Die koms van ‘n kroos het ‘n verreikende effek op enige huwelik. Só kan jy joune staande hou deur die pajamadril en die terrible two’s!
Paartjies het allerlei slim idees as dit kom by gesinsbeplanning. “Kom ons begin vroeg – só maak ons seker dat ons nie hul sportwedstryde met kieries bywoon nie ” Of: “Kom ons wag eers ‘n rukkie – dan hoef ons nie Europa met ‘n pram te verken nie!” Voor die koms van kinders raak paartjies wyshede kwyt soos: “Ons ryg hulle in soos orrelpypies, dan handel ons al die doeke en die dummies op een slag af.” Of: “Kom ons haal asem tussen die geboortes deur, dan het ons ‘n babysitter as die laaste een kom.”
Maar almal wat reeds kinders het, is dit eens: Kinders-kry is nie voorspelbaar nie. En vir elke voornemende paartjie wat gesê het: “Ons sal nóóit ons driejarige voor die kassie sitmaak nie,” of “Ons kind sal by óns aanpas,” of “Ons bloedjie sál te alle tye ‘n skoon gesig, ‘n gesonde happie en goeie maniere hê,” is daar tien paartjies wat met knuppeldik mae sit – oorvol van geslukte woorde! Kom ons sê dit nou maar prontuit: Wanneer dit by babas kom, waai al jou goeie voornemens by die voordeur uit en val al jou fyn uitgewerkte planne deur jou vingers. Wat die titel van dié artikel geïnspireer het… want saam met ‘n baba kom daar wonderlike highlights maar ook tranerige blues. En net sodra jy dink jy hét dinge in jou greep, verras jou kroos jou #uitdiebloute!
Kom ons wees eerlik oor hierdie kwessie: ‘n Artikel is nie genoeg nie. Vir jou om te leer hoe om jou huwelik te navigate deur die oerwoud wat as ouerskap bekend staan, het jy ‘n baie dik Bybel nodig. Maar by gebrek aan spasie, doen ons wat ons kan…
Vraag nommer 1: “Waarom is my man skielik so IRRITEREND?!”
Hy was so oulik die dag toe jy hom ontmoet het. Om die waarheid te sê, hy was heel okay tot die dag in die kraamsaal, toe hy “uitgepass” het toe hy veronderstel was om jou te “cheer”. Toe kleinboet eers daar is (en hy hom onhandig vashou) het hy opgemerk hoe jul baba effens soos Rocky ná ‘n geveg lyk! En nou is jy met kraamverlof en jy kom ‘n paar onsmaaklike dinge agter. Soos dat jou wederhelf nie eers weet hoe om behoorlik tee te maak nie! En dat hy gedurende ‘n ramparty ‘n halwe bottel brandewyn kan inhou, maar nou nie ‘n doek kan ruil sonder om badkamer toe te vlug nie. Hy werk oortyd, terwyl jy hom nodig het! En jy voel soos ‘n melkkoei, maar jou liewe man dink steeds niks daarvan om jou voedingsbra uit te trek wanneer jy skuins voor middernag met donker kringe en ongewaste hare in die wiegstoel aan die slaap raak nie. Rerig?!
Antwoord: Nuwe mamma, dit is nie jy wat hier bo praat nie. Dis ‘n oormoeg, oorweldige versorger met hormone wat die hele wêreld vol gallop. Hou dit in gedagte! Jou maat sal eendag weer vir jou oulik word. Wees ook genadig. Hy het ‘n pa geword. Hy vóél die druk en in sy pogings om reg op te tree, is hy dalk lomp. Hy werk waarskynlik oortyd omdat hy hom dood stres oor finansies om vir jul baba ‘n goeie toekoms te bied.
Nuwe pappa, níks wat jy nou doen, gaan reg wees nie, maar dit moet jou nie verhoed om te probeer nie! Pak die skottelgoedmasjien, dra roosterbrood met marmite vir jou vrou aan en leer om tee te maak soos sy daarvan hou. En vrá haar wat jy vir haar kan doen. Jy is dalk baie trots op jouself dat jy die bed skoon oorgetrek het, terwyl al waarna sy smag ‘n warm bad is – en jy wat die kleinding vir ‘n halfuur sal versorg. Hou ook jou verwagtinge in dié tyd laag en wees geduldig as dit by seks kom.
Vraag nommer 2: “Wie is hierdie vrou wat langs my slaap en wat het julle met my vrou gemaak!”
Jou vrou was altyd jou rots. Sy was agtermekaar, goed versorg en ontspanne. Maar sedert die koms van jul eersteling, deel jy jou huis met ‘n vreemdeling! Sy vergeet belangrike afsprake, sy loop drie dae in dieselfde klere rond en sy is paranoïes soos kan kom (Eerlikwaar, wie het drié monitors nodig?!) Sy huil in flieks waarvoor julle eens op ‘n tyd gelag het en sy is obsessief oor roetine (dieselfde vrou wat roereiers vir aandete gemaak het en oor ‘n naweek saam met jou sou slaap tot tienuur!) Jy het gedink julle is op dieselfde bladsy wat ouerskap aanbetref, maar skielik sê jou vrou goed soos: “Selfs die plathand is kindermishandeling” en “Ons kind kan uit ons kamer trek wanneer hy skool toe gaan…”
Antwoord: Dit is moeilik om te voorspel watter tipe ouer jy gaan wees, voor die kroos daar is en voor jy tot die uiterste beproef is. Menige ouer wat gekant was teen slaap-onderrig het ingegee na ‘n week sonder slaap. En skielik, noudat jy ‘n tranedal teen ‘n sitkamer vol speelgoed moet opweeg, lyk laasgenoemde nie meer na so ‘n slegte scenario nie.
As dit kom by jou vrou, sy het ‘n ma geword. Skielik is daar ‘n hulpelose klein mensie wat al haar aandag verg en is kindermishandeling, wiegiedood en jul baba se gewig ‘n realiteit wat allerlei nuwe vrese by haar skep. As jy eerlik is met jouself, sal jy erken dat jy ook verander het. Waar jy voorheen niks daarvan sou dink om ‘n nuwe motorfiets te koop nie, voel jy die verantwoordelikheid van voorsiener swaar op jou skouers rus.
As jy voel jou maat tree onredelik op, gesels openlik daaroor. Doen wat jy kan om haar/sy druk te verlig en ruim enige misverstande uit die weg. Onthou, dit is ‘n onbekende terrein en julle moet nou in die donker tas om te kom by ‘n plek wat vir julle albei gaan werk. Onthou ook, sover dit slaap- en eetgewoontes aangaan, het elke skrywer, vriendin of familielid verskillende menings. Kry een persoon wie se opinie julle vertrou (soos jul pediater of borsvoedingskonsultant) en volg dié persoon se aanbevelings.
Vraag nommer 3: Gaan ons óóit weer seks hê?
Jy voel onaantreklik. Jou lyf is nog nie heeltemal joune nie (al het jy die ses weke go-ahead gekry) en jy sit met ‘n hele paar ongewenste kilogramme. Boonop is jy móég. Jy weet nie hoe lank jou maat nog geduldig gaan wees nie, maar jy sien ook nie kans vir matras-aksie nie. Wat as die baba wakker word? Wat as julle hom nie hoor nie? Wat as jou borste vir ewig bly hang? En wat as jou maat afgesit word deur jou keisersnit-letsel?
Antwoord: Wat as jy so obsessief raak oor al die ‘wat asse’ dat jy nie die mooi in jul situasie raaksien nie? Julle het saam ‘n wonderwerkie geskep. En dit het gebeur danksy seks! Jul baba is ‘n produk van julle liefde, so natuurlik sal hierdie liefde oorwin. Dit is heeltemal natuurlik vir ‘n ma om goor te voel oor haar lyf. Dit is net Hollywood celebs wat na ses weke weer in tip top shape is.
Eet gesond (genoeg) en raak aan die beweeg (wanneer jy kans sien) en daar sal weer ‘n dag kom wat jy goed voel oor jou lyf. Hou in gedagte dat jou maat ook respek het vir die wonderlike opoffering wat jy gemaak het om ‘n baba vir nege maande te dra, geboorte te skenk en te versorg met jou laatste greintjie energie. Baie paartjies getuig dat dit hulle juis náder aan mekaar gebring het – ook op ‘n fisieke vlak! Jy dink jou borste hang, maar manlief kan jou nuwe, groter borsmaat nie weerstaan nie… jy voel dalk onaantreklik, terwyl jou maat jou nuwe deernis met jul baba en jou onselfsugtigheid onweerstaanbaar vind!
Moenie te veel druk op jouself plaas nie. Gee jouself tyd, maar moenie dat die baba ‘n verskoning raak wat in die pad staan van ‘n gesonde sekslewe nie. Sodra die kleinding bietjie ouer is, maak weer van jul slaapkamer ‘n romantiese sone deur kinderspeelgoed te verwyder en baba-tydskrifte weg te bêre.
Meneer, jou vrou voel nie te hot nie. En deel van jou taak, is om haar weer soos ‘n vróú te laat voel. Wees geduldig met die selfbeeldkwessies waarmee sy dalk nou kan worstel en herinner haar steeds hoe sexy sy vir jou is. Onthou, hoe meer jy haar uithelp met die baba, hoe meer tyd gaan sy vir haarself en gevolglik ook vir jou hê. Bespreek vir haar ‘n massering, koop vir haar mooi onderklere (sonder gespes vir borsvoeding!) en respekteer die fisieke spasie wat sy soms nodig het (onthou jul tweejarige het dalk heeldag aan haar gehang en jul pasgeborene wou heeldag aan haar drink!). En wanneer julle dinge weer volstoom hervat het, raak kreatief met tye en plekke en quickies!
Vraag nommer 4: Gaan ons ooit weer ‘n gesprek kan hê wat níé oor die klein krokodilletjies gaan nie?
Die enigste literatuur waaraan jy deesdae blootgestel word, is kleuterrympies. Die enigste musiek waarop jy kan saamsing, is dié van Carike en Ghoempie en die enigste aktuele nuus waarvan jy bewus is, is dit wat jy per toeval raak google in jou soektog na “teething symptoms”. Jy voel oninteressant en kan nie eers meer ‘n behoorlike gesprek voer nie. In jou stilligheid droom jy oor die tyd toe jy en jou maat nagte om kon debatteer oor politieke situasies, saam kon beplan aan oorsese reise en mekaar se psige kon ontdek. En jy wonder: Gaan julle ooit weer couple tyd kan hê, of is dit nou vir ewig verby?
Antwoord: Kom ons wees heeltemal eerlik. Jy gaan nooit weer sóveel couple tyd hê soos voorheen nie, en selfs na jul kinders die nes verlaat het, gaan hulle steeds ‘n groot onderwerp van bespreking bly. Maar nie omdat julle oor hulle gaan móét gesels nie, bloot omdat julle dit gaan wíl doen. Van nou af is hulle ‘n baie groot deel van wie julle is en waarvoor julle bestaan. Julle gaan ook nooit weer soveel alleentyd hê nie (want as jou huwelik vir jou belangrik is, gaan couple tyd en gesinstyd meerendeels vóór eietyd kom). Dit is ook belangrik vir julle om as individue te bly groei, maar julle gaan mekaar se hulp nodig hê om dit te doen.
Nuwe mamma, as jy voorheen gewerk het en nou ‘n voltydse ma is, gaan jy waarskynlik ‘n behoefte aan stimulasie van buite af hê en gaan dit vir jou belangrik wees om by ‘n mamma-en-baba groep aan te sluit (net vir die kontak met ander grootmense) en later jou kind soms by ‘n baba-oppasser of skooltjie te los om weer met vriendinne of kollegas kontak te maak. Jy gaan nie sommer gou tyd kry vir insiggewende boeke of koerante nie, maar jy kan altyd na goeie podcasts op jou selfoon luister terwyl jy met jou baba speel, doek ruil of bottels voorberei. En hoewel jy waarskynlik jou maat soveel as moontlik by jou sal wil hê omdat jy kloustrofobies kan begin voel om heeldag by die huis met jou baba te wees (veral in die eerste maande), laat jou maat ook toe om tyd op sy eie te bestee. Dit is gesond vir beide van julle.
As julle nog nie ‘n gewoonte van date night gemaak het nie, is nou die tyd om dit te doen. En ook om tydens (baie goed voorafbeplande) date nights ‘n doelbewuste poging aan te wend om nie oor die kroos te gesels nie. Hou dinge opwindend! Maak tyd vir stimulerende aktiwiteite soos om soms saam teater toe te gaan, by vriende te kuier of seminare by te woon as julle ‘n behoefte het daaraan. Julle nuwe normaal sal dalk anders lyk as voorheen, maar dit hoef nie noodwendig minder lekker te wees nie! Dit is belangrik om jul vriendskapsverhouding op dreef te hou en steeds te gesels, te lag en pret te hê.
Vraag nommer 5: Gaan ek ‘n plaatjie moet kry vir tandekners wanneer my skoonmonsters kom kuier?
Jou skoonma stap by die deur in en praat in ‘n babastem met jou drie-maandoue baba: “Hoe lyk my kind so maer? Gee mamma jou nie behoorlik kos nie? In mý jare was daar nie so ‘n ding soos formulemelk nie, jy móés maar net deurdruk met die bors… ” Jy maak of jy dit nie hoor nie. En jou skoonpa laat hoor: “Wanneer gaan julle aansoek doen vir sy toelating by Grey’s College?” Jy wag vir manlief om sy ouers op hul plek te soek, maar hy begin ewe driftig deelneem aan die gesprek en jy sidder as jy dink aan wat voorlê! Is dit hoe dit nou gaan wees?
Antwoord: Net jy kan hierdie een antwoord. Eerstens: As jy geboorte gegee het aan hul eerste kleinkind, mag jy dalk meer kwessies as normaalweg in dié verband moet trotseer. Jou kind is immers hul bloed ook! En baie grootouers eien hulself die reg om die onervare jong ouers ‘n bietjie ‘reg te help’.
Die waarde wat hulle in jou kind se lewe gaan speel, is onskatbaar. As betrokke grootouers kan hulle ook vir julle die proses van kinders grootmaak baie makliker maak. Jou man is ook waarskynlik opgewonde om te sien wat die koms van jul baba in sy ouers se lewens beteken het. (En in sy oë is jou ouers dalk ‘n uitdaging). So, as jy geneig is om oorsensitief te wees, wees sterk. Dit is egter ook baie belangrik om grense daar te stel. Die feit dat hul kleinkind in jul huis grootword, gee hulle nie die reg om enige tyd van die dag onbepland daar op te daag nie. Ook nie om in te meng sover dit jul ouerskap-styl en -keuses aangaan nie.
Speel oop kaarte met jou maat en sê wat jou pla. As hoof van die huis moet hy reguit met sy ouers kan praat, meen Gayle Peterson, gesinsterapeut en outeur van Making Healthy Families. Hy ken hulle ook beter en weet hoe om die boodskap reg oor te dra. Van jou kant af, doen soveel jy kan om hulle betrokke te laat voel. Stuur foto’s en boodskappe en betrek hulle by groot gebuertenisse soos jou kind se doop en verjaardae. Jou maat sal dit waardeer en as jul kant skoon is, is daar geen rede vir konflik met enige ouerpaar of met mekaar nie.
Vraag nommer 6: Gaan geldsake van nou af altyd ‘n sensitiewe saak wees?
Vraag: Voor die koms van baba was jy gewoond daaraan om jou eie salaris te verdien. Nooit hoef jy jou man vir ‘n sent gevra het nie. Dit was egter vir julle albei belangrik om voltyds daar te wees vir die kinders en die ooreenkoms was dat jy sou ophou werk sodra die eerste baba kom. Die enigste dilemma is nou dat manlief nie ‘n idee het hoeveel uitgawes ‘n nuwe baba te weeg bring nie. Jy haat dit om jouself te regverdig en dit is skielik asof julle geld het vir niks! Jy mis ‘n vakansie…
Antwoord: Die koms van kinders kan baie geldkwessies na die oppervlak bring. Skielik moet julle mekaar in ag neem as dit kom by besteding. Julle het ‘n kind wat julle moet versorg en waarvoor julle ‘n toekoms moet verseker. En julle het nou net een inkomste waaruit dit alles moet gebeur.
Dit kan baie stremming op jul verhouding plaas. Waar jy gewoonlik koningin van jou eie finansies was, moet jy dit nou rapporteer. Jy voel skuldig oor elke sent wat jy bestee en julle is krapperig met mekaar.
Julle moet moeilike keuses maak. Die duur kleuterskool of ‘n nuwe voertuig? En dit gaan goeie konflikhantering strategieë en geduld verg. Dit is belangrik om te onthou dat julle sag met mekaar moet werk. Benader konfliksituasies versigtiger as voorheen – omdat julle onder spanning is en heel waarskynlik doodmoeg, is kwessies soos dié ‘n tydbom wat wag om te ontplof. Hanteer ‘n situasie soos ‘n geldkwessie vóór dit in ‘n reuse-dilemma ontaard en wees te alle tye deursigtig wat jul besteding aanbetref.
Laastens: Moenie die krag van gebed onderskat nie. Julle kan beslis nie kinders grootmaak op jul eie nie! Krag en wysheid gaan gereelde temas op jou gebed-lysie word. Dit is ‘n uitdaging, ja, maar dis ook een van die wonderlikste avonture wat julle ooit sal onderneem. Moenie in soveel spanning leef dat julle die lekkertes heeltemal miskyk nie.
Soms is die enigste manier om ‘n moeilike ouerskap situasie te hanteer, om diep asem te haal, met jou maat oogkontak te maak en uit jou maag te lag!
Addisionele bronne: parents.com; gottman.com