Ek en my man is baie gelukkig getroud, maar ons het een reuse probleem – sy vriende. My man het in ’n rowwe gebied grootgeword en danksy ambisie en dryfkrag bo sy moeilike grootword-omstandighede uitgestyg. Hy het egter ’n baie sterk sin vir lojaliteit en sien sy skoolvriende as dié ouens wat hom in swaar tye bygestaan het. Hy beskou hulle as “rowwe diamante”, maar al wat ek sien is drie lummels wat met hul voete op my koffietafel sit, sigarette in my potplantjies dooddruk en kliphard voor my kinders winde opbreek. Wat nou?
Sjoe, jy sit met ’n dilemma. Dis moeilik om tussen ’n man en sy vriende te staan, en ’n vrou moet dit nie eens probéér nie. Hy ken sy vriende langer as jy en het hulle waarskynlik leer waardeer vir die goeie eienskappe wat hulle het (en wat jy nog nie kon identifiseer nie). Dit klink nie asof hulle inherent boos of sleg is nie, maar dat hulle soos groot Shreks is: Ruwe ouens met onverfynde gewoontes. Wat jy jouself eerstens kan vra, is: Het hierdie manne ’n slegte invloed op jou man? Sit hy ook sy voete op die koffietafel as hulle by julle huis is? Ons vermoed dat, aangesien hy die beste van sy omstandighede gemaak het, hy eerder die leiersfiguur is waarna hulle opkyk.
“Die ergste ding wat jy kan doen, is om jou maat te kry om sy vriende te sien vir wie hulle is, wat hom kan dwing om hulle te verdedig – en homself te verdedig omdat hy van hulle hou,” meen gedragspesialis en afspraakkenner Christie Hartman op www.cnn.com. Moet ook nie weier om met hulle te sosialiseer nie. Jy sal soos ’n snob oorkom en jy sal jou man dwing om te kies, sê kliniese sielkundige Joseph Burgo.
Jy het dus ’n paar opsies:
- Tree op uit nuuskierigheid. Probeer om in hulle te sien wat jou maat in hulle sien deur saam met hulle te kuier en hulle uit te vra. As hulle weerstandig is om jóú beter te leer ken, sê vir jou man dat hy jou moet help om die ys te breek. As dit van jou vereis om ’n bier te sluk en ’n skurwe grappie te vertel, vat een vir die span!
- Probeer hul swak gewoontes in die kiem smoor. Wanneer jy weet hulle kom kuier, skuif die koffietafel in die hoek van ’n vertrek, en sodra een van hulle ’n sigaret aansteek, sê vriendelik, maar ferm: “Kom ons gaan staan saam met jou buite terwyl jy rook.” As die rook jou nie pla nie, gee ’n asbakkie in sy hand en skuif die potplante weg. As hulle winde opbreek, lyk geskok, maar moet niks sê nie. Herinner jou kinders net kliphard in hul teenwoordigheid dat dit baie slegte maniere is om te burp voor ander mense.
- Moedig hulle aan om soms ’n bietjie uit te gaan. Dit klink asof sy vriende baie tyd by jul huis deurbring. Sê dat jy ’n paar vriendinne oorgenooi het en dat jy voorstel die manne gaan kuier ’n bietjie op hul eie.
- Wees eerlik met jou man oor sy vriende. Sê dat hulle gewoontes jou pla en dat dit niks met hulle as mense te doen het nie. Noem dat jy hulle beter sal wil leer ken, maar vra manlief om jou te help om hulle ’n bietjie te groom. As jy die saak goed benader, kan jy en manlief ’n bobaas makeover team word!
Deur Annelize Steyn