Stilte kan jou huwelik vernietig. Jy en jou maat hoef nie te babbel nie, maar daar is verskeie redes hoekom julle nooit moet toelaat dat die stiltes tussen julle al hoe groter word nie . . .

Promosie

Jy het hulle al gesien – die getroude paartjie in die koffiewinkel wat woordeloos verby mekaar staar. Sy bestudeer die spyskaart aandagtig, hy tik-tik met ’n pen op die tafel en gaan haal later die koerant.

Dan is daar die ander paartjies (en miskien is julle een van hulle) . . . Manlief gaan gal af omdat jy vergeet het om die elektrisiteitsrekening te betaal. Jy draai om, stap by die vertrek uit en besluit om hom vir drie dae met stilstuipe te “straf”.

Dit raak al hoe moeiliker om te praat en al hoe makliker om konflik te vermy. Werp jou taktiek vrugte af? Allermins. Hoekom is dit dus belangrik om te keer dat jou huwelik die punt bereik waar praat nie meer ’n prioriteit is nie?

Promosie

Waarom die bohaai oor praat?

Gedurende elke huweliksverrykingseminaar beklemtoon kenners die noodsaaklikheid van kommunikasie. Dikwels word dit in dieselfde asem as konflikhantering, probleme in die slaapkamer of die vermyding van misverstande genoem.

Soms is práát, net ter wille van práát, broodnodig in ’n huwelik. Dit behels nie die diep onderwerpe wat manne gewoonlik die hasepad wil laat kies nie, maar doodeenvoudige dinge wat deur vrae soos die volgende begin word: “Kyk hoe mooi is daardie mense se huis geverf” of “Ons moet eendag ’n bietjie Thai-kos probeer kook”. Niksseggende, loslit-geselsies wat nie noodwendig ’n dieper betekenis het nie, kan wondere doen om die kanale tussen jou en jou maat oop te hou.

Daar is egter ook ernstiger temas waaroor paartjies verkies om nié te gesels nie, bloot omdat dit ongemaklike onderwerpe is, of omdat jy weet dat dit konflik in jul huwelik veroorsaak en jy net nie daarvoor kans sien nie.

Daar is veral drie onderwerpe wat julle egter moet bespreek. Byt op jou tong en druk deur, want as jy nooit oor die volgende temas praat nie, gaan dit kort voor lank konflik in jou huwelik veroorsaak, meen Chesley Maldonado (www.buzzle.com):

PRAAT OOR SEKS

“Dit is só belangrik om openlik oor seks te praat. Seks is ’n ongelooflike intieme ding, en binne die huwelik is dit heilig en spesiaal. Wees eerlik oor jou voor- en afkeure, die hoeveelheid, duur, metodes en dies meer. Besprekings soos hierdie kan ’n huwelik red en die versoeking vir ontrouheid uit die weg ruim.”

Die gesprek behoort ook oor dit te gaan wat vóór en ná seks gebeur en nie net oor bedpret nie. Oop kommunikasie op hierdie gebied kan slaapkameraksie aanwakker en ’n sterker band tussen julle skep.

PRAAT OOR GELD

Dit is baie belangrik om openlik oor geld te praat. Bespreek jul siening oor finansies, jul individuele, sowel as jul gesamentlike, bestedingstyle en ontdek maniere waarop julle jul geldsake optimaal kan bestuur. Of julle egter gesamentlike of afsonderlike bankrekeninge het, sorg dat daar deursigtigheid is en dat julle gereeld jul geldsake bespreek.

PRAAT OOR KINDERS

Die mate waarin julle dissipline toepas, behoort ooreen te stem, en julle moet gesels oor hoe julle jul kinders wil grootmaak. Ouers moet ’n span wees wat dinge in privaatheid uitpraat. Daar mag nie verdeeldheid wees nie, anders sal kinders die situasie probeer manipuleer. Hierdie dinge behoort vóór die troue reeds bespreek te word, meen Chesley, maar ook in die jare daarna. Die gesprekke bly relevant en moet gereeld geskied.

Seks, geld en die kinders is daardie dinge waaroor die meeste in ’n huwelik geargumenteer word. “Gesonde, eerlike kommunikasie op hierdie gebiede kan ’n troebel huwelik red en ’n goeie huwelik selfs verder versterk.”

Verloor julle dalk kosbare tyd?

’n Studie in Engeland toon dat ’n gemiddelde paartjie twee argumente per week het, wat elke keer gemiddeld twee ure en 14 minute se stilstuipe tot gevolg het. Dit beteken dat paartjies bykans tien dae per jaar nié met mekaar praat nie. Die belangrikste redes vir die koue oorlog is dat mense die verkeerde dinge sê en mekaar as vanselfsprekend aanvaar, het die studie bewys.

Soms is dit net ’n kwessie van te min tyd. Daar moet aandag gegee word aan werk, inkopies, die kinders, die troeteldiere . . . en as julle uiteindelik alleen is, is daar nie energie om enigiets te sê óf uit te praat nie. Dit kan ’n uitdaging vir julle albei wees om met mekaar te praat, maar die geheim is om tyd te máák.

Só inisieer jy ’n doeltreffende gesprek!

  1. Wanneer jy met Manlief praat, verlaag jou stem, in plaas daarvan om opgewonde te raak. As ’n vrou emosioneel raak, styg haar stemtoon, en dit is wanneer mans besluit: Tot hiertoe en nie verder nie, ek sluit af! As hy jou vreemd aankyk, sê net vir hom dat jy gelees het ’n mens se woede bedaar as jy jou stem verlaag. Dalk probeer hy dit ook!
  2. Skryf vir hom ’n brief waarin jy jou gevoelens en vrae deel. As Manlief op sy tyd jou brief kan lees en herlees, kan hy “hoor” wat jy sê, en op  hierdie manier maak jy jou woorde vir hom toegankliker.
  3. Maak ’n lysie vrae en sluit ’n “Ja”- en “Nee”-kolom langs die vrae in. Maak ook ’n kolom vir “Kan nie besluit nie” en “Benodig meer besonderhede”. Wees so spesifiek as moontlik. Maak byvoorbeeld ’n lys van moontlike aktiwiteite en plekke wat julle op jul date night kan besoek. Vra jou maat om te reageer en maak ook ’n afdeling vir “Ander voorstelle”, sodat hy sy idees by joune kan voeg. Maak ook lyste met moontlike tye gedurende die week wanneer julle privaat gesprekke kan voer en dinge kan bespreek.

Dit maak nie saak wat julle sê nie, solank dit nie ’n negatiewe impak op jul verhouding het nie. Solank julle praat, bly die band tussen julle sterk, en solank daardie band sterk is, kan enige struikelblok soveel makliker oorkom word. Moet ook nie dink dat alle gesprekke diep hoef te wees nie. Wees soms laf, vertel grappe, terg mekaar en lag saam, maar wat julle ook al doen, moet nooit dat stilte jul geluk steel nie.

As jy wil leer om binne 90 minute deur enige probleem te praat – kliek hier!