As jy die regte stappe neem, is dit moontlik om ’n openhartige verhouding met jou kind te kweek. Hier is ’n paar praktiese riglyne vir doeltreffende oop-kanaal kommunikasie.

Promosie

Onthou jy nog die dag toe jy jou kamerdeur toegeslaan het dat die kosyne tril en jy gevoel het daar is niemand op hierdie aarde wat jou verstaan nie? As ouers voel ons dikwels magteloos in só ’n situasie, want ons verstaan nie altyd wat ons kinders nodig het wanneer dit gebeur nie.

Voel jy dat jy as ouer nie weet watter kant toe nie? Lyk jou prentjie so:

  • Gebroke verhoudings en/of kommunikasie.
  • Wanindrukke en misverstande rondom situasies, bedoelinge en gedrag.
  • ’n Kind wat nie self besluite kan neem of grense stel nie.
  • ’n Gekneusde identiteit wat kinders ’n maklike teiken maak vir negatiewe groepsdruk.
  • ’n Ouer wat raadop, oorweldig, magteloos en skuldig voel.

Hoe sal jou lewe anders wees indien jy as ouer die vaardighede het om jou kind te begelei tot ’n emosioneel-intelligente uitkoms in uitdagende situasies? Hoe sal jou lewe anders wees indien jou kind die vrymoedigheid het om na jou toe te kom met enige uitdaging en jy met gemoedsrus dit saam met jou kind kan aanpak en oplos?

Promosie

Hoe sal jy daarvan hou as jou prentjie meer lyk soos dié?

  • Emosioneel-intelligente kinders.
  • Gesonde en gebalanseerde verhoudings.
  • ’n Selfstandige kind wat sterk kan staan grense stel.
  • ’n Kind met goeie selfinsig en ’n goeie selfbeeld.
  • ’n Ouer wat selfversekerd is in sy/haar eie wysheid om die regte leiding te gee.

Só wat is doeltreffende oop-kanaal kommunikasie met jou kind en hoe bereik jy dit as ouer? Kom ons kyk na wat die nuutste navorsing in neurowetenskap bewys en wend dit aan ten opsigte van ons verhoudings met ons kinders.

Neurowetenskap bewys dat ons neurologie werk op die beginsel dat my lewe nie deur enigiemand anders (selfs my ouers) ervaar kan word nie. Wanneer ’n mens dus oor ’n probleem met iemand gesels, hou jou brein glad nie van die tipiese “ek-verstaan-presies-hoe-jy-voel”-reaksie nie.

Wat is die korrekte reaksie dan in dié geval? Daar kan nie nuwe insigte of leerprosesse plaasvind indien ’n mens se emosies nie in balans is nie. Bring dus eers die emosies terug in balans deur aktief te luister en te reflekteer wat jou kind sê – nie te interpreteer nie. Maak ook seker dat jou kind gemaklik is met sy/haar emosies en nie om verskoning vra daarvoor nie. Verskoning kan wel aan gedrag gekoppel word.

Noudat jou emosies in balans is, is dit die ideale geleentheid om die neurowetenskap verder toe te pas en ’n “coaching”-klimaat te skep. “Coaching” is die plek waar jou kind nuwe perspektief kan kry en ook nuwe vaardighede kan aanleer.

Die resultate wat julle hier verkry, voorsien langdurige verandering omdat jou kind self (deur middel van jou begeleiding) by sy/haar eie antwoorde uitgekom het. Deur die proses word ook baie wedersydse vertroue en respek gebou, wat ’n oop verhouding bevorder.

In vandag se samelewing is bewys dat geen toepassing meer doeltreffend is as “coaching” wanneer dit kom by mense-ontwikkeling nie. Daarom raak dit ’n noodsaaklikheid vir ons as ouers om onsself ook toe te spits op die aanleer van die metodiek sodat ons nie net meer volronde kinders vir eendag grootmaak nie, maar ook die reis daarheen kan geniet!

Hier volg ’n paar wenke om ’n oop kanaal tussen jou en jou kind te bou:

  • Moenie aanneem dat jy weet wat in sy/haar lewe aangaan en hoe hulle voel nie. Behalwe vir die feit dat ons uitdagings van jare gelede van vandag se kinders s’n verskil, is dit ook nie wat die neurologie wil hê nie. Dit is dus baie doeltreffender om jou kind se wêreld te betree en meer vrae te vra as om advies te gee.
  • Wees regtig in voeling met wat in hulle wêreld aangaan in terme van die nuutste modes, flieks en musiek. Waak egter daarteen om soos ’n tiener te probeer aantrek of praat om aanklank te vind. Tieners wil ouers hê wat verstaan en inkoop in hulle belangstellings, maar nie wat soos hulle probeer wees nie.
  • Ouers is geneig om, veral met seuns, te dink dat hulle nou groot is en dat hulle nie meer so baie fisiese kontak nodig het nie. Wanneer dit gebeur, kry die kinders, veral dié wie se liefdestaal fisiese aanraking is, nogal swaar. Daar is ’n fyn lyn tussen om jou kind en sy/haar grense te ken en om te weet wanneer om hulle net te gryp, te druk en te soen. Dus, vra jou kind wat hy/sy nodig het om liefde te ervaar.
  • Tieners wil weet dat daar iemand is wat in ’n gees van aanvaarding en sonder veroordeling regtig luister en regtig hoor wat hulle sê. Maak steeds tyd om byvoorbeeld net in die bed te lê en gesels, of koffie te gaan drink en net saam te wees. Vermy egter die opset waar die verwagting daar is dat elke keer wanneer ons mekaar in die oë kyk of tyd saam spandeer, ons oor iets belangriks moet praat . . . daar is ’n tyd vir net wees en connect

 

Deur Nelri Hanekom en Kim Ikel