou staatmaker, die quickie, kan handig te pas kom! Maar moenie toelaat dat dit al is waaruit julle sekslewe bestaan nie.
- Baie paartjies sê dat vroegoggend, wanneer die res van die huishouding nog slaap, die ideale tyd vir hulle is om ononderbroke tyd saam te spandeer. Die dag skop dan ook sommer op ’n hoë noot af!
- Reël ’n aand uit vir net die twee van julle. Praat oor julle en nie oor die kinders nie. Konsentreer op julle as paartjie, eerder as op julle as ouers. As mens uit voeling raak met mekaar, is dit soveel moeiliker om dan op fisiese en emosionele vlak tred te hou met jou maat. Seks raak dan ook al minder van ’n prioriteit. Dit is ’n bose kringloop wat jul verhouding baie skade kan berokken.
- Die daaglikse roetine en die feit dat julle nou saam bly en mekaar se gewoontes ken, haal die afwagting uit jul liefdeslewe. En dit is juis daardie afwagting wat die passie so aanblaas! Dink net terug aan daardie vroeë dae in jul verhouding … daardie wonder oor wat sy reaksie gaan wees op jou nuwe, sexy onderklere, waarmee hy jou volgende gaan verras, die opwinding as julle iets nuuts probeer. Werk hard om dit terug te kry. Een manier waarop julle dit kan doen, is om vir mekaar stoute sms’e deur die loop van die dag te stuur. Afwagting bou op soos wat julle uitsien na wat die aand gaan gebeur.
- Moet nie liefde maak bêre tot die laaste ding voor slaaptyd nie. As jy reeds moeg is, is dit die verkeerdste tyd! Dit kan moeilik wees as daar kinders in die huis is, maar soos een leser vertel: Barney en die Tellytubbies het hul sekslewe gered! Ruil jul roetine: In plaas van kosmaak, kinders bad, wasgoed doen en dan seks, verander dit na kosmaak, seks, kinders bad, wasgoed doen.
- Wees so nou en dan stout. As julle van die werk af kom, mik reguit vir die slaapkamer met ’n bottel wyn en ’n stuk sondige, lekker sjokolade of ander bederf. Julle het dan meer tyd om aan mekaar te spandeer. Die res van die aand sal julle met blink oë na mekaar en kyk as julle vroeër se pret onthou!
KLIEK HIER VIR NÓG VIER MANIERE OM TYD TE MAAK VIR SEKS!
Addisionele bronne: mamashealth.com; netdoctor.co.uk; bbc.co.uk.